DA: ‘Zuma skuld taksman dalk miljoene’

President Jacob Zuma Foto: GCIS

President Jacob Zuma Foto: GCIS

Die DA sê president Jacob Zuma skuld die taksman moontlik miljoene rande vir die byvoordele wat hy ontvang het weens die sogenaamde veiligheidsopgraderings by sy privaatwoning in Nkandla.

“Die DA glo dat president Zuma ʼn belastinglas van nagenoeg R16,8 miljoen kan hê weens die byvoordele wat hy volgens ons berekeninge verkry het uit die R246 miljoen van openbare geld wat op sy privaatwoning in Nkandla spandeer is,” het Tim Harris, DA-LP, in ʼn verklaring gesê. Thuli Madonsela, openbare beskermer, het verlede week haar verslag oor Nkandla bekend gemaak waarin daar bevind is dat Zuma en sy familie onbehoorlik by die opgraderings aan sy privaatwoning in Nkandla gebaat het.

Volgens die DA het Madonsela dit duidelik gemaak dat die beeskraal, hoenderhokke, swembad, besoekerssentrum en die amfiteater niks met die veiligheidsopgraderings te doen gehad het nie. Harris sê hoewel Madonsela nie uitdruklik gesê het hoeveel Zuma skuld vir die items wat nie met veiligheid verband hou nie, die DA konserwatief bereken het dat dit sowat R52,8 miljoen is.

Die DA het intussen aan Zuma geskryf en hom versoek om sy “terugbetaalplan in die parlement ter tafel te lê vir die bedrag wat hy skuld sodat dit onderwerp kan word aan openbare insae.” Harris sê indien die bedrae nie terugbetaal word nie kan dit as byvoordele gesien word en moet daar belasting daarop betaal word. Harris sê Zuma se belastinglas kan uitgewerk word deur die waarde van die byvoordele by sy jaarlikse salaris van R2,6 miljoen te voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Coen Groenewald ·

Dan wil die s a r s my as pensionares dagvaar vir 30 duisend seker omdat ek wit is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.