‘Daardie dag maal in my kop,’ sê plaasbestuurder

Fanie Botha hou ‘n foto van sy oorlede vrou, Annemarie, vas (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Voor Fanie Botha (69) se huis in Witrivier, Mpumalanga, staan ʼn “Te Koop”-bordjie. Dit is dieselfde huis waarin hy en sy oorlede vrou, Annemarie (65), ná sy aftrede sou woon.

“Ek wil nie meer hier bly nie, hier is niks meer vir my nie,” vertel Botha terwyl hy na die bordjie wys.

Met die intrapslag in die huis wys Botha na die geraamde foto teen die muur van “sy Ammie” en vertel met hartseer in sy oë dat dié foto ʼn uur voor haar dood geneem is. Volgens Botha wil hy vir Annemarie só onthou: Altyd met ʼn glimlag op die gesig. “Maar die laaste beeld wat ek van haar bebloede liggaam het, bly maal in my kop,” sê hy.

Botha het op 24 April 2021 op Annemarie en haar verstandelik gestremde seun, Ruan Brits (36), se liggame in ʼn plaashuis op Valley Farm naby Mbombela afgekom. Botha het op dié plaas as assistent-plaasbestuurder gewerk.

Dié dag steek nog vas in Botha se kop en wanneer hy oor Annemarie en Ruan praat, dam die trane op in sy oë.

Tesame met die hartseer, ervaar Botha ook groot frustrasie met die polisie se ondersoek wat lyk asof dit stilstaan.

Volgens Botha kry hy geen terugvoering van die polisie oor die saak nie; nog niemand is in twee jaar se tyd ondervra nie en daar is nog uitstaande bewyse wat nie versamel is nie.

“Dit is so asof die moorde nooit gebeur het nie.”

Wreed vermoor

Annemarie Botha en haar seun Ruan. (Foto: Verskaf)

Op Vrydagaand (23 April 2021) is ʼn seil en grassnyer uit Botha-hulle se erf gesteel. Daar was ook aan die buitekamer se deur gepeuter.

Botha het die volgende dag (24 April 2021) dié deur reggemaak en ook die slotte van die plaashuis vervang. Hy het net voor 16:00 gery om die plaas te patrolleer. Annemarie het ook die middag die huis verlaat om na ʼn verjaarsdagviering te gaan.

Ruan het op die plaas agtergebly. Hy het sommige naweke by die egpaar op die plaas gaan kuier. Hy woon deur die week in Wenakker, ʼn fasiliteit vir gestremde volwassenes, in Lydenburg.

Botha het net voor 18:00 by die huis gekom en Annemarie se kar voor die huis gesien. Hy is in die huis in, waar hy toe gesien het dat die huis byna omgekeer is.

Hy het in die sitkamer Annemarie en Ruan se bebloede liggame gekry. Ruan se liggaam het bo-op Annemarie sʼn gelê.

“Ek kon sien hulle is dood. Ná agt jaar op die grens het ek geweet hoe lyk, ruik en proe dood.”

Botha het uit die huis gehardloop en op ’n tweerigtingradio die sekerheidswagte van die plaas geroep, maar geen antwoord gekry nie. Hy is daarna na sy bestuurder se huis – wat op dieselfde plaas geleë is.

“Dit was vir my vreemd dat die wagte nie gereageer het nie.”

Volgens Botha kan hy nie alles onthou nie.

“Alles was vir my vaag, asof ek in ʼn ander wêreld was. Ek onthou net ek was só woedend dat hulle my in die hospitaal moes laat opneem het om my bloeddruk af te kry.”

Daar was vermoedelik tussen agt en tien mans in die huis. Annemarie en Ruan is albei meer as 30 keer met ʼn skerp voorwerp gesteek.

“Daar moes ook ʼn hengse struweling gewees het, want Ammie se naels was gebreek.”

Botha se teorie is dat die mans die gesin se bewegings dopgehou het en toe hy en Annemarie gery het, het hulle hul kans gewaag om by die plaashuis in te breek. Hulle het moontlik drade geknip om toegang tot die perseel te verkry.

“As ek ʼn paar minute vroeër daar aangekom het, sou ek ook nie vandag hier gewees het nie.”

Van die gesteelde goedere is langs die pad en in die landerye gevind. ʼn Sein van Botha se gesteelde selfoon is kort ná die aanval naby die Rob Ferreira-hospitaal in Mbombela waargeneem.

Onduidelikheid

Fanie en Annemarie Botha (Foto: Verskaf)

Botha het vir Maroela Media ʼn kas gewys waarop daar duidelike vingermerke is, waarvan die polisie glo nie eens afdrukke geneem het nie.

“Ek glo nie eens hulle het DNS op die toneel gevat nie.”

Die lykskouingsverslae is volgens Botha ʼn jaar en twee maande later eers afgehandel.

ʼn Beloning van R100 000 is ná die moorde uitgeloof vir enige inligting wat kan help om die moordenaars vas te trek.

Die veiligheidsgroep Bossies Community Justice is van die staanspoor af betrokke by die ondersoek en volgens die operasionele hoof, Albert Gryvenstein, doen hulle alles in hul vermoë om antwoorde te kry.

“Die ondersoek is stil, ons kry niks uit die polisie nie,” het Gryvenstein aan Maroela Media erken.

Maroela Media het navraag aan die polisie gerig oor hoe die saak vorder, maar kry ook geen terugvoer nie.

Botha sê sy hande voel afgekap. Behalwe dat hy aan die polisie se genade oorgelaat is, kan hy ook nie ʼn private speurder se dienste bekostig nie.

“Ek het al vir myself gesê om op te hou baklei en dat die wraak die Here toekom, maar hulle het my net so seergemaak op daardie dag. Ek kan nie net sit en toekyk hoe hulle daarmee wegkom nie.”

Botha probeer sin maak van die wrede moorde van sy geliefdes, wat Gryvenstein beskryf het as die “ergste plaasmoordtoneel wat hy nog ooit aanskou het”.

“Hulle het dit nie verdien nie. Ek het in ʼn stadium gevra: Waar was die Here? Hy belowe dan in die Bybel dat Hy nie eens jou voet teen ʼn klip sal laat stamp nie,” sê Botha.

Trauma

Botha wou ná die moorde nie meer in die plaashuis woon nie, en kon ook nie in sy dorpshuis intrek nie omdat die huurders (in daardie stadium) se kontrak eers einde Augustus sou verstryk het. Botha sou oorspronklik dán eers as plaasbestuurder afgetree het en saam met Annemarie in die dorpshuis gaan woon het.

Hy het vir tyd en wyl by familie gewoon, maar in dié tyd Covid-19 opgedoen en kon nie meer daar woon nie omdat dié familielede hoërisikogevalle was.

“Ek het toe vir omtrent twee weke in my kar geslaap en van blikkieskos geleef – soos in die weermag.”

Botha se dogters het vir hom blyplek in gastehuise bespreek en hy het vir ʼn ruk by hulle gaan woon totdat hy in die dorpshuis kon intrek.

Botha en Annemarie was 18 jaar getroud, waarvan hulle die afgelope twee en ʼn half jaar op die Valley Farms-plaas gewoon het.

Annemarie was ʼn onderwyseres by die Calvary Christian School in Mbombela.

“Sy was ʼn goeie Christenmens wat niemand skade aangedoen het nie. Sy kon die mooiste klavier speel en die lekkerste kos maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lillian ·

Die polisie is toegegooi onder die werk want meeste is nie gevoeg om die werk te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.