DA wil MRK toe oor Sassa-probleme

(Argieffoto)

Die DA wil nou die Menseregtekommissie (MRK) nader oor die voortslepende stryd wat behoeftige  mense het om hul maatskaplike toelaes in die hande te kry.

Volgens die amptelike opposisieparty is dit ʼn opdraande stryd vir behoeftige mense om hierdie broodnodige toelaes te kry, aangesien die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se stelsel gedurig aflyn is. Boonop sluit die punte waar die toelaes afgehaal moet word een na die ander hul deure.

Die minister van sosiale ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het onlangs in ʼn parlementêre vraag van die DA onthul dat die Sassa-stelsel landwyd minstens 119 kere buitewerking was tussen Mei verlede jaar en Maart vanjaar.

“Dit beteken dat die stelsel ʼn gemiddeld van tien keer per maand buitewerking is,” sê Bridget Masango, DA woordvoerder van sosiale ontwikkeling.

Hierdie sogenaamde ineenstortings is glo weens beurtkrag, onbeplande elektrisiteitsonderbrekings en netwerk- of bedienerfoute. Die tyd wat hierdie stelsel nie werk nie duur dikwels tussen drie tot ses uur.

“Nog ʼn groot oorsaak dat die stelsel voortdurend aflyn is, is die nasionale bekendstelling van die biometriese stelsel wat die transaksies verifieer.”

Zulu het verder onthul dat daar altesaam 51 poskantore, wat die voorgeskrewe uitbetalingspunt is, oor die afgelope twee jaar toegemaak het.

“Sassa se stelsel wat voortdurend aflyn is, tesame met die grootskaalse sluiting van poskantoorbetaalpunte beperk miljoene kwesbare Suid-Afrikaners om toegang tot hul maatskaplike toelaes te kry,” sê Masango.

“Hierdie toelaes is dikwels hul enigste manier om vir hul gesinne te voorsien, daarom moet daar dringend ingegryp word om aandag te gee aan die situasie.”

Masango meen dat die departement daarin faal om sy mandaat na te kom om kinders, bejaardes en mense met gestremdhede te beskerm, aangesien hy nie ʼn betroubare diens kan lewer nie.

Die DA sal nou ʼn skrywe aan die MRK rig sodat die situasie breedvoerig aandag kan kry.

“Die MRK moet dringend ingryp deur te monitor hoe Sassa te werk gaan om toelaes stiptelik uit te betaal. Kwesbare burgers moet onder vernederende toestande aansoek doen vir hul toelaes, terwyl hulle ook ure lank in alle weerstoestande in lange toue moet staan.

“Die departement se mislukking om toelaes op ʼn effektiewe wyse uit te betaal moet ook as ʼn skending van menseregte bestempel word.”

Volgens Masango is nou die tyd vir die departement om maatreëls in te stel om die probleme om toelaes by burgers te kry hok te slaan.

“Suid-Afrika se kwesbaarste burgers het lank genoeg onder sulke vernedering deurgeloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

melaney ·

Daar is twee maniere wat moontlik kan werk
1. Betaal dit in ‘n bankrekening in waar geen bankkostes gevra word nie.
2. Laat mense toe om hulle kaart by alle verkoopspunte te gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.