DA wil nasionalisering van Reserwebank beveg

Die Suid Afrikaanse Reserwebank (Foto: AP)

Die DA het Maandag pogings om die Reserwebank te nasionaliseer as ’n “vyandige oorname” bestempel.

Volgens Gwen Ngwenya, beleidshoof van die DA, is dié party gekant teen enige pogings om die bank te nasionaliseer aangesien hulle dit as ’n blatante politieke skuif beskou om die mandaat en bedrywighede van die Reserwebank en die land se bankstelsel as ’n geheel te beïnvloed.

Dit volg nadat Julius Malema, die leier van die EFF, verlede week ’n  wetsontwerp in die parlement ingedien het om die Reserwebank te nasionaliseer.

Volgens die Wysigingswet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal die staat die enigste aandeelhouer van die bank wees, en die minister van finansies sal by magte wees om self direkteure aan te stel.

Volgens Ngwenya is dié poging slegs ’n verkiesingsfoefie waarmee die EFF hoop om die agenda van die regerende ANC te oorheers en homself as die werklike party van linkse kiesers te vestig, ongeag of die wetsontwerp aanvaar word of nie.

Ngwenya glo dat daar ’n botsing van belange sal wees indien die minister van finansies die mag gegee word om direkteure te benoem uit ’n lys van genomineerdes wat deur ’n paneel bevestig is. Sy het Suid-Afrikaners gemaan om daarop te let dat aandeelhouers van die Reserwebank nie belê met die doel om wins te maak nie. “Daar kan geen betekenisvolle openbare belang wees om die Reserwebank te nasionaliseer nie, slegs die bevordering van private politieke belange,” het Ngwenya gesê.

Sy glo dat Suid-Afrikaners reeds verliese weens staatskaping gelei het en nie kan toelaat dat nog ’n moontlike deur vir korrupsie oopgemaak word nie.

“Hierdie wetsontwerp is roekeloos ingedien sonder die nodige omsigtigheid. Die DA is gekant teen enige bedreiging van die onafhanklikheid van die Reserwebank en sal sorg dat die ware gevolge van die wetsontwerp ingedien en bespreek word,” het Ngwenya gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Salamander ·

Dit gaan nie nasionalisering wees nie. Dit gaan neerkom op die totale konfiskasie van aandele. “Without any cost to the Government” beteken eenvoudig dat hulle dit ook gaan vat sonder enige vergoeding van huidige aandeelhouers. Die vraag moet dan wees “wat is volgende?”

Willie ·

Hoekom erken die ANC nie dat Malema aan die hoof staan nie… kry dit oor en verby CR, se vir ons….

DieWaarheid ·

Vat die land, vat die geld, maar vat sal julle nooit die afrikaaner kultuur nie, en dit is om te bou. Miskien, net miskien moet ons egter doen waarvan ons beskuldig en onskuldig skuldig bevind is aan, die land eenvoudig vat. Is daar n ding soos Double Jeopardy?

apie ·

Ek is bly die DA werk teen hierdie soort korrupsie. Dis afgryslik., die koffers is leeg, so hulle tackle nou enige instansie wat spaargeld of gesonde inkomste het

Alida ·

En wat weet baba Malema nogal van sulke gewigtige sake? CR is tog n geleerde man sit die kleuter op sy plek en klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.