Daar is hulp en hoop vir depressielyers

Argieffoto

Deur: Dr. Renier Labuschagne (Sielkundige en ouderling in Gemeente Sionspoort)

Depressie neem tans wêreldwyd groot afmetings aan en die voorkoms daarvan kan tereg ’n moderne krisis genoem word. In die Suid-Afrikaanse konteks word die voorkoms daarvan op tussen ongeveer 10% en 16% beraam. Dit kom ook toenemend onder kinders voor.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam dat depressie teen 2020 een van die grootste oorsake van verlies aan produktiwiteit sal wees. Daar is drie groepe gemoedsteurings, maar hier word slegs op die major depressiewe siekte gefokus.

Depressie is ’n siekte van die brein. Die direkte oorsaak daarvan is ’n wanbalans in die neuro-oordragstowwe (serotonien, noradrenalien en dopamien) van die brein. Omdat die chemiese oordrag van boodskappe tussen neurone belemmer word, kan simptome van depressie ontstaan. Depressielyers het moontlik ’n oorerflike kwesbaarheid om hierdie chemiese wanbalans te ontwikkel.

Sielkundige en sosiale faktore kan snellers wees. Die grootste sneller in depressie is erge stres en trauma.

Ander moontlike snellers is byvoorbeeld verlies by die dood van ’n geliefde, egskeiding, gesinskonflik, en die politieke en ekonomiese klimaat. Enige persoon kan onder sekere omstandighede depressie ontwikkel.

Sommige mense is egter meer kwesbaar, byvoorbeeld diegene met ’n familiegeskiedenis van depressie, dié wat al vroeër episodes van depressie beleef het, vroue (tot selfs twee keer meer as mans), ouer persone (65+), mense wat baie stres beleef het, en persone wat alkohol misbruik of dwelms gebruik.

Dit is normaal dat ’n mens soms ietwat neerslagtig voel, solank die gevoel nie vir lank duur nie en ook nie so erg is dat dit jou persoonlike en sosiale lewe en werk nadelig raak nie. Depressie is egter ’n siekte wat nie net ’n vorm van neerslagtigheid is nie. Dit affekteer elke aspek van die lyer se bestaan en menigmaal ook die lewens van diegene wat naby aan hulle leef. Geen mens wat self nog nie depressie ervaar het, kan beskryf hoe ’n depressiewe persoon voel nie.

Wanneer ’n persoon bewus raak van die simptome van depressie, moet daar spoedig hulp gesoek word by verkieslik ’n professionele persoon (’n mediese dokter, sielkundige of psigiater). Dit is belangrik dat die regte diagnose gemaak word en dat die regte behandeling gevolg word. Die mediese dokter en psigiater kan medikasie voorskryf, maar dit is gewoonlik beter om ’n multiprofessionele benadering te volg waar die sielkundige ook betrek word. Dié hulpverlening staan bekend as psigoterapie. Dit is ’n wetenskaplike wyse van hulpverlening wat ten doel het om die simptome van depressie te verlig of om dit, met die gebruik van medikasie, selfs uit te skakel.

Enkele van die simptome wat by ’n major depressiewe versteuring kan voorkom, is bedrukte gemoed, belangstellings wat afneem, slaappatrone wat verander, moegheid en lusteloosheid, gevoelens van waardeloosheid, selfverwyt, gebrekkige kommunikasie, en gedagtes oor die dood of selfdood.

’n Groot aantal depressiewe mense kry nooit hulp van enige aard nie. Een moontlike rede is omdat daar ’n stigma aan depressie kleef en nie maklik daaroor gepraat word nie. Depressiewe mense is nie swakkelinge wat nie die lewe in die oë kan kyk nie. Daar is verder heeltemal te veel mites rondom depressie wat aanmelding en behandeling kan verhoed – byvoorbeeld dat depressie ’n straf vir sonde is.

Depressie is ’n (baie ernstige) siekte en hoe gouer dit behandel word, hoe beter. As ’n persoon een episode van depressie beleef het, is daar ’n groter moontlikheid dat hy of sy meer episodes kan beleef.

Die Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep (SADAG) se 24 uur-noodnommer kan tolvry geskakel word by 0800 567 567 (SMS 31393). Predikante behoort aangemoedig te word om van die Algemene Kommissie se Welstandsprogram gebruik te maak. Daar is hulp en daar is hoop!

Bron: Blitspos – Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

zoom zoom ·

Ja daar is hulp beskikbaar maar teen ‘n koste wat almal nie kan bekostig. Medikasie is ook duur.

