‘Daar is krag in gebed’ sê ma ná slang pik

Pa Lennie en klein Lex (Foto: Verskaf)

Drie weke nadat Lennie Vermeulen (38) en sy 23 maande oue seuntjie, Lex, deur ʼn Mosambiekse spoegkobra op hul plaas, Waterloo, in die Tuli-blok gepik is, is dié twee nou stewig op die herstelpad.

Lennie, sy vrou, Jolandie, en hul tweelingseuntjies kan nou ook uiteindelik weer daarna begin uitsien om as gesin huiswaarts na Botswana te keer.

Sonet Stofberg, familiewoordvoerder, sê die afgelope paar weke was “gepak met trauma, maar dat wonderwerk op wonderwerk” uiteindelik geseëvier het.

Lennie is op 3 Maart uit die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria ontslaan waar hy en Lex onder meer wondbehandeling ontvang het. Hulle het ook hiperbariese suurstofbehandeling by die Life Eugène Marais-hospitaal ontvang. Dit het volgens Stofberg “wondere verrig” vir die twee se herstel.

“Nadat Lennie ontslaan is, het hy dadelik Lex se tweelingboetie, Leo, by sy ouerhuis in Botswana gaan haal. Op 8 Maart is klein Lex ook uiteindelik uit die hospitaal ontslaan. Hoewel Lex nog behandeling ondergaan het, kon al vier gesinslede by Jolandie se ouerhuis in Pretoria bymekaar wees,” sê Stofberg.

Die Vermeulen-gesin (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig klein Lex sou ʼn veloorplanting moes ondergaan sodra die swelling van sy wond gesak het en die dokter met die toestand van die wond tevrede was. Die wond is intussen met ʼn pleister bedek wat met ʼn suig-aksie werk en die wond deurlopend dreineer het.

Net meer as ʼn week gelede was Lex weer in die hospitaal om sy wond te laat skoonmaak en die pleister te ruil. Hierna het die dokters goedkeuring gegee dat daar verlede Woensdag met die veloorplanting voortgegaan kon word.

“Die vel, wat van Lex se bobeen gebruik is, het 75% gevat. Dit is volgens dr. Ehren Eksteen, die plastiese chirurg, baie goed vir hierdie soort wond. Dit was nóg ʼn wonderwerk,” sê Stofberg.

Sy sê Eksteen verwag, danksy die veloorplanting wat so suksesvol was, dat ʼn tweede oorplanting nie nodig gaan wees nie.

Oor die gesin se gemoedstoestand sê ma Jolandie “dit voel asof hulle nou weer kan asemhaal, veral ná die suksesvolle afloop en uitkoms van Lex se veloorplanting”.

Stofberg sê die Vermeulen-gesin is geweldig dankbaar vir almal wat die afgelope drie weke ʼn deurslaggewende rol in hul lewe gespeel het.

“Liesbet Olben, wat al van 2017 deel van die familie is, het ná die insident die slang in die huis gaan soek en hom verwyder.

“Sy was ongetwyfeld die kwaadste oor wat ook met ‘haar kind’ gebeur het. Volgens Jolandie vaar die boeties beter in Setswana as in Afrikaans – alles danksy Liesbet,” sê Stofberg.

Liesbet en Leo (Foto: Verskaf)

Sy vertel dat Lex se tweelingbroer, Leo, nog baie besorg oor sy boetie se “eina” is.

“Lennie se wond is ook nog gevoelig en effens geswel, maar hy is vol vertroue dat sy ‘eina’ ook spoedig sal herstel,” sê sy.

Die tweeling, Lex en Leo Vermeulen (Foto: Verskaf)

Die gesin het Willem du Toit, hul buurman, en sy familie bedank. Hulle het die Vermeulens die nag van die voorval om 01:00 by die grens ontmoet en met hulle hospitaal toe gejaag.

Die gesin het ook hulle dank teenoor dr. Willie Barnard en sy personeel wat by Lephalale Mediclinic met die teengif gereedgestaan het, betuig.

“Nog ʼn groot dankie aan die PICU-eenheid by Kloof Hospitaal wat nie vir Lennie of Lex een keer soos ‘net nog ʼn pasiënt’ laat voel het nie.

Stofberg sê die gesin is ook uiters dankbaar teenoor die hiperbariese suurstofeenheid se span by die Eugène Marais-hospitaal, wat ʼn deurslaggewende rol in die spoedige genesing van Lex se wond gespeel het.

Dan was daar natuurlik die talle vriende, familielede en selfs vreemdelinge wat hulle toegegooi het met liefde, gebede en sorg.

Jolandie sê hulle het ook ʼn belangrike les uit die ondervinding geleer; “dat veral diegene wat op plase woon, ʼn aktiewe plan van aksie moet hê vir wanneer ʼn soortgelyke voorval plaasvind”.

ʼn Mens is altyd sterker as wat jy dink, sê sy – en moet “nooit die krag van gebed onderskat nie”.

Pa Lennie en klein Lex (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leeubekkie ·

Dankie Jesus. Spoedig sal pa en seun heeltemal gesond eees. Alle eer aan U.

Casper ·

Gebed is baie sterker as antibiotika,en dokters is net instrumente in die GROOT GENEESHEER se hande.Sterkte aan klein Lex met jou herstel.

Miskruier ·

Ek glo aan n kat in die huis hier op die plaas. My kat laat my weet as n slang ingekom het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.