Daarom het KZN-onnies nie werk nie, sê Fedsas

skool-21.jpeg

Argieffoto

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het hom Dinsdag sterk uitgespreek teen die departement van onderwys in KwaZulu-Natal oor 800 vakante senior poste by skole in dié provinsie.

In ’n berig in The Mercury (6 Desember 2016) lê die departement die blaam voor die deur van skoolbeheerliggame, wat volgens ’n departementele woordvoerder glo nie betyds aanbevelings rakende aanstellings gemaak het nie.
http://themercury.newspaperdirect.com/epaper/viewer.aspx?noredirect=true

“Volgens inligting tot ons beskikking is die departement se bewerings ongegrond,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas.

Volgens dié organisasie is dit die gevolg van die gebrekkige administratiewe vermoëns van die provinsiale onderwysdepartement.

“Ses van Fedsas se lidskole het bevestig dat hul beheerliggame betyds aanbevelings gemaak het ingevolge die provinsiale onderwysdepartement se bestuursplan. By navraag het die departement bevestig dat die aanbevelings ontvang is. Die oponthoud is dus aan die departement se kant.”

Ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet is beheerliggame verantwoordelik vir die saamstel van ’n kortlys, die voer van onderhoude en die maak van aanbevelings oor aanstellings. “Die KZN-onderwysdepartement het boonop net drie weke toegelaat vir beheerliggame om hierdie proses te voltooi. Die departement is veronderstel om beheerliggame op te lei, maar het slegs een kort werksessie aangebied,” het Deacon bygevoeg.

Volgens hom het Fedsas aangebied om dié rol namens die departement te vervul en opleiding aan alle beheerliggame in die provinsie te bied, maar die departement het nie eens bevestig dat hulle die voorstel ontvang het nie. Fedsas is ’n bewese kenner op die gebied van skoolbeheer en -bestuur en het die nodige kundigheid en logistieke kapasiteit om die opleiding aan te bied.

Volgens Deacon het Fedsas die departement ook op verskeie amptelike forums ingelig dat die aanstellingsproses soos dit tans bestuur word, gebrekkig is. “Vier prosesse per jaar sal skole in staat stel om betyds poste te vul. Die huidige proses is ontoereikend om die oorweldigende getal vakante poste te vul. Dít benadeel weer skoolbestuur, wat uiteindelik ’n direkte invloed op onderrig het.”

Deacon voeg by gegewe die skandaal rondom die onwettige verkoop van poste en die KZN-onderwysdepartement se aandeel hierin, sou ’n mens graag wou glo dat die departement alles in sy vermoë sou doen om die aanstellingsproses so goed as moontlik te bestuur. “Fedsas is egter steeds bereid om betrokke te wees by die opleiding van skoolbeheerliggame in die provinsie, ook vir skole wat nie lid is van die organisasie nie.”

Deacon het gesê die organisasie is ook gewillig om deel te wees van die herontwerp van die bestuur van die aanstellingsproses. “Ons enigste prioriteit is gehalte-onderrig en gehalte-onderrig is afhanklik van goeie skoolbestuur,” het hy verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

‘n Slinkse manipulasie van die situasie vind plaas. Het ons hierdie styl van bestuur al iewers gesien? Watter formele opleiding het die meeste van die onderwysers in Natal? En nou het ons ook nie meer ‘n OB nie…

Jane ·

Al die verduidelikings en groot woorde, maar hoekom is daar 800 vakante poste? Want julle weier om blankes aan te stel. Vir wie spite julle nou eintlik? Definitief nie die ‘blanke’ skole nie. Maar ja, dit is hoe cut your nose to spite your face werk.

hans ·

Die moreel van hulle storie is.Jy hoef nie geletterd te wees om n president,onderwyser,minister of krimineel te word nie.

Maria Van Dieweeck ·

Dankie dr Deacon, jy is n yster en doen baie vir ons taal en jeug. Ek stem saam met almal hierbo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.