Jorrie ·

Ek stem. Die mediese fonds (eks by discovery) is heeltemaal te slim vir ons gewone ouens so dan eindig jy met die betaal vir peperduur medikasie uit jou sak. Die ander ding is dat die mediese wetenskap nog nie ver genoeg ontwikkel is om dmv van n toets vas te stel presies wat jou unieke chemiese wanbalans is nie. So dis maar mik en tref vir n lang tyd voor jy agter kom wat van die hordes medikasie vir jou werk – baie mense gee op voor die regte medikasie vir hulle gevind word. Maar een ding is seker: depressie (soos diabetes) se behandeling is nie NET medikasie nie – dis ook leefstyl. Maw eet gesond, slaap genoeg, oefen genoeg en leef naby Die Here as jy regtig wil beter word.

dries ·

Geen lid van die mediese span, sal Ooit di langtermyn gevolge van depro-medikasie aan n pasient verduidelik nie…
Lees die biljette DEEGLIK. Daar is al meer bewyse dat langdurige gebruik, demensie en alzheimer tot gevolg het. Vraag is, wat anders?

Eish ·

Lees deur die kommentare van nuusberigte.
Omtrend elke insident in die helhool is n sneller.

Dayan ·

Ek het 7 dele van my brein ernstig beseer in ‘n kop aan kop botsing in 1993. In 1997 het ek my brein teruggeneem uit psigiaters se hande en myself simpel geoefen vir 18 maande lank. Ek was toe in so ‘n goeie toestand dat ek ander breinbeseerde, met groot sukses, by ‘n groot staatshospitaal kon help. Ek gebruik geen medikasie vir die beserings nie, want my wil en geloof dra my deur. Positiewe mens met ‘n sterk wil, KAN genees.

Magriet ·

Ek is een van die suksesverhale. Daar is hulp. Een van die belangrikste besluite wat ek geneem het was dat ek nie so wil lewe nie en dat ek ‘n kwaliteit lewe geniet. Nou na nege jaar nadat ek die diagnose gekry het, is mense geskok om te hoor ek is n depressielyer want ek is dan so “normaal”. Claim your life back!

marlene ·

Ek stem Magriet.
Eks ook ‘n depressielyer op medikasie. Ek dink baie het ook te doen met positiewe denke, 24/7.

Danie ·

Rick ek stem ook 100% saam met jou. Depressie word met medikasie onderdruk maar nie genees nie. Persone met depressie kan totaal daarvan genees word. Ek is nie seker of ek my kontak besonderhede hier op kommentaar mag plaas, sodat mense my kan kontak vir inligting hoe om totaal van depressie genees en verlos te kan raak.

Riena ·

Ek is `n sterk voorstaander van gesond leef. Maar dit is makliker gese as gedaan. Hoe lyk gesond leef? Raak ontslae van suiker, los brood uit. Brood maak moeg! Eet liewers eiers en aartappelslaai byvoorbeeld. Magnesium en sink is algemene tekorte. Toets jou vitamien D vlakke en stel dit reg indien dit laag is. Herstel die dermgesondheid deur gefermenteerde kosse soos rou jogurt en egte suurkool te eet.
Hierdie is maar net `n paar wenke wat baie waarde het.

John ·

Van die groot faktore is min oefening en rus (te veel inligting/impulse vir die brein blyk ook skadelik te wees), ongesonde eetgewoontes, swak gehalte kos voeg daarby chemikaliee en gifstowwe wat ons daagliks inneem soos sigaretrook en besoedelde lug. Ons eet nuwe generasie grane, oa gm-produkte, min groentes (nie pampoen, spinasie, kool), nie botter nie, drink kola en chloorwater. Magnesium, yster en kalsium is oa nodig vir hormone so ook ander mikro-stowwe. ‘n Gesonde maagwand/dermkanaal is krities. Ons moet terugbeweeg na eenvoudige natuurlike eet- en leefgewoontes en bowe al ons Christelike geloof in ere herstel. Baie min dokters vra aan pasiente of hul kerktoe gaan, Bybel lees, bid. Goeie familiebande/ondersteuning is nodig. Jongmans met slegte verhoudings met veral hul pa’s verval volgens navorsing dikwels in ‘n langdurige depressie. Hierdie vorige-generasie-pa’s is dikwels welaf, dominerend, verstaan nie die probleme van die jonger geslag nie en voer ‘n sadistiese meerwaardige heerskappy. Daaglikse groot dosisse gesonde kasterolie is vir sulke wrede ouers aan te beveel… en as dit nie help nie….

