Dag Zero: Datum skuif weer; druk op Kapenaars duur voort

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Die Stad Kaapstad het Maandag aangekondig Dag Zero, die dag waarop die Moederstad se krane leegloop, sal volgens alle redelike bepalings na die middel van Mei aanskuif vanweë waterbesparings wat die stad in die volgende paar weke voorsien.

Ian Neilson, adjunkburgemeester van Kaapstad, het in ʼn verklaring gesê die skuif van dié datum is te danke aan verminderde waterverbruik in die landboubedryf.

Dié aankondiging volg nadat Mmusi Maimane, leier van die DA, verlede week tydens ʼn perskonferensie gesê het dat Dag Zero met vier dae aangeskuif is tot op 16 April – volgens hom ook te danke aan ʼn “beduidende” besparing van daaglikse waterverbruik.

Neilson het Maandag gesê talle landbou-organisasies in die provinsie het reeds hul waterkwota wat deur die departement van water en sanitasie aan hulle toegewys is, opgebruik.

Volgens hom sal water in dié bedryf in die volgende paar weke juis daarom aansienlik afneem omdat die departement streng maatreëls gaan toepas. “Die landboubedryf verbruik tans 30% van die Wes-Kaapse watervoorsiening. Ons beoog egter dat die landboubedryf in Maart net 15% van die water sal verbruik in en in April net 10% van die watervoorsiening. Die stad het egter geen beheer oor hoeveel water verbruik word nie – ons maak bloot ʼn skatting met die inligting tot ons beskikking,” het hy gesê.

Die stad het onder meer die maksimumverdamping van water, die waterverbruik in die landboubedryf en die waterverbruik in die stad in ag geneem om sodoende ʼn berekening oor Dag Zero te maak.

Neilson sê hoewel die aanskuifdatum van dié dag goeie nuus vir Kapenaars is, moet daar steeds baie gebeur om te verseker dat dié dag heeltemal vrygespring kan word.

“Inwoners van Kaapstad moet steeds daarin slaag om die daaglikse waterverbruik van die stad na 450 miljoen liter te verminder om te voorkom dat die oorblywende watervoorraad opraak voor die koms van winterreën in die provinsie. Ons kan nie bepaal hoeveel reën ons sal kry of wanneer dit wel sal reën nie,” het hy gesê.

Volgens hom moet inwoners van die stad ten spyte van die goeie nuus en verligtings steeds drastiese maatreëls toepas om water te bespaar omdat ʼn droë winter moontlik die provinsie in die gesig mag staar.

“Alle voorbereidings vir die moontlikheid dat Dag Zero wel die stad mag raak, duur steeds voort. Die stad pas ook steeds aggressiewe waterbesparingsinisiatiewe toe in ʼn poging om die watervoorraad uit te rek.”

Neilson sê die stad het sedert 1 Februarie vlak 6B-waterbeperkings en -tariewe ingestel in ʼn poging om selfs meer water te bespaar. “Dié tariewe bly gekoppel aan verbruik: Hoe meer water jy verbruik, hoe meer gaan jy betaal. Die stad maak nie ʼn wins op die verkoop van water nie. Die nuwe tariewe is bloot deel van die stad se pogings om Dag Zero vry te spring en om finansiële stabiliteit te vestig om water tydens só ʼn tydperk te voorsien,” het hy gesê.

Vir ʼn volledige uiteensetting oor die nuwe waterbeperkings en -tariewe besoek die stad se amptelike webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ella ·

Boere gebruik minder water = minder kos word geproduseer = minder kos op die rakke = minder kos vir die bevolking = hongersnood, waternood, siektes en uiteinde: anargie en dit oor domheid, gebrek aan beplanning vir nou en die toekoms, politieke inmenging en ontkenning van waarskuwings oor probleme wat kom. Nou is die probleme hier en almal bly dom. Het iemand al in die dae gese: kom ons verhoog n dam se wal vir groter kapasiteit as dit weer reen? Het iemand al gese ons moet die damme wat leeg is skoonmaak en dieper maak? Dink
nie so nie, hulle stry net en waarsku: gebruik minder water.

Houtoog ·

In hierdie berig is daar beide ‘waterverbruik’ en ‘watergebruik’. Sover ek weet is daar ‘n verskil.

Alida ·

Vooruit beplanning en instandhouding is mos nie prioriteit nie.

Say whaaaat ·

Kan iemand dalk vir my sê, betaal ons reeds meer op “pre-paid” water want ek het dit duidelik gevoel in die maand se water aankoop teenoor laasmaand. Ek moes amper 400% meer betaal. Laasmaand se aankoop van 8.5kl het my R250 gekos en die maand kry ek toe 2.4kl vir R300. Is dit moontlik?

Jaques ·

Say whaaaat, jy is reg, pryse is met 500% en meer duurder vir water vanaf die 1ste Feb, laat mens sonder woorde, waar moet die geld vandaan kom, meeste mense se munisipale rekeninge gaan meer as verdubbel, Onthou, die riool is ook met 500% en meer duurder.

Say whaaaat ·

@Jacques. Dit is om van naar te word. Ek kan jou wed, maak nie saak hoeveel reën ons gaan kry nie die tariewe sal verseker nie soveel daal soos dit opgegaan het nie. Sal nou maar moet aanhangsel kry sodat ons 1 x by hom en 1 x by my kan stort.

Dag Zero ·

Almal is in die droogte tydperk báie slim. Ella ek weet nie van watter damme jy praat, of dit plaasdamme is wat skoon gemaak moet word as dit leeg is nie? Dit kan definitief nie die groot water voorsieningsdamme wees nie. Mense oordeel…maar niemand kom met ‘n geskikte werkbare plan na vore. Alida as daar fondse is vir instandhouding, het jy dálk ‘n punt beet….maar daar is nie. Weet jy wat se begroting en beplanning in die verhoog van ‘n dam se wal is? Dit help nie mense kloof hare oor wie wat en wanneer verkeerde besluite geneem het nie. Ons moet eerder saam staan en bid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.