Dagsorgsentrum sluit deure ná woede oor video

Foto: Verskaf)

Die Woelwaters-dagsorgsentrum op Kroonstad se deure is tot verdere kennisgewing gesluit ná ʼn video wat wys hoe ʼn dagmoeder glo kos in ʼn kleuter se keel probeer afdwing, geweldige woede veroorsaak het.

Maroela Media het vroeër berig die video – wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het – wys hoe die vrou in ʼn voorval wat verlede Woensdag plaasgevind het, herhaaldelik op ʼn huilende driejarige skree en hom glo dwing om sy kos te eet.

In die video kan gesien word hoe die vrou die kind aan sy hare gryp en die kos glo in sy keel probeer afdwing.

Talle ouers en sosialemediagebruikers het intussen hul misnoeë oor Jean-Louise Kachelhoffer, die dagmoeder in die betrokke video, se gedrag te kenne gegee.

“Ek moes my skooltjie se deure noodgedwonge sluit ná die video versprei is omdat my skool nie geregistreer is nie,” sê Kachelhoffer.

Sy voer egter aan dat sy nie een enkele kind uit haar dagsorgsentrum verloor het sedert die video versprei is nie. Kachelhoffer sê talle ouers staan bankvas agter haar.

“Ek werk tans as ʼn kinderoppasser vir die ouers van my skool, ek gaan dus na hulle huise toe om die kindertjies op te pas.

“Die ouers is besig om ʼn plan te maak en hulle probeer my help om my skool se deure weer te open,” sê sy.

“Hulle baklei links en regs vir my by die departement van onderwys. Ek het al die ouers se volle ondersteuning, ek kan dit eintlik nie glo nie. Ek is baie dankbaar vir hulle steun en liefde in hierdie moeilike tyd.”

(Foto: Skermgreep uit video)

Kachelhoffer vertel dat sy in hierdie stadium al haar dokumente regkry om die Woelwaters-dagsorgsentrum formeel te registreer.

“Ek weet ek het baie groot moeilikheid gemaak, maar ek gaan nie toelaat dat my vier jaar se harde werk net tot niet gaan nie.

“As ek die geleentheid gegun word om weer my dagsorgsentrum se deure te open, sal ek in kringtelevisiekameras belê. Dit sal die eerste ding wees wat ek doen,” sê Kachelhoffer.

“Ouers sal toegang tot hierdie kameras hê wat hulle sal toelaat om enige tyd van die dag in te skakel om te kyk wat by die skool aangaan. Dit is al opsie wat ek nou het.”

Kachelhoffer het intussen ʼn plasing op haar Facebook-blad gedeel waarin sy haar weergawe van gebeure stel.

“Dit is die eerste keer dat so iets met my gebeur en dit sal nie weer gebeur nie, dit kan ek belowe.

“Ek het nie in daardie stadium geweet wat ek doen nie, ek het gedink ek doen die ma van die kind ʼn guns.

“Ek voel baie sleg oor wat gebeur het, ek kon die afgelope vier dae nie ʼn krummel kos in my maag kry nie – so sleg voel ek – maar dit het nou klaar gebeur en daar is nou niks wat ek aan die situasie kan doen nie.”

Sy voer aan dat Leah-Anne Wagstaff, die seuntjie in die video se ma, haar wou bykom deur die video-opname te doen en op sosiale media te deel “deur haar eie kind te misbruik om dit reg te kry”.

“Sy het my vir ʼn vuile gevang deur  ʼn video te neem nadat sy my gevra het om haar te help. Ek is baie hartseer oor hierdie voorval. Ek kan nie glo dat sy so teen my gedraai het nadat sy my om hulp genader het en ek haar probeer help het nie.

“Ek weet dat ek die situasie nie op die regte manier hanteer het nie.”

Volgens Kachelhoffer sou die kind nie geluister het as sy hom eenvoudig mooi gevra het om te eet nie.

“Daar is nie ʼn manier nie, hy sou vir my lag. Ek moes my stem dik maak met hom,” sê Kachelhoffer.

“Ek kom so sleg in die video voor, maar ek is nie ’n monster nie, inteendeel dink ek dat ek die mooiste hart onder die son het. Ek sal nooit hierdie soort ding vir die verkeerde redes doen nie.”

Die dagsorgsentrum het Woensdag tot verdere kennisgewing gesluit.

“Ek en die ouers van my skool sal aanhou baklei om die skool weer oop te kry.”

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die polisie is steeds besig om die voorval te ondersoek.

