Dag-oue baba in vullissak in taxi gelos

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Dag-oue babaseuntjie is Dinsdag lewend in ʼn vullissak in ʼn minibustaxi in Yeoville, Johannesburg, gevind.

Nadene Crowder-Grabham, algemene bestuurder van Door of Hope Children’s Mission, ʼn organisasie wat na weggooibaba’s omsien, het aan Maroela Media gesê iemand het die sak in die taxi sien beweeg en die baba daarin gevind.

“Die bestuurder van die taxi het op ʼn polisiebeampte afgekom wat Door of Hope baie goed ken en die beampte het die baba na ons toe gebring,” het sy gesê. Die baba was nie siek of beseer nie.

Volgens Crowder-Grabham is antiretrovirale middels saam met die baba in die sak gevind. Dit is nie duidelik waarom die middels daar gelos is en of dit as kennisgewing van die ma se MIV-status dien nie. “Dit was nie ʼn volledige dosis nie en die twee bottels wat gelos is, word gewoonlik nie saam gebruik nie. So ons weet nie hoekom die medisyne by die baba gelos is nie,” het sy gesê.

Die baba is ongelukkig een van vele babas, dikwels pasgebore, wat in ongewenste omstandighede gevind word, het Crowder-Grabham gesê.  “Ons het so paar weke gelede ʼn baba in ʼn toilet gekry. Baie babas word in plastieksakke in die veld gelos. Die ma’s is dikwels baie jonk of betrokke by prostitusie.”

Intussen het die personeel by die babahuis aan die seuntjie ʼn Bybelse naam gegee en dit gaan baie goed met hom. “Die polisie het ʼn saak oopgemaak, maar ons sal nie self na sy ma soek nie. As alles goed gaan, sal hy hopelik aangeneem word,” het sy gesê.

Sers. Mduduzi Zondo, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn saak van kinderverwaarlosing word deur die Joubertpark-polisiestasie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

En die ergste van alles is:”Daar gaan nog een en nog een en . . . . . . .wees”

CHRISTA ·

Ons mens het nie eers respek vir vir ‘n hulpelose baba nie – daarom spreek alles wat in hierdie land aangaan boekdele!!!

Liesl ·

Stuur daai babatjie maar na my toe. Sal hom met liefde grootmaak, MIV of nie. Hoe kan mense so wreed wees?

Lappop ·

Dis reg Liesl, daar word nog nie genoeg adders aan die boesem gekoester nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.