Dagsorg se oproep aan ma: ‘Kom, jou kind is dood’

Klein JJ voor sy dood (Foto: Verskaf)

Haar vier maande oue babaseuntjie was maar ʼn halfdag in die sorg van ʼn dagmoeder toe ʼn Bloemfonteinse ma se donkerste nagmerrie werklikheid geword het: Haar “perfekte” seuntjie, wat enkele ure vantevore nog op die oog af blakend gesond voorgekom het, is onverwags by ʼn dagsorg dood.

Dit was die noodoproep van die dagmoeder wat haar lewe op 2 Julie verlede week in enkele oomblikke tot stilstand geruk het, vertel Nathasia Ackerman Maandag aan Maroela Media: “Nathasia, jou kind is dood. Hy haal nie asem nie. Kom haal hom.”

Ackerman, wat vroeër dieselfde dag in haar nuwe pos begin het, sê sy het eers gedink sy hoor nie reg nie. Maar toe sy wéér vra, het dieselfde stem aan die ander kant van die foonverbinding bevestig: dis klein JJ, sy moet gou kom, háár kind is dood.

“Tien miljoen dinge maal gelyktydig deur jou kop. Eers hoop jy dat jy verkeerd gehoor het. Jy sê vir jouself dit kan mos nie jóú kind wees nie. Maar jy kan nie weghardloop nie; maak nie saak hóé jy jouself probeer paai nie.

“Terwyl alles om my draai, het ek net gesê: ‘Tannie, wat?’ Sy het gesê hy het ophou asemhaal en is dood; ek moet dadelik kom.”

ʼn Erg ontstelde Ackerman vertel sy het in haar motor gespring en na die dagmoeder se huis gery waar sy JJ op die kombuiskas aangetref het. Die dagmoeder het JJ oomblikke vantevore probeer bybring.

Johan en Nathasia tydens die verassingsdiens (Foto: Verskaf)

“Hy was spierwit en yskoud,” sê sy. “Jy kon sien hy was al ʼn rukkie nie meer met ons nie. Ek was histeries. Ek het geskree en gevra waar die ambulans is, maar die dagmoeder het gesê sy het nie die ambulans se nommer nie. Haar kleinseun het eindelik vir my die nommer opgespoor en ek het gesê my seun haal nie asem nie, ek soek dringend ʼn ambulans. Die nooddienste het my telefonies probeer verduidelik hoe om kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toe te pas, maar dit het nie gewerk nie.

“Ek het hom in my arms gegryp en na buite in die straat gehardloop. Ek was só oorweldig deur die gebeure van daardie vyftien minute dat ek met hom in my arms in die straat op- en afgehardloop het. Niemand het stilgehou nie. Uiteindelik het ons in die dagmoeder se kleinseun se motor gespring en na die hospitaal se ongevalle gejaag.”

Ackerman se man, Johan, en die hospitaalpersoneel het haar by ongevalle ingewag. Daar het die personeel klein JJ na ʼn teatersaal gehaas terwyl sy en Johan in ʼn wagkamer sit en bid het vir ʼn wonderwerk. Maar toe ʼn dokter minute later na die ouers aangestap kom, het sy gewéét haar kind is “weg”.

“Hy het gesê hulle is ongelooflik jammer; hulle het alles probeer, maar kon hom nie red nie. My seun was dood. Hoe? Hoe gebeur so iets? Hy was ʼn perfekte kind gewees. Hy was blakend gesond; hy was dieselfde oggend dan nog in ʼn vrolike bui. Nou is hy net skielik dood en ons moet dit aanvaar. Ons is stukkend, daar is geen manier om die ongelooflike seer te beskryf nie.”

ʼn Nadoodse ondersoek het glo bevestig dat klein JJ dood is aan ʼn virale longinfeksie. Luidens die uitslae van dié ondersoek is JJ gebore met die toestand en was dit glo net ʼn kwessie van tyd voordat die infeksie sy lewe sou eis.

Nathasia saam met JJ (Foto: Verskaf)

Maar dié uitslae is nie goed genoeg nie, sê die ouerpaar. Té veel vrae bly volgens hulle onbeantwoord. “Die dokters sê die infeksie sou nooit regkom nie; dat dit hom mettertyd sy lewe sou kos. Ek verstaan dit nie. Sou my kind dan geen simptome gehad het nie? Sou hy nie sieklik gewees het nie? Daar was geen aanduiding dat hy iets makeer het nie; dís hoekom ons nie met sy skokdood kan vrede maak nie. Ons wil graag ʼn tweede mening hê – nie omdat ons sê dis die dagmoeder se skuld nie, maar omdat ons steeds wroeg met te veel vrae.”

