DA wil rampondersteuning vir Vrystaat-landbou verseker

(Foto: Du Preez de Villiers)

Die DA pleit vir rampondersteuning vir die landboubedryf in die Vrystaat, gegewe die erge hittegolf en droogte wat die bedryf in dié provinsie getref het. Daar is boonop ʼn dreigende gevaar van nog ʼn brandseisoen wat moontlik ʼn herhaling kan beteken van die verwoesting in 2023 as behoorlike voorsorg nie getref word nie.

“Die DA glo dat die regering moet ingryp en ons landboubedryf moet ondersteun,” sê Roy Jankielsohn, die DA se premierskandidaat in die Vrystaat. “Dié bedryf verseker ons voedselsekerheid en lewer ʼn beduidende bydrae tot ons provinsiale BBP en indiensnemingskoers.”

Jankielsohn sê dit is kommerwekkend dat die departement van landbou en landelike ontwikkeling in sy aangepaste begroting ʼn bedrag van R44 miljoen weggeskuif het van rampbestuur, iets wat tans dringend benodig word.

“In die lig hiervan het die DA vrae aan Moses Ketso Makume, die LUR van die departement van menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake gestuur. Ons wil die gereedheid van die departement bepaal om veldbrande en ander rampe te hanteer en bepaal of die departement enige fondse beskikbaar gemaak het om boere by te staan in die geval van veldbrande en ander rampe.”

Die DA het ook bystand versoek van Makume en die LUR van die departement van landbou vir die landboubedryf.

“Ons het ook ʼn kwessie in ʼn sitting van die Vrystaatse wetgewer aangeroer sodat die LUR kan verduidelik hoe hulle opkomende, bestaans- en handelsboere gaan ondersteun tydens natuurlike rampe soos droogte en die brandseisoen wanneer hulp dringend benodig word.”

Jankielsohn sê die Vrystaat lewer ʼn groot bydrae tot die Suid-Afrikaanse landbouekonomie. “Ons boere bly nasionale bates wat kos produseer en voedselsekerheid verseker aan ons land in uiters negatiewe omstandighede. Die DA sal bly veg om seker te maak dat die landboubedryf en voedselsekerheid te alle koste beskerm word en dat boere die nodige ondersteun ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.