DA wil Multichoice se verslag oor ANN7 sien

Phumzile van Damme. Foto: Facebook

Die Demokratiese Alliansie het Vrydag gesê hy het Multichoice versoek om die volledige verslag beskikbaar te maak wat gebruik is as basis om nie die kontrak met ANN7 te hernu nie.

Calvo Mawela, uitvoerende hoof van Multichoice, het vandeesweek gesê die kontrak met ANN7, wat voorheen deur die Guptas besit is, sal nie hernu word wanneer dit op 20 Augustus verstryk nie. Mawela het gesê die aankondiging bied aan ANN7 se personeel genoeg tyd om voorbereidings te tref wanneer die kanaal van DStv verwyder word.

Hy het gesê alhoewel Multichoice “foute gemaak” het in sy onderhandelinge met ANN7, het ʼn interne ondersoek bevind dat daar geen bewyse is van korrupsie nie.

Mzwanele Manyi het onlangs die kanaal by die omstrede Gupta-familie oorgekoop. Die Gupta-broers, Ajay, Atul en Rajesh, wat noue bande het met pres. Jacob Zuma, word deur owerhede ondersoek vir hul rol in staatskaping. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle onbehoorlik invloed uitgeoefen het op staatsamptenare om winsgewende tenders los te slaan.

Mawela het na die versuim om ʼn toewydingsverslag saam te stel en “reputasieskade” verwys as redes waarom Multichoice nie sy kontrak met ANN7 hernu nie.

Phumzile van Damme, DA-LP, het Vrydag gesê haar party het vandag ʼn aansoek by Multichoice ingedien kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) om die volledige verslag te versoek wat gebruik is om die kontrak met ANN7 te beëindig.

“Die verslag wat deur Multichoice se oudit- en risikokomitee saamgestel is, moet aan die publiek beskikbaar gemaak word in die belang van openheid en deursigtigheid en veral om die volledige besonderhede aan die lig te bring oor die betalings wat gemaak is,” het Van Damme bygevoeg.

Sy het gesê die publiek verdien “die volle waarheid”.

“Multichoice se perskonferensie het meer vrae laat ontstaan as wat dit antwoorde gebied het. As Multichoice niks het om weg te steek nie, dan sal die maatskappy dié dokument beskikbaar maak. Slegs die waarheid sal Multichoice van dié gemors red. Ons moet weet watter ‘foute’ gemaak is, waarom niemand aanspreeklik gehou word nie en of die geld van DStv-intekenaars gebruik is om die Guptas se sakke te vul.”

Daar is gerugte dat Multichoice miljoene betaal het as “vooruitbetaling” aan die Guptas om regeringsbeleid te beïnvloed oor die vertraging van digitale migrasie – iets wat Mawela ontken het.

Van Damme het egter gesê dis duidelik dat Multichoice tot dusver geweier het om die verslag beskikbaar te maak.

“Die DA maak nou staat op die wet om die maatskappy oor te haal om dit te doen. Die DA het die Paia-aansoek ingedien.”

Sy het gesê die DA wag op ʼn reaksie van Multichoice.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Phumzile van Damme is wesenlik ‘n hedendaagse Don Quixote op ‘n holrug donkie met die naam “Populisme”, wat waansinnig storm na watter windmeule ook al hierdie week voor haar rondtol. “Geld van die DSTV intekenaars gebruik is om die Guptas se sakke te vul” is pragtige propaganda maar is blote snert. Dit was eens die intekenaars se geld, waarna dit Multichoice se geld geword het. Mits Multichoice hul wetlike verpligtinge teenoor die fiscus asook die verpligtinge teenoor Media24 aandeelhouers nakom, staan dit Multichoice vry om die maan skelpienk te verf met daardie geld, sou hulle dit goeddink. Die regte plek om sulke besware te opper is by die aandeelhouersvergadering van Media24, maar ongelukkig sal van Damme deur die ander aandeelhouers uitgelag word omdat hul ruim dividende en ‘n stygende aandeelprys die faktore is waarop hulle hierdie transaksie sou beoordeel.

Was enigiets met die Multichoice / ANN7 / SABC transaksie verkeerd? Sekerlik, dit was so na aan staatskaping as waarmee jy ooit mee kan wegkom. En Multichoice het daarmee weggekom, binne twee weke het die regering ‘n 180 grade omkeer op hul beleid gemaak oor dekodeerders, iets wat selfs vir die betrokke minister destyds ‘n ontnugtering was.

Jacques Venter ·

Die ouens wat so getrou Spur boikot, betaal maandeliks meer as R900, vir Multichoice wat weer die Guptas ondersteun

Jacques Venter ·

Casper Labuschabne
Om phumzile as n hedendaagse Don Quixotte uit te skel, is gewoond beledigend.

Miskien is jy nie op hoogte met die goeie werk wat sy doen nie.

My uitdaging aan jou is. Noem asb vir my een suid afrikaanse politikus wat nie n populis is nie.

Dries ·

Wanneer word multichoice goedkoper vir pensionarisse? want hulle is die mense wat die meeste na Multichoice se programme. Kyk na SABS hoe kry die pensionarisse afslag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.