Ackerman sê haar en Johan se ander kinders, onderskeidelik 14, nege en vier jaar oud, is ook geruk deur die voorval en weet nog nie hoe om die verlies van hul boetie te verwerk nie.

Sy sê hul huis voel veral leeg nadat Johan vandag (9 Julie) teruggekeer het werk toe. “Ek kan nie ophou huil nie. Sal ʼn mens ooit ophou huil? Dalk maak die alleenwees by die huis die seer erger. Maar alles is steeds nes dit voorheen was: ons kamer is vir hom ingerig en die bababedjie staan steeds in presies dieselfde posisie. Alles is dieselfde, behalwe dat my kind dood is.”

ʼn Diens is verlede Vrydag vir JJ gehou. Die egpaar sal dié week eers ʼn besluit neem oor ʼn tweede nadoodse ondersoek voordat hy eerskomende Vrydag veras word.

JJ saam met pa Johan (Foto: Verskaf)

Die verassingsbrief (Foto: Verskaf)

Klein JJ se verassingsdiens (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

52 Kommentare

Piet Pompies ·

Baie tragies, sterkte aan die ouers en familie, sterkte aan die dagmoeder.

Sjoe sterkte ·

Sjoe sterkte aan almal betrokke, die sibbe & ouers en die arme dagmoeder ook. Daar is geen groter hartseer en verlies nie!

Kwaaitjie ·

Sjoe, my hart gaan uit aan die ouers. Maar dis Ok na die dagmoeder wat volgens haar ‘n gesonde seuntjie opgepas het en sekerlik ook net vra hom wou liefde gee. Mag hul antwoorde kry waarna hul soek. RIV kleine seuntjie.

Marina St ·

So bitter jammer oor julle groot verlies. Mag God julle vertroos en vashou in hierdie tyd. Dit was ‘n pragtige seuntjie.

kas ·

Ja ons eerste seun is ook net tien minute na geboorte oorlede omdat hy te vroeg gebore is.Niks kon ons hartseer stil maak nie en nou 31 jaar later wonder jy nog dikwels.Hoe sou sy lewe gewees het,sou hy ‘n goeie sportman gewees het.Sy broer is alles wat ‘n pa van ‘n seun koester.Ek weet hoe daai ouers voel.Sterkte aan julle met julle groot verlies.Vandat ek nie meer vrae vra nie gaan dit baie beter want daar is nie antwoorde nie.

Johanna ·

Wat n tragiese gebeurtenis vir almal betrokke. RIV klein JJ. en alle simpatie aan Pappa en Mamma van die liefling seuntjie.

Erika ·

My hart gaan uit na julle as gesin. My seuntjie is op die ouderdom van 5 ook van ons weggeruk. Die een oomblik het hy nog gesels en 5 minute later toe ek by hom kom was hy reeds weg. Ek dink nie n ouer kom ooit oor n kind se dood nie. Dit het my maande geneem om sy kamer uit te sorteer – al wat ek kan sê is doen dit so spoedig as moontlik want die pyn en hartseer was vir my van voor af n werklikheid. Sterke

Ecd student ·

Dit is n voorvereiste vir enoge dagsorg/ kleuerskool om die area se nood nommers te hê. Sowel as ander noodplanne soos bom brand ens. Vra eerder is daardie dagsorg geregistreerd want daar is n paar vra wat gevra moet word. Sterkte aan almal betrokke, veral die gesin en rus in vrede JJ.

Heidi ·

Ek kan nie glo dat die dagmoeder nie nooddienste se nommers het nie! Ek het van ER24 Brandweer polisie buurtwag se nommers in geval van nood. Met die genade van Bo was ek so paar jaar gelede in n situasie wat n persoon besig was om te sterf van oordosering van dwelms. ER24 was binne minute daar en kon die persoon red.

Alle simpatie ·

Ek is nog nie ‘n moeder nie maar ek het die berig met trane in my oë gelees. Baie sterkte, ek kan nie myself daai pyn indink nie. My man se broer (34) is sowat ‘n jaar terug oorlede en my neef (21) is ‘n maand terug oorlede, ek het gesien wat dit aan ‘n moeder doen. Dit ruk ‘n deel van jou siel uit.

