DA wil Ramaphosa dwing om twee ministers af te dank

Mmusi Maimane, leier van die DA.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, gee pres. Cyril Ramaphosa twee weke om ministers Bathabile Dlamini (vroue, jeug en gestremdes) en Malusi Gigaba (binnelandse sake) af te dank, anders gaan die DA hof toe.

Dlamini en Gigaba is in afsonderlike hofsake daaraan skuldig bevind dat hulle onder eed gelieg het, maar Ramaphosa behou hulle steeds in sy kabinet, teen volle betaling en met regeringsmagte in hul portefeuljes.

Die konstitusionele hof het gister eenparig bevind Dlamini het onder eed in die hof gelieg om te probeer keer dat sy aan die pen ry weens haar optrede rakende die lonende kontrak om Sassa-welsynsuitbetalings te doen.

Die hof het bevind sy het die Grondwet gedwarsboom, en dat sy 20% van die (uiters omvattende) hofkoste persoonlik uit haar eie sak moet betaal.

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Wat Gigaba betref het regter Neil Tuchten reeds in Februarie in die Noord-Gautengse hooggeregshof bevind dat Gigaba op deurdagte manier onder eed leuens vertel het, en die Grondwet ernstig geskend het.

Die bevinding het verwys na Gigaba se optrede toe hy besluite moes neem oor private internasionale aankomspunte by ʼn lughawe.

Dlamini en Gigaba is twee invloedryke figure in die ANC en was albei heg verbonde aan oudpres. Jacob Zuma. As Ramaphosa vir Dlamini afdank, beteken dit die leier van die ANC-vroueliga is nie meer in die kabinet nie.

Gigaba is op sy beurt ʼn voormalige leier van die ANC-jeugliga en was in ʼn stadium minister van finansies.

Indien Ramaphosa nie die twee ministers afdank nie en die DA vra die hof om hom te verplig om dit te doen, sal dit die eerste keer wees dat die hof gevra sal word om oor ministers se geskiktheid vir hul poste te besluit.

malusi-gigaba-ANA

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake. Foto: ANA

Die algemeen aanvaarde praktyk kragtens art. 91 (2) van die Grondwet was nog altyd dat die aanstel en afdank van ministers die volkome prerogatief van die president is.

Dit beteken dis geheel en al die president se besluit, die president hoef geen redes vir die samestelling en verandering van sy kabinet te gee nie, en ministers het nie die arbeidsregte wat gewoonlik vir die bekleding van poste in die werkplek geld nie.

Maimane het egter uitgewys dat alle regeringshandelinge en -aanstellings slegs geldig is as die hof bevind dat sulke aanstellings rasioneel is. Die DA het al in die verlede sukses in die hof gehad met dié argument, onder meer in 2012 toe die konstitusionele hof die DA gelyk gegee het dat pres. Jacob Zuma se aanstelling van adv. Menzi Simelane as nasionale direkteur van openbare vervolging irrasioneel en dus ongeldig was.

Indien Ramaphosa nie teen volgende Vrydag vir Dlamini en Gigaba afdank nie, sal die DA se argument onder meer op twee punte berus, naamlik dat die twee ministers spesifiek oor hul ministerswerk onder eed gelieg het, en dat die hof boonop (en onverwant tot die meineed) bevind het dat albei ministers spesifiek die Grondwet ernstig geskend het.

Dit is ʼn  regstreekse oortreding is van hul ampseed om die Grondwet te verdedig en te gehoorsaam.

Die presidensie het nog nie op die DA se ultimatum gereageer nie.

Bykomend tot die aandrang op afdanking het die DA ook kriminele klagtes van meineed teen Dlamini ingedien by die polisie, en die party gaan haar by die openbare beskermer aankla van die oortreding van die Wet op die Etiek van die Uitvoerende gesag oor haar rol in die Sassa-debakel.

Die DA het laastens ook kriminele klagte van meineed teen Gigaba ingedien, en hom op ʼn soortgelyke klagte as die een teen Dlamini verkla by die openbare beskermer.

Maimane het gesê Ramaphosa het aangedui dat hy verbind is tot skoon regering, maar dat skoon regering in sy kabinet onmoontlik is solank bewese leuenaars soos Dlamini en Gigaba daarin dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Cherokee ·

Jou lag is heel onvanpas. So min as wat ek van die DA hou, hoop ek hulle slaag daarmee.

JG ·

Die Pres. lieg dan self…dalk moet hy by homself begin as daar afgedank word…

Tokkolos ·

DA wil wat hahaha
Ciril leef in lala land
Jul is maar ook net gatkruipers nes al die ander kaders
Julle bekke is toe oor plaas moorde
My stem sak jul nie kry nie
Maar stem tog saam daai 2 moes nooit aangestel gewees het nie
Maar met CR wat so kan lieg
Sê mos as jy so kan lieg kan jy snot ook eet

Koos ·

Maimane is onnosel. Deur die ding op dié manie te doen, het hy nou veroorsaak dat CR juis NIE van hulle kan ontslae raak nie. Indien hulle nou afgedank word, lyk dit of die ANC die DA se opdragte uitvoer, en dit sal nie geduld word nie.

Koos ·

Die dro .. wil ook n eier te le maar doen niks CR se uitsprake ! Geen stem vir jou of jou f.. up party nie !!!!

zoom zoom ·

Die DA moet maar vir hulle ‘n voltydse kantoor in die hof kry want dit is al plek wat hulle ken. Kan geen besluite maak op hulle eie.

wolla ·

Die DA doen darem iets, meer as wat mens van die ander useless klomp kan sê.

Cherokee ·

Nie werklik ‘n ingeligte kommentaar nie, wolla. Die DA se finansiële state loop oor omdat ‘n magdom blankes wat voorgee konserwatief te wees, by die DA vir regstellende aksie (ens.) stem. Julle kan dit bekostig om jul lede se geld vir soortgelyke te gebruik, terwyl die konserwatiewe partye (lees blanke partye) raap en skraap wanneer die tipe hofsake ter sprake is. By julle soos by die ANC speel getalle die oorwig.

Wonder net ·

As hulle afgedank word is dit weer met ‘n astromiese goue handdruk en ‘n vet pensieon met nog baie voordele.
Wie gaan in die omstandighede kla as jy afgedank word? Is finansieel nie eintlik slegter af nie en kan dan sommer weer by ‘n ander plek begin werk en ook verdien.
Of sit ek die bal nou heeltemal mis?

Cherokee ·

As jy ‘wonder net’, waarom stel jy dit as ‘n feit? Ek kan dit nie bevestig òf weerlê nie maar maak dus nie bewerings nie. Jy kan nie sê hoe dit is en dan vra of jy reg geraai het nie.

Cherokee ·

Stem saam Sieg, maar dit is nie net die DA. Die ANC en EFF is selfs erger!

pikkie ·

da word nou froot vir sy skoene. wil seker met sie ander kinderspan (wees bang ons breek en brand in die land) eff meeding. die paddaman is bang vir die mense waar sal hy vyande bvan hulle maak

Sarel ·

Musi, waarom vir CR tyd gee? Open die saak, waarom tyd mors?
Die saak, indien die SAPD die moed het, kan teen genoemde tyd reeds volledig ondersoek wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.