Dale Steyn maak geskiedenis

Dale Steyn. Foto: (AP Photo/Rajanish Kakade, File)

Dale Steyn het Woensdag tydens die openingsdag van die Kerstoets teen Pakistan op SuperSportpark in Centurion geskiedenis gemaak.

Steyn het sy 422ste toetspaaltjie geneem en sodoende vir Shaun Pollock verbygesteek as die Suid-Afrikaner wat die meeste toetspaaltjies geneem het.

Die 35-jarige Steyn het die rekord tydens sy 89ste toets verbeter terwyl dit Pollock 108 toetse geneem het om tot by 421 toetspaaltjies te kom. Pollock het die rekord in 2008 opgestel.

Veertien jaar nadat Steyn sy debuut vir die Proteas gemaak het, lê hy nou in die 11de plek op die wêreldranglys van boulers wat nog die meeste paaltjies kon inoes. Muttiah Muralitharan van Sri Lanka het die meeste toetspaaltjies (800) in die geskiedenis platgetrek.

Steyn, wat bekend staan as die Phalaborwa Express, het die afgelope twee jaar onder beserings deurgeloop nadat hy in 2016 sy skouer beseer het in ʼn toets teen Australië.

Pollock het Steyn intussen gelukgewens met sy nuwe rekord. “Hy is al so lank ʼn fantastiese bouler vir Suid-Afrika. Sy prestasies, plaaslik én internasionaal, is merkwaardig in soveel opsigte. Hy is ten volle verdienstelik om die rekord te hou en ek hoop hy sal nog rekords agter sy naam skryf.”

Krieket Suid-Afrika het Steyn ook gelukgewens met sy prestasie. “Dale is ongetwyfeld een van die beste snelboulers van alle tye en ons is ongelooflik trots op wat hy bereik het,” het Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.