Stan ·

Verskriklik jammer oor die verlies, het self 2 klein kinders, kan my nie indink nie!! Volgens my medies agtergrond en kennis maak die oorsaak nie sin nie!! Virale infeksies gaan ALTYD gepaard met simptome, my mening. Sterkte aan die familie en almal betrokke by hierdie baie slegte ervaring!!!

JSG ·

Alle simpatie aan die ouers. Stem met jou saam, Stan, want dit wil voorkom of die ouers nie bewus was van die kind se toestand. Tydens pediatriese ondersoeke moes dit al opgetel gewees het, of het die ouers glad nie die kind vir opvolg ondersoeke gevat. Ook moontlik dat die pediater nie sy/haar werk behoorlik gedoen het.

Hester ·

Ek is bly jy noem dat daar simtome moes gewees het. Maar hy was gesond. Dis baie hartseer vir my as Sy Tanie , Ek het 20 jaar met Kinders gewerk en verstaan nie hoekom Die ambulance nie eerste gebel is nie? Om n lisensie vir n dagsorg te kry moet jy n geldige first aid sertifikaat hê, CPR kan doen en aan hou om dit te doen tot Die ambulance personeel Opdaag en oor vat? Dit het nie gebeur nie aan gesien Die ma dit moes doen toe hy al hoe lank nie asem gehad het nie….ek voel vir Die dag moeder maar as mens Kinders in jou sorg het, selfs jou eie dan moet jy vinnig en effektief volgens regulsies kan deel met enige nood om jouself nie bloot te Stel aan nalatigheid Nie. Ek voel wanneer hierdie vrae beantwoord is sal die ouers baie meer berusting kan kry. Sterkte Tash en Johan ons bid vir julle rus in Vrede one klein JJ.

Gesiggie ·

My hart ruk in mekaar, trane loop, en ek vra diesefde… maar hoe… as hy dan nog so n gesonde seuntjie was… hoe verwerk n Mamma en Pappa al die seer?? hy was so n engel kind.. ons kan oor en oor dieselfde vra, maar sal nie nou die antwoord kry… niemand kan op die stadium vingers wys, ek wil net vra? hoe kon die Dagmoeder nie eers n nommer vir die ambulans dienste besit? enige iemand is veronderstel om Nood nommers te hou… mag jul gou verneem wat eintlik die oorsaak was… Mamma jou hart gaan vir n baie lang tydperk nog baie rou wees… ek gun die seer wat jul nou het vir niemand. Jesus vou die gesin styf toe in U arms…. So jammer vir jul verlies… Rus sag klein Baba JJ….

Kwaaitjie ·

Sy was dalk so oorstuur dat sy nie reguit kon dink nie. My hart gaan uit na die dagmoeder ook.

Hartseer ·

Dit het met my 4 jaar terug gebeur. Ek kan net sê geen woorde kan die hartseer stil maak nie. Geen haas om babatjie se goedjies weg te pak of tot niet te maak, het die seer minder gemaak nie. Haat en verwyte loop nou nog saam my. Mag die Heer jul pad makliker maak en mag jul vrede en liefde vind in jul pragtige kindertjies wat jul nog het. My hart bloei vir jul.

Katerina ·

Ai dis bitterlik baie hartseer. My innige simpatie aan die ouers. Dis verskriklik, ek kan my skaars indink..Ek het 3 miskrame gehad, 2 daarvan op 5 maande en dis ontsettend hartseer, maar ek sou dink dis soveel erger vir ouers wat die baba reeds in hul lewens gehad het. My oudste dogter het n tweeling, seuntjies, van net oor 1 jaar oud. Mens bekommer mens maar altyd, veral in Die land. Die ding is,om lief te he, is die grootste risiko wat n mens kan onderneem- maar wat is die lewe daarsonder, sonder familie en geliefdes?

Tina du Toit ·

Dis verskriklik hartseer. Die trane loop en ek plaas my in julle skoene. Ek voel hoe pak angs om my hart en hartseer. Die pyn maak alles ondraaglik, alles voel soos `n droom. Dis die seerste seer en ek wens ek kon iets doen. Ek bid vir julle vir krag en vertroosting. Mag God met julle wees. My Here God, wees met hierdie gesin in hulle hartseer tyd, wees met hulle elke dag. Amen

Ook 'n mamma ·

Mens kom nooit oor die verlies van jou kind nie, ongeag hul ouderdom en hoe hul dood is. Ek sit ook in daardie bootjie. My arms is al lam geroei, net om staande te bly. Ek het baie vrae met geen antwoorde nie. My kind was ook ‘n statistiek van die land – motor ongeluk wat sommer 4 lewens op een slag uitgewis het. Hierdie traumatiese ondervindings speel gereeld in jou kop af, sonder antwoorde.

