Daar is toe nie cholera in Oudtshoorn

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die plaaslike munisipaliteit van Oudtshoorn het ondersoek ingestel nadat bewerings aan die lig gekom het dat dié munisipaliteit se water met cholera besmet is.

Die munisipaliteit het vroeër vandeesweek aan inwoners van die dorp gesê dat hy bewus is van bewerings dat die water in Bongolethu onveilig is om te drink.

“Die munisipaliteit is nie bewus van enige gekontamineerde water in Bongolethu of Oudtshoorn nie, maar ons sal die bewerings ondersoek en watermonsters neem om te toets.”

Skaars ʼn dag later het die munisipaliteit bevestig dat daar inderdaad nie cholera in enige van die watermonsters teenwoordig is nie.

“Die munisipaliteit het die bewerings in samewerking met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit ondersoek en die toetse het getoon dat daar geen gevalle van cholera in die Oudtshoorn-streek is nie,” sê die munisipaliteit.

“Die watergehalte word gereeld deur omgewingsgesondheidspraktisyns van die distriksmunisipaliteit, asook die plaaslike munisipaliteit gemonitor.”

Die munisipaliteit het inwoners gerus gestel dat die water wat deur hom verskaf word, veilig is vir menslike gebruik.

Suid-Afrikaners is die afgelope tyd op hol gejaag nadat cholera vroeër vandeesmaand in die land opgemerk is. Sedertdien het nog gevalle aan die lig gekom en iemand is selfs onlangs in Gauteng aan die siekte dood.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir gesondheid en welstand in Gauteng, het intussen ʼn beroep op die publiek gedoen om behoorlike higiëne te beoefen en nie water uit besmette bronne te drink nie.

Daar is tans vyf bevestigde gevalle in die provinsie.

“Ons kan nooit ophou om die belangrikheid daarvan te beklemtoon dat die publiek die naaste gesondheidsfasiliteit moet besoek wanneer hulle simptome van ligte tot ernstige diarree en dehidrasie toon nie,” sê sy.

“Dit is verder van kritiese belang vir almal om hul hande deeglik met seep en water te was voor en na die gebruik van die badkamer en ook tydens die hantering van kos.”

ʼn Mobiele kliniek is vandeesweek na informele nedersettings in Gauteng gestuur om inwoners te ondersoek wat soortgelyke simptome het.

Volgens Nkomo-Ralehoko is twee mense na die Tambo-gedenkhospitaal verwys nadat hulle cholera-simptome getoon het.

Gesondheidsadvies word steeds aan gemeenskappe verskaf in ʼn poging om die verspreiding van die siekte hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

… oh, oh… In dié land kan leeus deesdae nie eers ingehok bly nie. En honde byt hot en haar… Gelukkig het ons darem die Kaapse entstoffabriek gereed wat net wag vir ‘n oproep van hoofkantoor oor nog ‘n ….! En die botteltjies entstof ritteltit in der miljoene vir rye der rye geskokte op hol gejaagdes.

Papsak ·

Hulle kan niks reg doen nie elke keer n goeie bewys van alles hulle sien goed waar daar niks is nie ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.