eks-depressie lyer ·

ek het vir jare aan depressie gely tot ek by n homeopaat uitgekom het wat my behandel het vir n swak lewer wat bleikbaar gekom het van medisyne wat n dokter my voorgeskryf het .
ek lei nou al jare n normale lewe , so as jy depressie het kyk heel eerste na die toestand van jou lewer want dit is gewoonlik die werklike probleem

Goggatjie ·

Ek is ook gediagnoseer met Major Depression en was aan en af op medikasie, want dit het net nie vir my gewerk nie. Anti-depressante maak my oorgewig en gee vir my selfmoord neigings. Al wat vir MY gewerk het is om te gaan draf/oefen, gesond te eet en die belangrikste: BLY BESIG! Ook het ek gevind dis die beste om toepstil daaroor te bly WANT sodra jou werkgewers, kolegas, familie en vriende daarvan weet word jy behandel soos ‘n “gogga”. Al HUL eie swakhede word op jou geprojekteer en stel hul nie belang om te werk aan ‘n werksverhouding, vriendskapsverhouding of watookal nie, want EK is mos die “malle”. Ongelukkig kan mens nie net stilbly nie, want opkrop is ongesond, ek het net geleer wie om te vertrou, al is dit net EEN persoon, maar ek hou nogsteeds my ware gevoelens terug. Elkeen van ons het tenminste een “plesiertjie” wat ons geniet – doen daardie plesiertjie ten volle! Ek het stukke beter gevoel na ek vir kilometers gaan draf het.

E.K. ·

Ek het ongelukkig ook aan erge depressie gely na my seun se dood. Ek het soggens wel opgestaan om vir my man kos te maak en die diere te voer maar sodra hy weg was werk toe,het ek net starend op die bed gaan lê en had glad nie eers krag om my arm te lig, dit was asof iets my bly vasdruk het. Ek het egter besef ek moet net probeer, ek het nog ‘n kind gehad en moes net. Ek het myself gedwing om te begin tuinmaak – ek het bome amper tot in hul wortels gesnoei die arme goed. Ook het ek begin stap, flink sommer net om die blok toe twee en toe meer. As ek verby ‘n mooi tuin gestap het en die eienaar was buite het ek so in die stap geroep wat ‘n pragtige tuin en hul vreugde het my beter laat voel. Ek is nie ‘n kuddedier en was nog nooit en het nie belangstel om in allerhande dinge betrokke te raak wat nie my “pas” nie. SO ek het net al meer en verder gestap en natuurlik al die goeie dinge in my brein vrygesstel. Tuinmaak het al lekkerder geword en ek het op my eie begin welsyndinge doen. As ek gelees het in die koerant van iemand wat swaarkry het ek gehelp en dit het MY gehelp. Natuurlik verdwyn dit nooit heeltemal maar dis onder beheer.

Volg raad ·

Gaan lees oor nadele van medikasie…i sielkundige of dokter is net daar vir jou gemoedsrus, kom self daar uit, hoekom as jy by i sielkundige of dokter was voel jy skielik bietjie beter, en dit hou ook net vir i week, dis i emosionele opsweping, face die lewe medikasie verdoof net daai depresiewe gevoel, vat die lewe nugter aan, staan jou man of vrou, dis net i nuwe ding die depresie. Dis aansteeklik, kry vir jou i stoperdjie dis netso duur soos daai drugs maar doen jou geestes toestand baie beter.

AM ·

Volg raad, ek raak vies vir julle mense wat redeneer soos jy, Ek het depresie geerf en maak nie saak wat ek doen nie, stokpertjies, gesond eet, oefen, besig bly, baie water drink. Ek sien my dokters elke twee maande. Dit is nie ‘n nuwe siekte nie, dit is altyd nog net stil gehou. Gaan google bietjie en raak bietjie meer wys voor jy jou se, se asb. Ek sit al 13 jaar met hierdie siekte en glo my dit is nie grappies nie! Dit is kroniese siekte en gaan deur hel partykeer om dit onderbeheer te bring, maar ek doen dit en sukkel partykeer. Die mense wat hier kommetaar lewer het een of ander stadium dalk aan depressie gely maar dit is nie kronies nie. Daar is baie mense daarbuite wat dit wel kronies het en ons word veroordeel deur mense soos jy