Sterkte aan julle ek bid vir julle

Tertia Human ·

Sterkte aan julle as familie dis so tragies – woorde kan dit nie beskryf nie-mag JESUS julle styf vas hou en vertroetel in hierdie moeilike tyd.

Anoniem ·

Sou die ouers oorweeg om ondersoek in te stel oor die skade wat inentings moontlik kon aanrig? Hoe lank voor die babatjie se dood is hy inge-ent?

Alba ·

Ek wonder ook oor dieselfde ding. Verseker iets wat ondersoek moet word.

Moontlik ·

Anoniem,
Hoe absurd dit ookal mag klink ( vir oningeligtes),dis die moeite werd om die moontlikheid op te volg. Ek praat uit ondervinding.

Anoniem ·

Moontlik,

Ek wens ouers was meer hieroor ingelig! ‘n Goeie begin is om die voubiljet te lees wat saam met inentings kom om te besef dit kan lewens neem, en soveel ander nadele te midde bring. My hart gaan werklik uit na die ouers.

Marie ·

Solank hulle net saam met al die nadele ook ingelig word oor die miljoene lewens wat al gered is deur inentings.

Andrea ·

O liewe Vader, wat kan erger wees as dit waar deur hierdie ouers gaan? Wees asb met hulle , liewe Heer.
Baie sterkte, ek kry jul só bitter jammer. En vergewe my, maar die dagmoeder klink nie baie competent nie. Ek twyfel of sy betyds hulp sou kon kry, maar om darem NIKS te doen nie, maak nie sin nie. As my kind huidiglik by haar was, sou ek hom weggevat het.
Weereens sterkte aan die ouers, sibbe en familie.

Oopkop ·

Dis baie hartseer vir die ouers en die dagmoeder. Wat n skok moes dit nie vir almal betrokke gewees het nie. Geen dagmoeder wil dit onder haar liefdevolle sorg sien gebeur nie. SIDS is ook een van daai dinge wat maklik n kleuter se lewe kan neem sonder waarskuwing. Met of sonder hulp sou hierdie kleintjies doodgegaan het. Verstaan net nie hoekom die ouers in vertel is van die dreigend siekte nie. Die skok is groot, maar nie die ouers of dagmoeder se skuld nie. Groot verlies wat duidelik onvermydelik was. Voel baie hartseer vir ouers en dagmoeder. Sterkte.

$ ·

‘n Paar stellings in die berig ontstel my (bo en behalwe die bittere hartseer):
*Oproep: “jou kind is dood … kom haal hom” – ek hoop werklik nie die woorde was so kil en hard soos dit hier weergegee word nie; is dit moontlik net hoe die berig geskryf is? My hart ys vir die ouers as dít is hoe die dagmoeder werklik die nuus oorgedra het;
*”… waar sy JJ op die kombuiskas aangetref het…”; sjoe, tensy dit is omdat hulle dáár (op daardie harde, koue oppervlak?) noodbehandeling toegepas het, is dit vir my vreeslik om te dink mamma moes die kleinding só vind;
*hy was spierwit en yskoud … jy kon sien hy was al ‘n rukkie nie meer met ons nie” – dit laat vrae oor hoe lank die dagmoeder geneem het om die mamma te bel, en ook hoe lank JJ reeds dood was voordat die dagmoeder dit agtergekom het? Hoeveel aandag het sy aan hom gegee,veral sy eerste dag by haar, dat hy reeds ‘n rukkie weg was en spierwit en yskoud voordat sy hom probeer bybring het? Indien hy onlangs ophou asemhaal het en die “probeer bybring” die rede was dat hy op die kombuiskas was, moes hy nie nog warm gewees het nie?

Oor die gebrek aan ‘n nommer vir d ambulans as jy teen betaling ander mense se babas oppas … mag ander hieruit leer…

Natshia, sterkte – jou ontsteltenis en soeke na antwoorde is geregverdig …

Rebecca ·

Ek het ook gedink dit was effens kras… my babatjie het PCD en dit kroniese virale infeksie. Sy was van kleins af slymerig en koorsig op 4 maande 1ste keer hospitaal toe en sy is nou 2 en was al 23 keer op geneem. Ek stem nie saam net die diagnose nie want daar moes simptome wees. En ek sou beserk gaan as dit my kind was in daardie skooltjie.

