‘Daar was baie genade daardie aand’

Xander in sy hospitaalbed. Foto: Verskaf

Xander in sy hospitaalbed. Foto: Verskaf

Xander van Zyl (18), die jong man wat die naweek by sy ouerhuis in Boskruin deur ʼn rower geskiet is, het die rower eers met ʼn bofbalkolf bygedam voordat hy geskiet is.

“I see you.” Dit was die woorde wat Eurika van Zyl, Xander se ma, gehoor het kort voordat sy besef het daar is twee mans in hul huis. Volgens Eurika het haar seun Vrydagaand omstreeks 23:00 tuis gekom. Ek het televisie gekyk en my man, Johan, het reeds geslaap. Ek het vir Xander gevra of hy honger is en hy het gesê ja.” Toe Xander omdraai het hy die twee inbrekers gesien.

Eurika het geskree voor sy en Xander in die rigting van die slaapkamers gehardloop het. “Xander het sy bofbalkolf gegryp en ek het ʼn spies gegryp. My man kom toe uitgehardloop en ons sien toe hoe die rowers met pistole by die trappies opkom in ons rigting. My man sê toe ek moet hardloop.”

Eurika het na een van die kamers se vensters gegaan in ʼn poging om uit die huis te kom en hulp te ontbied. “Terwyl ek op die vensterbank gesit het, het ek ʼn klapgeluid gehoor waarna die venster gebreek het. Ek het uitgespring en toe gryp een van die rowers my. Hy het dadelik my juwele begin afruk en my mond toegedruk en gesê ‘don’t shout’.”

Volgens Eurika het Xander intussen die ander rower in die hoofslaapkamer met die bofbalkolf bygedam. Die rower het op ons bed geval en toe staan hy op en skiet vir Xander. Dit is net ʼn wonderwerk dat hy hom nie in die kop geskiet het nie.” Xander is in sy maag naby sy blindederm getref. Sy blaas, dikderm en rektum is deur die koeël getref voor dit by sy boud uit is.

Xander en sy ouers is hierna in die hoofslaapkamer vasgebind. “Xander is tussen my en Johan vasgebind. Daar is kussingslope oor ons koppe getrek en ʼn kombers oor Johan gegooi en ʼn laken oor my en Xander. Ek het by hulle gepleit om gou te maak sodat ek my seun hospitaal toe kon vat, waarop hulle net heeltyd vir my gesê het ‘shut up’.” Johan het die rowers gevra om die kombers van sy kop af te haal aangesien hy nie kon asem kry nie, waarna hy deur die kombers met ʼn skroewedraaier in sy kop gesteek is. Volgens Eurika was dit egter nie ernstig nie omdat die kombers die impak gekeer het.

Eurika het haarself later begin loswikkel en gesien die rowers is weg. “Hulle het in my man se motor gevlug en het ons ander motors se sleutels saamgevat. Ek het ʼn ambulans probeer bel maar nie antwoord gekry nie. Johan het Xander se sleutel in die motorhuis gevind en ons het met Xander in sy motor hospitaal toe gejaag.” Die rowers het ook met juwele, selfone, televisiestelle, kameras, skootrekenaars en ander huishoudelike items gevlug.

Xander is in die Netcare Olivedale-hospitaal opgeneem. “Hy het vanoggend al ʼn bietjie geloop,” het Eurika gesê. “Hy sal hopelik teen môre uit die intensiewe sorgeenheid na die hoësorgeenheid oorgeplaas word. Hy herstel fisiek baie goed.”

Eurika het gesê sy is dankbaar dat hul ander seun, Tiaan (27), nie die aand by die huis aangekom het nie. “Hulle sou hom trompop geskiet het. Daar was baie genade daardie aand. Dit voel nog steeds onwerklik. Dit was die langste uur ooit. ʼn Mens vra hoekom gebeur dit en daar is ʼn mate van magteloosheid. Die Here het ons beskerm. Xander kon verlam gewees het.”

Eurika het almal vir hul ondersteuning bedank. “Die Honeydew-polisie en die personeel van die hospitaal is ongelooflik. Mense het van oral gehelp en gebid. Ons kan nie sê hoeveel ons dit waardeer nie.”

Volgens Eurika behoort Xander volkome te herstel. “Hy moet oor drie maande regstellende chirurgie ondergaan en dan sal ons die volle omvang kan behaal.”