Denise ·

Ek stem Saam met Volg raad . Ek hou myself net besig en omte gaan stap help baie vir my en water te drink netsoos E K en Goggatjie se!!!!!!

christa ·

Ledigheid is ‘n baie groot oorsaak van depressie. Ek is ‘n pensionaris en alleen vir amper 30 jaar, maar het nie een ledige oomblik nie. voor tv sit is nie vir my nie. My tuin en my diere gee my soveel vreugde en snags slaap ek ‘n dooie hou. Saans doen ek handwerk of kralewerk of iets wat my hand vind om te doen. Ek ry elke Sondag 50km kerk toe en my geloof in die Almagtige hou staande.

Christa ·

ek is nie iemand wat die oorerf van siektes glo nie. Neem Jesus aan as jou Verlosser en gee die problem netaan Ons Groot Verlosser en Hy sal die bande verbreek. By Hom is niks onmoontlik nie. ‘n buurvrou van my is ‘n dipressie lyer en glo my sy doen niks bedags nie. Staan 9 uur soggens op, Kyk tv tot 12 uur met koffie en ete. Gaan slaap tot 4 uur. en kyk tv tot 9 uur saans. Geen handwerk, geen boeke lees, niks. Sit net heeldag en dink oor dinge lank verby. Sy kom nooit eers uit die huis of krap in die tuin nie. Dan vertel sy dat sy kan nie snags slaap nie.

hannes marais ·

ek was ook deur helse depressie…op verskillende dokter medikasie..nie gewerk nie…ek het toe natureopath gaan sien.my op vitamines gesit..ek kan vandag met alle eerlikheid getuig dat ek genees is….vir mense wat nie dai duur medikasie kan bekostig nie,net bietjie raad….gaan doen navorsing oor vitaminB3…dis n niacin…dit genees depressie heeltemal…ook beskikbaar by apteke

Goggatjie ·

Hallo AM, ek kan aflei jy het baie swaar en sweer en glo my ek weet waardeer jy gaan en hoekom jy so redeneer want ek is ook ‘n etiket my lewe lank aan die nek gehang daarom bly ek deesdae stil daaroor want mens word wel “snaaks” behandel deur mense wat nie verstaan nie. Ekself is nogsteeds ‘n depressie lyer, dis ook by my ‘n lewenslange “siekte” en ek had baie trauma en het dit ook by my oorlede pa geeerf (wie dood is aan alkoholisme agv depressie).
Ekself baat nie by medikasie nie, dis maar MY ondervinding en ook geen sielkundige of psigiater was vir my die moeite werd nie, maar dis ook MY ondervinding.
As medikasie en konsultasie vir jou help, sal ek nie oordeel nie. Ons almal hier probeer maar net op ONS eie manier dit hanteer en ons ondervinding deel…
Natuurlik is dit nie heeltemal geneesbaar nie, mens kan dit net bestuur en sommige van ons baat daarby om iets plesierigs te doen wat mens laat voel dat die lewe nie so “sleg” is nie…
Sterkte met jou behandeling AM en net soos jy nie geoordeel wil word nie, moet ook nie ander mense hier “oordeel” nie. Vriendelike groete.

NIKSWERD ·

Ek het ‘n maand terug my werk verloor agv personeelvermindering. Weet nie of ek op die randjie van depressie staan nie, maar rerig niks is meer die moeite werd nie. Ek voel nutteloos, hulpeloos, nikswerd nie, ek huil vir alles en wil nie mense sien nie

E.K. ·

Nikswerd – nee, nee nee! Jy is dit werd – God het jou geskape so in SY oë al klaar was dit die moeite werd om jou te skep. Moenie oorgee en opgee glo my dit SAL verander. Kyk jouself waterpas in die oë in die spieël en vertel jouself EK TEL. Asseblief klop aan êrens vir hulp – kyk onderaand die berig is kontakbesonderhede vir hulp. Glo my jy TEL. dit sal verbeter, wys jouself dit kan en gaan. Ek weet my woorde klink dalk leeg nou, ek ken jou nie so wat weet ek maar GLO my asseblief dit sal verander.

Dalene de Vente ·

Dagsê

Dankie vir jou kommentaar. Indien jy depressief voel en graag met iemand wil gesels, is jy welkom om SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) te kontak. Hulle het opgeleide beraders wat jou deurgaans kan bystaan. Kontak hulle hier: 011 234 4837 of 0800 20 50 26 of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

Baie sterkte
Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.