Verward ·

Hoe kan n dagmoeder nie die nooddienste se nommers ken as sy kinders oppas nie… en as jy kinders oppas behoort jy darem CPR te kan toe pas…. my hart breek vir hierdie mamma. So hartseer….

Magaretha van heerden ·

Baie hartseer ding wat gebeur het. Hoop julle kry vertroosting by die Here. Net Hy kan julle vertroos.

Marisa ·

Ek ken hierdie pyn. Die vrae gaan nie ophou nie. Die seer ook nie. Dis net die verlang wat nou agterbly. Dis al. Dis nou deel van hulle pad vorentoe ook. Dis onmenslik. Ek hoop dat hulle die nodige ondersteuning het vir hierdie wroeging. Daar is nie woorde nie.

Nikita ·

So baie jammer Nathasia en gesin. Trane loop oor my wang. Die lewe is soms so onregverdig en maak party maal nie sin nie. Mag Jesus julle vertroos en krag gee. Hou aan mekaar vas. Baie sterkte.

Dr J ·

Ek is ‘n dokter en ek wil darem se dat hoewel so iets uiters ongewoon is, is dit nie onmoontlik is nie. Ek was al meer as een keer langs die bed van so ‘n geval. Dis ongelooflik tragies.

Ek dink voordat ‘n mens enige blaam op enigeen pak, is ‘n tweede opinie dalk goed. Ek weerhou myself van enige opinie in hierdie spesifieke geval omdat die outjie nie onder my hande was nie. Ongelukkig sal die feit dat die outjie veras is, ‘n forensiese ondersoek so te se onmoontlik maak.

Liefde en sterkte vir julle. Mag julle God se alwetende wysheid in hierdie tyd, of dalk net mettertyd, beleef.

Dr L ·

Kollega, ek moet saamstem. Ons was nie daar nie, maar ek moet darem beklemtoon dat die anti-vaksineerder beweging meer skade aanrig met hulle oningeligtheid en deesdae alle probleme op inentings plaas. Dit dra nie iets posetief by tot hierdie tragedie nie, maar mense moenie tot konklusies kom wat ongegrond is nie.

My hart gaan uit na die familie en Gods genade vir julle…

grotman77 ·

Ai sterkte aan ouers en dagmoeder albei gaan deur trauma. Paar wenke ouers vra dagsorg of hul vlak een noodhulp het vra vir sertifikaat. kyk of plek n lys met noodnommers het. Stap rond en kyk vir moontlike risks en of daar n plan is om die risks te verminder. Voldoen die dagsorg aan die minimum OHS standaarde vir die bedryf. Het hul n sertifikaat van gesondheids dept om kos te bewerk.. voldoen plek aan higieniese standaarde. Is daar n brandblusser, noodhulp sak of kassie, fire blanket. Is persoon opgelei in basiese sorg van baba en pleuters en is daar voldoende toesig. Dis maar die klomp goed wat ons in plek het vir ons kampe. Indien nie in plek is nie vra dagsorg om nodige veranderinge aan te bring dit dek jou en dagsorg .

Ronel ·

Dit Klink na SIDS, en 4 maande is die peak tyd waar dit gebeur. Die virale long infeksie , nee dit kan Ek nie Glo nie – Daar moes tekens van siekte gewees het. ‘n Verkoue, congestion dra dikwels by tot SIDS. Sowel as immunisasies. JJ het seker geslaap en net ophou asemhou so die dagmoeder is nie te blameer in so geval nie, alhoewel sy moet weet van baba cpr en nooddiensnommers he. So jammer vir julle hartseer verlies.

Hanli ·

Woorde het ek nie net bitter bitter jammerte vir daardie groot verlies. Niks maar niks wat ons sê sal dit verander nie maar weet net daar is so baie mense wat julle smart deel. Ek wens julle sterkte toe en bid dat julle die krag sal hê om dit te kan hanteer.