“Ons is tans besig om die relevante verklarings en verslae te bekom en om alle bewyse in te samel.

“Die klag van aanranding het intussen tot ʼn klag van kindermishandeling verander. Die voorval word deur die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.

“Geen inhegtenisnemings is al in gedoen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Adriana ·

As die ma dan nou self die video geneem het hoekom het sy nie daar en dan die vrou aangevat nie, hoekom sosial media toe hardloop, dan is sy mos net so skuldig, miskien sukkel sy ook daarmee dat die kind eet en wie weet wat sy met haar kind in so situasie doen. Die wat die arme dagmoeder so aanval raak jul nooit moedeloos met jul kinders.

Elma ·

Ongelukkig sou om die vrou aan te vat, geen effek hê nie. Sulke voorvalle moet op sosiale media versprei word. Ons vertrou ons KINDERS toe aan hierdie tipe mense! En elke mens het die reg om te weet wat daar aangaan. Beeldmateriaal lieg nie. Om iemand “aan te vat” is op die ou end jou woord teen sy woord. En wat presies het die vrou gedink toe sy sonder die nodige registrasie n dagsorg wou bedryf? Dit op sigself is vir my n redelike aanduiding van die kaliber mens.

AmY ·

Dit het met my gebeur op kleuterskool. 1974
Ek lewe nog steeds én die kleuterskool bestaan nog steeds.
Maar dalk was daai kind siek gewees?

Anonymouse ·

Ek kan nie mooi jou punt verstaan nie? Is jou mening omdat jy nog leef, die behandeling wat jy ontvang het reg was? As dit is wat jy bedoel, kry ek jou jammer. Maar dit maak geen verskil aan hoe verkeerd dit is wanneer groot mense kindertjies boelie nie. As enige iemand dink dis disipline om ‘n kind aan die hare gryp en kos in hulle keel af te druk, moet daai persoon baie ver van kinders afgehou word. Ek hoop Kachelhoffer sal nooit weer togelaat word om ‘n skool te bedryf nie.

Karen ·

Mooi, my seun wat niks sonder brille kan sien nie se hempiw was geskeur, tot vandag 13 jaar later nie ñ antwoord oor hoe dit gebeur het gekry nie, en hulle het geweier dat ek na die video kyk, daar is ñ paar lelike mense wat Dagsorg vanaf 3 maande verskaf, maar nie die reëls volg nie.

Nici ·

Ek kan ook nie glo enige ouer sal haar ondersteun na hoe sy daai kind behandel het nie. Geen manier dat ek haar met my kind sou vertrou nie. Die res van die kinders in die video kom ook besonders stil voor.

Plattelandmeisie ·

Hoe op aarde is dit okay om kos in n kind se keel aaf te dwing?….. al is hy siek, al is hy gesond….genade mense!

miche ·

‘n Mens “force feed” geen kind om te eet nie. Dis absurd ( en wreed) verby. Daar is ander maniere om die situasie op te los.

Johann ·

Nee kyk, die een smeer die heuning kwas dik. Enigste een by haar eie pitty party. Daars mos nie ‘n MANIER wat sy die waarheid praat nie. Nie dat ek verstaan hoe ‘n ma toelaat dat haarkind só behandel word en dit afneem?

Danie ·

Gelukkig hoef ek nie met ander mense se swak opgevoede bedorwe gemorsies te sukkel nie. As die kind nie wil eet nie laat hom/haar dan maar honger gaan slaap.

Karoo ·

Mev. Kachelhoffer, dit is hoogs onverantwoordwlik om nie jou besigheid te registreer nie, hoekom sou jy nie? Ouers, julle moet daarop aandring om die registrasie van kinder sorg te sien. Byde partye is skuldig en nalatig. Daar is riglyne inplek wat byde partye beskerm. Hoop almal kan vorem toe beweeg en verbeter.

Duck ·

Jy het ‘n groot fout begaan en jy sal nou die nagevolge daarvan moet dra. Kry maar solank vir jou ‘n ander werk want oopmaak, gaan jy nie weer nie. Ek hoop ek is verkeerd

ES ·

Maak nie saak of die kind stout of moedswillig is nie, jy dwing nie kos in sy keel af nie. As jy nou regtig moet pakslae gee dan doen jy dit, maar daai kind kan verstik en versmoor. Dit laat ook emosionele letsel vir baie jare na die tyd. Swak besluit wat jy geneem het en nou die gevolge voor gaan dra.

Dandeleen ·

Daar is ‘n baie groot verskil tussen om jou stem duk te maak en om kos in ‘n kind se keel af te vorseer!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.