Daling in brandstofpryse volgende week verwag

Argieffoto

Argieffoto

Die prys van 95-oktaan petrol kan in Augustus met sowat 5c per liter daal, terwyl die groothandelprys van diesel met ongeveer 10c behoort te daal.

Paul Joubert, ‘n senior navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die moontlike daling word toegeskryf aan die versterking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar in die afgelope week en ʼn half, sowel as die beduidende dalings in internasionale petroleumprodukpryse sedert die begin van Julie.

“Indien die departement van energie moontlik besluit om ook in Augustus veranderinge aan winsmarges of ander vaste komponente van die prys te maak, kan dit hierdie geringe dalings uitkanselleer,” het Joubert gesê. “Die nuwe pryse sal steeds naby aan die rekordhoogtepunte wees wat in Maart en April vanjaar opgestel is.”

Joubert het bygevoeg dat indien die relatief lae vlakke van internasionale petroleumprodukpryse en die relatiewe sterkte van die rand deur die loop van Augustus volgehou word, Suid-Afrikaanse brandstofpryse in September met ʼn beduidende bedrag kan daal.

“Suid-Afrikaanse brandstofpryse word maandeliks volgens ʼn vaste formule, wat slegs deur die rand/dollar-wisselkoers en internasionale petroleumprodukpryse beïnvloed word, deur die departement van energie vasgestel. Die gemiddelde wisselkoers en internasionale pryse deur die loop van ʼn maand word vergelyk met die gemiddeldes vir die vorige maand en dit bepaal dan die prys vir die daaropvolgende maand,” het hy gesê.

Veranderinge aan komponente van die prys soos die leiheffing wat soms tydelik ingestel word, of sporadiese veranderinge aan die groot- en kleinhandelwinsmarges kan nie vooraf voorspel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.