Dagga in doodskis gesmokkel

Die dagga is in ‘n kis versteek. (Foto: SA Polisie)

Polisiebeamptes by ʼn padblokkade in KwaZulu-Natal het snuf in die neus gekry ná twee mans in ʼn voertuig op die N2-hoofweg skielik stilgehou en hul motorligte afgeskakel het.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie was Saterdag in die vroeë oggendure besig met ʼn padblokkade toe die twee mans hulle ingelig het dat hulle werkers by ʼn begrafnisondernemer is en ʼn liggaam vervoer.

Die polisie was egter steeds agterdogtig, het die voertuig deursoek en 30 versteekte pakke dagga in die kis gekry. Die vonds het sowat 80 kg geweeg.

“Die verdagtes is dadelik in hegtenis geneem en by die Pongola-polisiestasie aangehou vir die besit van dagga. Hulle is onderskeidelik 32 en 34 jaar oud,” het Naicker gesê.

Twee mense is by ‘n padblokkade tussen Mpumalanga en Limpopo aangekeer omdat hulle drank vervoer. (Foto: RTMC)

In ʼn afsonderlike voorval by Stofberg is twee verdagtes óók Saterdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem nadat hulle by ʼn padblokkade tussen Mpumalanga en Limpopo voorgekeer is.

Interprovinsiale reis word ingevolge die landwye staat van afsondering verbied tensy daar uitsonderlike omstandighede is.

Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie het die mans kratte drank vervoer.

Die vervoer en verkoop van drank word in dié tyd verbied.

In die Wes-Kaap was daar die afgelope naweek ook talle inhegtenisnemings vir die vervoer van alkohol.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn man en ʼn vrou is Vrydag in die omgewing van Gugulethu beboet nadat drie kiste brandewyn in hul voertuig gevind is.

Verskeie mense is die afgelope paar dae aangekeer omdat hulle drank vervoer. (Foto: SA Polisie)

In Lingelethu-Wes is ʼn vrou by ʼn padblokkade op die N2 ingevolge die Wet op Rampbestuur beboet nadat alkohol ook in haar voertuig gevind is.

En in Kraaifontein is ʼn 36-jarige man Donderdag in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere nadat talle wynsakke en meer as 600 ℓ alkohol in bottels by die huis gevind is. Die drank is in ʼn vragmotor en binne-in die huis gestoor. Die drank is sowat R60 000 werd.

Rwexana het gesê die man word aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, die onwettige verkoop van drank en oortreding van die Wet op Rampbestuur. Hy is op waarskuwing vrygelaat en moet vandeesweek in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SomeOne ·

(man met r60 000 drank) dink die gereg dat hy ooit sal opdaag vir sy hofsaak, en indien wel sal hy borgtog van r500 kry, LMGA

Rodger17 ·

Wel vervoer van drank en verkoop daarvan word verbied.Wie gaan my keer om dit te drink?Daar is maniere om drank te kry as jy rerig wil drink.Dis my demokratiese reg om te drink en eet wat ek wil.Glo my,van die ministers drink in hierdie tyd want hul het die geld en die mag om dit te bekom.As die drank my gesondheid beïnvloed is dit my keuse en my liggaam.Ek dink sigarette hou groter gevaar in vir covid19 as drank.Hkm word sigarette nou weer wettig?Hierdie drakoniese reëls en regulasies is net n magsvertoon van die regering.Ons is suppose om n demokratiese land te wees,nou raak dit kommunisties sodat hulle ons lewens kan beheer!Sorry nie vir my nie anc

Eerlik ·

Sigarette verander nie iemand se persona nie, drank doen. En soos wat jy uitbeeld, dis enige iemand se keuse of hulle wil drink of rook. Die getal huishoudelike geweld het uit sy nate gebars sedert die lockdown, dink net wat sal verder in huishoudings gebeur waar drank betrokke is. Dink watse katastrofe dit in townships sal veroorsaak.

Gawie ·

Roggie, die drank beïnvloed nie net jou liggaam nie. Dis al die mense om jou wat deur jou gedrag geraak word. Dit is eenmaal so dat drank jou oordeelsvermoë negatief beïnvloed. Ek wil nie in ‘n ry by die winkel staan met ‘n persoon wat nie sy afstand kan hou nie, want die drank het hom slim gemaak.

Gemaskerde Sopbeen ·

Smokkel van drank gaan net toeneem totdat dit bykans onmoontlik is om te stop.

Scalla ·

Dit was nou die laaste spyker in die doodskis vir die 2 skelms.

Willem ·

Stem Roggie sigarette is groot gif maar word nou toegelaat en nie drank nie. Dis nou wat jy kry as jy die narre aanstel as ministers. Hierdie vlak vier gaan daai vrou wat sukkel om te praat uitrek hou haar dop

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.