‘Dagga-kleuter’ in veilige sorg

Die inskrywing wat op sosiale media geplaas is.

Die inskrywing wat op sosiale media geplaas is.

ʼn Driejarige kleuter wat glo deur haar ouer broer gedwing is om dagga te rook, is in veilige sorg geplaas.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ingetree en die kleuter en haar 13-jarige suster in die veilige sorg van familievriende geplaas,” het Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Hy het gesê die meisie se ouderdom is Woensdag foutiewelik as vier jaar deurgegee.

“Sy is eintlik drie jaar oud. Daar is ook bevestig dat haar ouer broer 18 jaar is, en nie 17 soos vroeër gemeld is nie.”

Die kleuter is Woensdag opgespoor nadat die departement Dinsdag ingelig is dat ʼn tiener, ene Shakiel Poggenpoel, foto’s op sosiale media geplaas het waar hy glo sy sussie oorhaal om dagga te rook.

“Ons maatskaplike werkers is onmiddellik ontbied en het met ʼn ondersoek begin om te bepaal waar die kleuter haar bevind. Dit was moeilik, aangesien inligting ontbreek het en ʼn adres nie verskaf is nie.”

Volgens Fritz het maatskaplike werkers die kleuter opgespoor en die kind se ma genader om in te gryp. “Die polisie is ook versoek om bystand te lewer, gegewe die tiener se betrokkenheid by bende-bedrywighede.”

Die departement stel ook ondersoek in en werk saam met die polisie om die tiener op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christie Joubert ·

Boetie; Jy het reeds bewys dat jy nooit, ooit moet voortplant nie!

CHRISTA ·

Dan wil hulle dagga-gebruik wettig maak in ons land!! Waar gaan dit dan ophou? Soos wat pornografie wettig gemaak is en nou is dit nie eers goed genoeg nie – mense bemoei hulle nou met kinderpornografie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.