VanAfrika ·

Dankie tog niemand sê dit was sy tyd of God het Sy mooiste rosie kom pluk nie en al daardie nonsens, dankie julle. Ek wil net vir hierdie mamma en pappa sê, my innigste simpatie, my hart gaan uit na julle en ek huil saam met julle, ons sou eerder ons babas in ons arms wou hou. Nooit sal ons ooit antwoorde hê nie, net daardie leë plekkie in jou hart en siel en n graffie om te besoek. Dis my kuier plek vir my kleinding. Nou moet julle mekaar ondersteun en huil saam, moet dit nie alleen doen nie. My eks het die pad gevat en nooit meer huis toe gekom nie, al sy tyd by vriende en sy ma spandeer tot ons geskei is en maak ek die ander twee seuns toe alleen groot, moenie dieselfde pad stap nie, as julle seer het praat met mekaar en praat oor hom en van hom en laat sy liggie skyn. Betrek die hele familie as julle herdenk en bly bymekaar staan. Ek gee hierdie raad aan julle uit ondervinding want ek staan al vir 23 jaar alleen langs sy graffie. Mag die Heer julle dra soos Hy by my staan en my nog steeds dra. Ek bid vir julle.

Marietjie ·

Alhoewel my hart uitgaan na hierdie familie, ken ek hulle en klein JJ goed. Die baba het vanaf geboorte ‘n roggelgeluid in sy longetjies gehad en soms gesukkel om asem te kry. Sy mamma, Natasha, was heeltemal hiervan bewus. Sy het ook erken dat sy straf gerook het met sy swangerskap. So, ek verstaan nie hoekom is daar steeds vrae nie? Beide die Suster asook die dokter het die situasie verduidelik. Ek was daar. Maak vrede, rou en onthou hom as die pragtige kind wat hy was. Dit is mos nie nodig om nog sout in die wonde te vryf nie!
Die dagmoeder kyk al byna 8 jaar na my kleinkinders en sy is onvoorwaardelik lief vir hulle. Sy is ook stukkend en moet ook hierdie nare ondervinding deurwerk. Terloops sy kyk al byna 45 jaar na kinders! Sy het haar sertifikaat van Noodhulp vir my gewys. ook haar registrasie sertifikate. Ook haar boekie by die telefoon met al die ouers se nommers asook alle noodnommers. Maar helaas, Wat ‘n geweldig skok moes dit nie gewees het nie! Wie van ons kan onomwonde weet hoe ons sal reageer in so ‘n krisis? As julle die opset van haar huis ken, sou jul saamgestem het dat die kombuiskas ( eiland in die kombuis) die mees soliede plek was om noodhulp toe te pas. Ek eken haar ook nie as ‘n kras mens nie….!Ons dra hulle maar net oor aan die genade van die Here. Vertroosting sal kom op sy tyd.

JSO ·

Dankie @Marietjie vir die feite. Ongelukkig kan mens nooit alles weet wat gebeur het nie en gaan soms op loop met die bietjie inligting wat wel beskikbaar is.

Alta ·

Marietjie, baie dankie dat jy klarigheid gebring het romdom baie vrae wat gevra was. Hierdie is tragies en my hart gaan uit na die ouers – min dinge so erg soos om ‘n kind aan die dood af te staan. Ek voel ook baie jammer vir die dagmoeder – wat ‘n nagmerrie-situasie as een van “haar baba’s” in haar sorg iets oorkom. Mag die liewe Vader troos, berusting gee en heelmaak.

Sybrand de Beer ·

Ek sal graag met die ouers in aanraking wil kom. Ons dogter, Lumè, is verlede jaar ook op 2 Julie skielik oorlede (julle het ook daaroor berig). Sal hul graag wil
Ondersteun in hierdie moeilike tyd.

JSO ·

Sjoe @Sybrand de Beer – nou net julle berig gegoogle en gelees. Sterkte vorentoe.

Gesiggie ·

Dankie Marrietjie… nou verstaan mens beter… dit is so jammer dat dit op so n manier moes gebeur… Kan net dink waardeur die Dagmoeder moes gaan.. sterkte aan die ouers en ook aan die Dierbare Tannie … n mens hoor nie altyd die ware verhaal. Dit bly baie hartseer om net na sy ou gesiggie te kyk, laat my net weer huil.

dennis ·

ja ..wat kan n mens se,,,,ek weet hoe dit voel..my klein seuntjie is in my arms oorlede,,die seer en trane hou vir n baie baie lang tyd

E.K. die eerste ·

Verskriklik! Ek voel opreg jammer vir die arme ouers en natuurlik die arme dagmoeder ook. Dis immers nie haar skuld nie!Ek kan dink hoe sy ook moe tvoel. AI arme mense ek kan jul net sterkte toewens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.