DA wil strafregtelike klagte indien oor suur in Nylrivier

Die vragmotor nadat dit omgeslaan het. Foto: Facebook

Die vragmotor nadat dit omgeslaan het. Foto: Facebook

Die Demokratiese Alliansie (DA) gaan strafregtelike klagte indien nadat ʼn vragmotorongeluk veroorsaak het dat swaelsuur in die Nylrivier buite Modimolle (Nylstroom) geloop het.

Steven Mbedzi, woordvoerder van die DA in Limpopo, het aan Maroela Media gesê volgens ooggetuies is duisende visse reeds dood, asook ander wild wat met die water in aanraking gekom het. “Swaelsuur is uiters giftig en ons is bevrees dat nog visse sal vrek weens die besoedeling van die water. Dit is ʼn baie ernstige situasie wat omgewingsbewaring betref.”

Die swaelsuur het in die rivier beland toe ʼn vragmotor wat glo 28 000 liter van die suur vervoer het, die afgelope naweek in Modimolle omgeslaan het. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Die water uit die Nylrivier word nie deur inwoners van Nylstroom gebruik nie, maar wel in arm gebiede deur inwoners uit die rivier geskep vir huishoudelike gebruik, het Mbedzi gesê. “In ʼn provinsie waarvan 80% ʼn plattelandse gebied is, is dit te wagte dat water uit die rivier deur mense gebruik sal word vir wasgoed was, en so meer. Soos ek verstaan, sal daar nie eers tyd wees om ʼn hospitaal te bel indien jy van die swaelsuur inkry nie. Die persoon sal op die plek dood wees. Ons hoop dat ons nie binnekort ʼn aanmelding van iemand se dood sal ontvang nie.”

Volgens Mbedzi dring die party daarop aan dat die bestuurder van die vragmotor strafregtelik vervolg word, aangesien hy nie die nodige goedkeuring, lisensie of versekering gehad het om die suur te vervoer nie.

Patrick Shika, woordvoerder van die Modimolle plaaslike munisipaliteit, het gesê daar is wel ʼn maatskappy aangestel wat sedert Maandag besig is om die rivier skoon te maak. Shika het verdere navrae na die woordvoerder van die provinsiale departement van waterwese verwys. Die departement kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joe64 ·

Die DA moet asb nie my belasting geld mors op die vervolging van die bestuurder nie. Die oorsaak moet opgevolg word tot by die oorsaak, en dit vervolg asb. Die drywer van die voertuig is heel waarskynlik ‘n voorheen agtergeblewene wat steed nie toegelaat word om op te vang nie agv.sy regering wat hom onderdruk en kundigheid opsetlik van hom weerhou. daar word verskillende manier gebruik om dit te doen, vind dit, en vervolg dit.

Michelle cronje ·

Gaan loer op OutThere24 se fb blad vir die video van die ongeluk. Ons Cctv kameras het dit opgeneem

jennefer ·

Nou net n Whats Up boodskap van ons groep ontvang, dit vra boere wat op Modimolle dorp is ,om na bogenoemde toneel te gaan want die maatskappy wat die rivier moet skoonmaak het opgepak, want hulle word nie betaal nie. Die ANC vergader op toneel, maar dit lyk of die saak in die doofpot gesit gaan word.

Henrietta Klaasing ·

Lorries hoef hier nie eers om te val nie – – jare gelede het 50/50 al berig oor hoe die visse in die Loskopdam en Olifantsrivier vrek van weë verskillende soorte gifstowwe in die Olifants. Daar word vermoed dat die eerlike beriggewing die rede was waarom die hele struktuur van 50/50 verander het…. http://www.orf.co.za/FKFAQ.html

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.