Dagga gerook vóór Andries Pretorius-nasaat se moord

Beres Jobling Foto: genealogy.org.za

Beres Jobling Foto: genealogy.org.za

ʼn 19-jarige man van Noordwes het Dinsdag aan die Pretoriase hooggeregshof vertel hoe hy en twee van sy skoolvriende dagga gerook het voordat hulle Beres Jobling (56) op sy plaas naby Brits doodgeslaan en gewurg het.

Ernest Mashudu Nevhulamba van die Bokfontein informele nedersetting naby Brits is skuldig bevind aan die moord op Charles Beresford Pretorius Jobling op 1 September 2012 op sy plaas naby Hartbeespoortdam.

Nevhulamba het erken dat hy en twee van sy skoolmaats Jobling in sy huis vermoor het voordat hulle sy liggaam in ʼn nabygeleë rivier gestort het. Hy het ook erken dat hulle Jobling se selfoon, bakkie, beursie en ring gesteel het.

Nevhulamba is in hegtenis geneem nadat hy en sy medepligtiges in ʼn ongeluk betrokke was met Jobling se bakkie. Hulle is na ʼn hospitaal geneem en die polisie het die voertuig na Jobling teruggespoor. Sy liggaam is eers die volgende dag opgespoor.

Tshepang Mosito het eers skuldig gepleit op aanklag van moord en roof, maar het later aan die hof gesê hy wil sy pleit verander, aangesien hy nie geweet het hy gaan verhoor word indien hy skuld erken nie. Sy hofsaak is van Nevhulamba sʼn geskei. Hy sal in Mei 2015 saam met Tshego Mosito en David Thebereng tereg staan op aanklag van moord en roof. Mosito en Thebereng het onskuldig gepleit.

Jobling was ʼn afstammeling van die Voortrekkerleier Andries Pretorius en het steeds op ʼn gedeelte van die oorspronklike Pretorius-plaas gewoon. Hy was ʼn bekende historikus en was ook die voorsitter van die Hartbeespoort Omgewings & Erfenisvereniging.

Nevhulamba het in sy pleitverduideliking gesê hy, Tshepang en David het eers dagga gerook voordat David voorgestel het hulle moet na sy woonplek toe gaan en dan ʼn motor by ʼn wit man leen. Hy het gesê die “wit man” het televisie gekyk toe hulle die huis betree het en David het die man aan sy nek gegryp en begin wurg. Tshepang het hom glo ook met ʼn elektriese kabel gewurg en Nevhulamba het ʼn ysterstaaf gegryp en hom oor die kop geslaan.

David het toe glo die slagoffer ondersoek en sy beursie en goue ring opgespoor waarna hulle sy liggaam in sy bakkie gelaai en hom in die rivier gaan stort het. Die groep het later glo vriende gaan oplaai en bier gaan drink by ʼn taverne. Hulle was die volgende dag op pad huis toe in die ongeluk betrokke.

Nevhulamba het gesê hy besef hy het ʼn misdaad gepleeg en aanvaar volle aanspreeklikheid vir sy dade. Hy toon berou.

Regter Tshifiwa Maumela het sy hofsaak tot 13 November uitgestel vir ʼn voorvonnisverslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fanie du Toit ·

Hoekom is die media te bang om te sê dit is ‘n wit man of swart man wat ‘n misdaad pleeg…..as dit dan diskriminasie is mag daar mos ook nie gesê word dit is man of vrou nie.

Dagga Movement ·

Volgende hoor ons die duiwel het hom dit maak doen. Dis ‘n skande dat mense dagga wil gebruik vir ‘n verskoning vir moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.