‘Daar sál ’n dag kom,’ sê ma jaar ná moord op seun

Richard Wood (Foto: Verskaf)

“Om Richard se onthalwe sal ons aanhou totdat daar iets gebeur. Daar sál ʼn dag kom.”

Só sê ʼn emosionele Maryna Wood nadat die saak teen twee mans wat teregstaan vir die moord op haar seun vandeesweek vir die soveelste keer in die Pretoria-Noord-streekhof uitgestel is.

Christopher van der Westhuizen (23) en Marchant Bredell (32) het vanjaar reeds drie keer vlugtig in die hof verskyn op aanklag van moord in verband met die dood van Maryna se seun, Richard Wood. Die saak word egter net keer op keer uitgestel en sy word telkens met talle onbeantwoorde vrae gelaat.

Maroela Media het vroeër berig Richard (26) is op 5 November 2017 op die sypaadjie buite ʼn kuierplek in Pretoria opgemerk waar hy erg beseer gelê het nadat hy tydens ʼn rusie na bewering deur sy vriende erg aangerand en vir dood agtergelaat is.

Richard is ʼn week later, op 13 November, in die hospitaal dood nadat hy ʼn breinoperasie ondergaan het in ʼn poging om sy lewe te red.

Maryna vertel dat die Wood-gesin en die beskuldigdes onlangs, meer as ʼn jaar ná Richard se dood, saam om ʼn tafel bymekaargekom het om ʼn pleitooreenkoms aan te gaan. Daar kon egter nie tot ʼn ooreenkoms gekom word nie waarna Van der Westhuizen en Bredell vandeesweek weer in die hof verskyn het.

“Die beskuldigdes wil voortgaan met die pleitooreenkoms,” het Maryna verduidelik. “Van ons kant af voel ons ʼn verhoor moes al lankal begin het.”

Maryna vertel dat sy nie die frustrasie kan verwoord wat sy tydens elke hofverskyning beleef nie. “Elke keer bou mens op tot die verskyning … en elke keer hoop jy dat die verhoor nóú kan begin.”

Bredell en Van der Westhuizen se verhoor is verlede jaar op 25 September in die streekhof tot 18 Oktober uitgestel nadat Van der Westhuizen se regsverteenwoordiger hom aan die saak onttrek het, glo weens botsende belange en omdat sy kliënt hom nie kan bekostig nie.

Daarna is die saak tot November uitgestel en tóé weer tot Januarie vanjaar.

Die saak is vandeesweek tot 17 April uitgestel.

Lees alle berigte oor Richard Wood op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jepetto ·

Wanneer gaan jonmense dit leer sefs groot mense jy lig nie jou hande vir enige iemand nie

Annelize ·

Wanneer ons regstelsel eendag iets beteken… In ons land hoef jy nie te boet vir jou dade nie, die mense wat voorbeelde moet stel leer dan die jongmense om weg te kom met enige iets

Dinknet ·

Ek stem saam met Maryna dat die verhoor net moet vinnig. want hoe anderste gaan mens dit ooit kan begin verwerk dat jou seun oorlede is as die saak net sloer en net tyd vat :-( :-(

Sandy ·

“deur sy vriende erg aangerand is”? Watse tipe vriende slaan jou so dat dit jou lewe kos. Nee, hulle was nie vriende nie. Ek hoop julle kry geregtigheid.

VanAfrika ·

@Sandy, dit sê “na bewering van sy vriende”. Dis nie sy vriende wat hom aangerand het nie, hulle het dit beweer.

Lynette ·

VanAfrika. Dit was beweer dat sy VRIENDE hom aangeval het -dis duidelik wat die berig sê.

E.K. die eerste ·

Mevrou, al wat ek maar kan sê is dat julle in my hart is. Mag julle vrede ervaar. Glo my al is daar nie hier antwoorde, in de hiernamaals KAN mens nie lieg nie. Sterkte vir julle, ek kan dink hoe moeilik dit is.

Se net ·

Dis baie jammer om te hoor dat mense mekaar so kan aanrand. By dit wil ek net ook se, waar drank betrokke is broei daar gewoonlik onheil uit. Party mense het ek al gesien kan hulle self nie beheer as hulle drink en raak dan aggresief. Of hy self die moeilikheid gesoek het of die ander, sal ons nie nou weet. Bly maar weg van die plekke. Daar is baie geleenhede wat mens kan skep om nog steeds lekker en veilig te kuier. Sterkte aan die familie.

Lou ·

Dit is baie hartseer om jou kind op so manier te verloor. Onnodig om die minste te sê.
Baie sterkte en ek hoop en vertrou dat geregtigheid op die ou end sal geskied.

MM die sin waarna Sandy verwys is nie baie goed geskryf nie. Ek is self onseker of dit sy vriende is wat hom aangerand het en of dit sy vriende is wat beweer dat hy aangerand is?
Leesteken op die regte plekke sal al klaar help.

Mossie ·

As jy jou hande wil lug en jou woede fisiek op n ander persoon wil uithaal, dan moet jy maar die gevolge van jou dade aanvaar. Om n pleitooreenkoms te wil aangaan, beteken dat jy n straf so lig as moontlik sal aanvaar, MAAR toe jy die “straf” uitgedeel het, het jy die beseerde se pleitdooie van hulp gehoor? Nou waarom is jy dan geregtig op n pleitooreenkoms?
Sterkte aan Maryna en gesin, byt vas hul dag sal kom en geregtigheid sal geskied.

Helene Heyns ·

Ek stem eenhonderd persent saam, Mossie. Dan ook nog was hul twee teen een. Nee wat as jy kan uitdeel moet jy maar ontvang ook. Sterkte aan jou, Mevrou. Ek sou ook nie laat los het nie

JohanL ·

As jy pleitooreenkoms wil aangaan, beteken dit mos jy is skuldig. Nou bly die hof die saak uitstel, alhoewel alles daarop dui dat die beskuldigdes wel skuldig is. En tog kan geregtigheid nie geskied nie, omdat………….. ons regstelsel ‘n grap is. Ek sal graag elke liewe keer wat die saak uitgestel is, se rede wil sien. Geen wonder mense neem reg in eie hande nie. Wel in sekere plekke in elk geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.