Dagga kan baie geld vir SA maak, sê minister

(Argieffoto: Richard Vogel/AP)

Die ontluikende daggabedyf kan baie ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika beteken, sê die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize.

In ʼn begrotingstoespraak wat uiteraard in die somber skadu van die Covid-19 gestaan het, het Mkhize teen die einde van sy begrotingsrede Donderdag in die parlement ‘n tydjie afgeknyp vir ‘n bietjie goeie nuus oor die groen kruid, ook bekend as papegaaislaai of boom.

Volgens Mkhize is die belangrikste lesse wat die ANC-regering uit die pandemie geleer het dat spoedige optrede noodsaaklik is.

Hy het die argument van die EFF (dat die land moet terugkeer na vlak 5 van die afsonderingsperiode om die oordrag van die virus te voorkom en lewens te red) in ‘n sekere mate toegegee, maar gesê dit kan nie gedoen word nie, want dit sal die ekonomie vernietig.

Die hoogste prioriteit vir die staat op die oomblik is om gekwalifiseerde gesondheidswerkers (dokters, verpleegsters, ens.) te behou deur hul lewens sover moontlik te beskerm en hul werkomstandighede te verbeter, en genoeg toerusting sowel as beskermende mediese drag beskikbaar te maak.

Mkhize het terselfdertyd gewaarsku dat die Covid-19-virus nie beteken dat minder aandag aan ander siektes soos MIV en tuberkulose gegee moet word nie. Hy het darem uitgewys dat die pandemie kosbare navorsingsgeleenthede bied aan Suid-Afrikaners om met ander lande se bestes saam te werk, en dat Suid-Afrikaners veral uitblink met navorsing oor die impak van die virus op swanger vroue, gesondheidswerkers en die mynbedryf.

In ‘n kommerwekkende wending het verskeie ANC-agterbankers aangevoer die grondslag word tans gelê vir Nasionale Gesondheidsversekering – ʼn bewering wat deur DA-sprekers tot leuen gemaak is.

Vir die DA is die aanslag gelei deur hul LP, Siviwe Gwarube. Sy het gesê die pandemie het die ANC-regering die kans gebied om beter te regeer en eerlik te wees, maar hulle kon ten ene male nie daarin slaag nie. “Hulle het hul politieke party se belange bo die landsbelang gestel, sodat die hantering van hierdie pandemie in ANC-beheerde provinsies deurtrek is van korrupsie, wanbestuur, mislukking en onnodige lewensverlies,” het Gwarube uitgewys.

“Daar is nie genoeg beskermende mediese drag in baie provinsies nie; trouens, sulke beskermende mediese drag word gesteel.” Sy het gevra dat die oprigting van veldhospitale nou geprioritiseer word, spesifiek in Gauteng, waar die Nasrec-veldhospitaal dringend operatief moet raak, asook die databasis, wat korrekte feite en verwysings na geskikte hospitale moontlik sal maak.

Wat die Oos-Kaap betref het Gwarube gesê die provinsie is op die punt om, wat gesondheidsdienste betref, heeltemal in duie te stort, en die nasionale regering moet ingryp. Sy het die nasionale regering aangeraai om Wes-Kaapse kundiges na die res van die land te ontplooi in raadgewende hoedanigheid.

Haar kollega, die DA-LP Lindy Wilson, het gesê pres. Cyril Ramaphosa is soos die fluitspeler van Hamelen wat die hele land oor die afgrond lei, en dat die Oos-Kaap se statistiek oor die pandemie in elk geval heeltemal onbetroubaar is.

Die EFF se Naledi Chirwa het gesê al waarvoor die ANC-regering deug is om van arm mense te steel – hulle kan dit maar net nie regkry om skoon te regeer nie. Sy het in besonderhede vertel hoe klinieke en hospitale in Pretoria, Mamelodi, Ivory Park en Soweto agteruit gaan, en gesê die nasionale regering lieg oor hospitale se gereedheidsvlakke.

Namens die VF Plus het Phillip van Staden in die kryt geklim. Hy het gesê die ANC is die teenpool van ‘n omgeeregering, want hulle maak ongegronde windmakerige aansprake terwyl Suid-Afrikaners in hul duisende sterf. Van Staden het aangevoer mense lewe in vrees vir staatshospitale en dat mediese sorg in staatshospitale reeds lepel in die dak gesteek het.

Die VF Plus-LP – wat tydens die afsonderingsperiode ophou rook het – het ietwat bitter gesê die regering moet wakker skrik – R30 miljard se belastinginkomste uit sigaretverkope is onnodiglik daarmee heen. Volgens Van Staden is Oos-Kaapse hospitale soos ‘n oorlogsone, met nuttelose provinsiale planne wat geen verband met die werklikheid toon nie.

Hy meen die mate waartoe die regering nie omgee vir menselewens nie word uitgelig daardeur dat daar meer ywer is vir die grawe van massagrafte as vir die verskaffing van mediese sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

'n Simpelman ·

Plant en oes, miet ner nie rook en verkoop.
Hahahsha

koos10 ·

Jy mag maar rook, dis wettig. Nie verkoop nie. Los sommer die drank probleem ook op. Ons is die enigste land nog ooit wat tabak onwettig is en dagga wettig?????

Persheks Adri ·

Korrupsie en omkopery is al wat hulle goed kan doen! Hoe op dees aarde mag ons nie sigarette koop nie, maar die dagga is wettig? Die redenasies darem oe ee ee! Dis oor hulle geld maak op swart mark en kopdoek smile solank sy geld maak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.