DA wil Zuma laat vervolg oor Nkandla

Nkandla

Nkandla

Die DA sê hy gaan met stappe begin om president Jacob Zuma te laat vervolg nadat die openbare beskermer vandag haar finale verslag oor Nkandla beskikbaar gestel het.

Die DA het die bevindinge in Thuli Madonsela, openbare beskemer, se verslag dat Zuma en sy familie onbehoorlik bevoordeel is deur die opgraderings van R246 miljoen by sy privaathuis in Nkandla, verwelkom. “Gegewe die verdoemende bevindings sal ek ʼn formele versoek by die speaker, Max Sisulu, indien om die nasionale vergadering as ʼn saak van erns te herroep om met stappe te begin om president Zuma te vervolg in terme van Artikel 89 van die grondwet van Suid-Afrika,” het Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, in ʼn verklaring gesê. “Vervolging is die korrekte plan van aksie vir hierdie blatante misbruik van openbare geld.”

Die party sê hy neem egter kennis dat daar geen presedent vir die vervolgingsproses is nie. “Dit verwys na die mag van die nasionale vergadering in terme van Artikel 89 van die grondwet om ʼn president uit sy amp te verwyder indien hy hom skuldig maak aan ʼn ‘ernstige skending van die grondwet of die reg’ of indien daar vermoed word dat hy skuldig is aan ‘ernstige wangedrag’,” het Mazibuko gesê. “Dit is ‘n gepaste straf vir ‘n president wat sy amp vir eie gewin misbruik.” Mazibuko sê hulle verwag dat die ANC gaan probeer om die proses vorentoe te kniehalter.

Die DA sal intussen Woensdag strafregtelike klagte by die Nkandla-polisiekantoor teen pres. Zuma aanhangig maak waarna die party die media voor die president se privaatwoning te woord sal staan.

Die ANC sou Woensdagmiddag kommentaar gelewer het op Madonsela se verslag maar het later aangedui dat hy Donderdagoggend ‘n mediakonferensie sal hou.

Lees Maroela Media se omvattende nuuskommentaar oor die OB se verslag hier.

Lees ook:
Nkandla-verslag vrygestel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willie ·

Die DA wil Zuma laat vervolg !!
Net nog ‘n politiese siek grap, met watter regsstelsel nogal ? In hierdie piesangrepubliek ? Vergeet dit. Reg en geregtigheid bestaan net Bybels, nie in hierdie beleerde land nie

Stephan ·

100% ondersteuning, kry die man ini hof dit is so nodig om die land se mense bewus te maak van die tipe gedrag van die sogenaamde regerende party.
Dit is moeilik om te verstaan hoe enige persoon wat nie verstandiglik vertraag is nie nog steeds vir so party kan stem en ondersteun.
Die selfde optrede vir die korrupte OVK, as hulle nie daar was nie was die anc lankal onder

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.