Dalai Lama se visum dalk wéér afgekeur

Desmond Tutu en sy vriend, die Dalai Lama Foto: memeburn.com

Desmond Tutu en sy vriend, die Dalai Lama Foto: memeburn.com

Die Dalai Lama is weer toegang na Suid-Afrika geweier, het die Cape Times Donderdag berig. Dié geestelike leier van Tibet wou die 14de Wêreldberaad vir Nobelpryswenners bywoon.

Nangsa Choedon, die Dalai Lama se verteenwoordiger in Suid-Afrika, het gesê beamptes van die departement van internasionale betrekkinge het hul kantoor verlede week geskakel om te sê dat die visum nie goedgekeur gaan word nie. Sy het nog nie ʼn skriftelike bevestiging hiervan ontvang nie.

“Die Dalai Lama het nou besluit om sy besoek aan Suid-Afrika te kanselleer,” het Choedon aan die koerant gesê.

Die beraad vind volgende maand in Kaapstad plaas en word gereël deur ʼn plaaslike komitee namens die stigtings van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, Nelson Mandela, FW de Klerk en Albert Luthuli gereël.

Volgens die koerant het ander Nobelpryswenners glo aan Tutu gesê hulle gaan nie die beraad bywoon indien die Dalai Lama nie in die land toegelaat word nie.

Dit is die derde keer in vyf jaar wat die geestelike nie ʼn visum kon bekom nie. Die departement wou nie bevestig of ontken dat die visum geweier is nie.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, wat as gasheer sal optree, het stadsbeamptes opdrag gegee om aan die regering te skryf en vas te stel of die Dalai Lama se visum geweier is. “Ons het nog nie van hulle gehoor nie,” het sy gesê. “Ek bly hoopvol dat ons regering nie die Dalai Lama weer sal verneder nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.