Die polisie het aanvanklik Saterdag aangedui dat ʼn jong man doodgeskiet is tydens ʼn rooftog in Randparkrif. ʼn Ander polisiewoordvoerder het later bevestig die voorval het in Boskruin plaasgevind en dat die jong man nie dood is nie, maar in die hospitaal aansterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vra maar net ·

In hierdie saak is dit nie van belang dat ‘n persoon erenstig gewond is nie.
Polisie oorweeg dit nou eers om of hulle die skuldiges gaan probeer opspoor.
In die saak waar die skurk dood is word dit as ‘n voorkeur saak beskou. Is die polisie nie genoodsaak op albei voorvalle ewe eerens te handteer nie?

Realis ·

Die polisie het vir nou geen verdere belang by Xander nie. Hy is genadiglik in mediese sorg. Ons is dankbaar dat hy aansterk .
Die van Zyls sal ‘n saaknommer van die polisie kry vir die assuransie eise en dan is die saak afgehandel.
Indien die ou wat met die kolf geslaan is gevind word gaan hy ‘n saak van aanranding aanhangig maak teen Xander en kan hy vervolg word.
Dit is ons nuwe regstelsel.

Johann Marx ·

Mielie, Eurika en Xander, julle word in ons gebede opgedra in dankbaarheid vir die genade wat julle ontvang het, ten spyte van die bose se aanslag op julle menswees. Ons verstaan nie altyd waarom sulke goed gebeur nie. Die fisiese wonde genees, al vat dit lank, maar moenie die emosionele houe verwaarloos of ontken nie. Sterk staan.

Topster ·

Die staat moet verantwoordelik gehou word vir Xander se mediese kostes want dis hulle plig om ons as burgers van die land te beskerm ons as blankes moet eise begin insit en seker maak dat ons ook uit die staats kas voordeel trek voordat alles leeg gesteel is miskien skrik die president en sy vrot polisie diens dalk wakker

Johann Marx ·

Topster jy is absoluut reg. Nie net Xander se mediese kostes nie, maar die totale uitgawes van hierdie voorval. Die staat is alewig besig om die publiek te vra om “aktief betrokke te raak in die stryd teen misdaad”….en vir elke R1 wat jy spandeer om jouself te “beveilig” (en hulle te help in die stryd teen misdaad) word daardie uitgawes kunsmatig verhoog met 14%. Dan, sou jy ‘n slagoffer word en geld spandeer om die gevolge van die misdaad aan te spreek, verhoog hulle WEER daardie uitgawes met ‘n verdere 14%. Suid Afrika het ‘n misdaad-gebasseerde ekonomie…..

Jan ·

Sommige mense mag dink dis vreemd dat ek ‘n vuurwapen op my dra terwyl ek by die huis is, maar hierdie berig is ‘n goeie voorbeeld hoekom dit ongelukkig nodig is (ek woon ook in die area).

Bewapen julleself of emigreer, hierdie twak gaan nie beter raak nie.

Gesiggie ·

Genade… is al wat jul nodig gehad het, om jul deur als te dra… wonderlikke optrede van jou Xander… as jy nie jouself beskerm het, kon dit dalk erger gewees het… hierdie Monsters het geen gevoel, hul sal als in hul mag doen, om te steel…om te Moor… hul het geen genade vir jou”’ So bly dat jul as Familie beskerm is en dat Xander weer gou sal herstel. Mag God jul help deur die Trauma wat jul moes ervaar… Mag jul gou weer n normale lewe lei. En mag die Duiwels gevang word

Zena ·

Ek stem, ons sal begin om eise in te dien. Ons word in ons eie huise oorval!! kan jy nou meer. Jy en jou gesin sit rustig en pla niemand, maar nee hulle wil jou besittings he en breek in (wat natuurlik jou skade gaan wees) en probeer jou doodmaak net om sekere items uit die huis te verwyder.. agge nee, ek gee op! En dan het die misdadigers meer voordele as wetsgehoorsame burgers! Wanneer gaan dit stop.

Theresa B ·

Baie bly julle is ok. Xander jy het guts. Jou ouers kan trots wees op jou. Hoop jy herstel vinnig. Sterkte vir julle almal!!

Lyle de Groot ·

Hi Miles & Eurika,

I have no way of contacting you other than through people on Facebook so not sure our messages got through.
Please know you all have been in my thoughts and prayers since hearing about this terrible news. I speak on behalf of the whole family and wish you all the very best and that both the physical and mental recovery is a speedy one! God bless

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.