Soorte resepte:

Daling in kookoliepryse verwag

Kanola in die Wes-Kaap (Foto: Maroela Media)

Deur Leonie Bezuidenhout

Verbruikers van kookolie kan eersdaags ʼn effense sug van verligting slaak wanneer die pryse van sonneblom- en kanola-olie in supermarkte na verwagting met ʼn beduidende persentasie sal daal.

Maroela Media het ʼn paar vrae aan Morné Botes, kommersiële direkteur van Soill, wat die B-Well‑ en African Gold‑kookolie-handelsmerke besit, gestel oor dié goeie nuus vir Suid-Afrikaanse huishoudings.

Met watter persentasie gaan sonneblom- en kanola-oliepryse na verwagting daal?

Die sonneblomoliemarkpryse het van die begin van die jaar met om en by 20% gedaal, teenoor dié van kanola-olie wat gedaal het met 15%. Die pryse behoort nou in die mark by kleinhandelaars sigbaar te word.

Wanneer kan verbruikers uitsien na dié daling?

Die daling het geleidelik deurgekom, maar wat baie belangrik is om te verstaan is dat die volle verhoging van die oliemark aanvanklik nie ten volle na die eindverbruiker met die aanvang van die oorlog in Oekraïne deurgegee is nie.

Die sprong in die oliepryse was net te wisselvallig en aggressief en die uitwerking daarvan het in ʼn baie kort tydperk ʼn ongelooflike negatiewe impak op die verbruiker gehad. ʼn Sekere komponent van die koste is aanvanklik deur die verwerkers en die kleinhandelaars geabsorbeer.

Waaraan kan die daling in dié pryse toegeskryf word?

In kort kan die daling in kookoliepryse aan die bykomende beskikbaarheid van olie in die wêreldmark toegeskryf word.

Die Europese oestydperk vir sonneblom- en kanola-olie is gedurende September en Oktober, wat bykomende volumes van plantolies in die mark bring.

Terselfdertyd was daar aanvanklik ʼn verbod op uitvoere van palmolie in Indonesië, wat veroorsaak het dat die beskikbare volume van palmolie in die land opgebou het. Die pryse van palmolie het gevolglik baie aggressief gedaal in die lig van die uitvoerbeperking.

Laastens het die beskikbaarheid van olie in Oekraïne en Rusland begin uitvloei, wat die verskaffingsdruk op sonneblomolie verlig het.

Hoeveel sal verbruikers na verwagting betaal per liter vir sonneblom- en kanola-olie?

Die prys van sonneblomolie in die kleinhandelmark behoort teen September of Oktober rondom R70 tot R80 per 2ℓ te wees, terwyl kanola-olie op promosie rondom R85 tot R90 per 2ℓ kan wees gedurende dieselfde tydperk.

Hoe het die oorlog in Oekraïne die pryse van kookolie in Suid-Afrika beïnvloed?

Suid-Afrika is net ʼn invoerder van olie, wat beteken ons vervaardig nie genoeg olie vir ons eie gebruik nie. Ons is dus afhanklik van die internasionale mark om aan ons oliebehoefte te voldoen.

Daarom beïnvloed enige impak wat die wêreldmark beïnvloed die plaaslike mark ook direk. Die oorlog het baie vinnige en aggressiewe prysverhogings in die mark ingebring in Maart en April, wat toe pryse gestyg het tot tussen R100 en R120 per 2ℓ.

Watter ander bydraende faktore, buiten die oorlog in Oekraïne, het ʼn impak op die vervaardiging van kookolie?

Plaaslike olievervaardiging is gekoppel aan die koste van saad, asook die verwerkingskoste, wat die swaarste beïnvloed word deur die koste van diesel en die wisselkoers met invoere.

Die belangrike komponent om te verstaan is dat Suid-Afrika ʼn oop ekonomie het, wat beteken ons kompeteer met internasionale spelers. As die olie in Suid-Afrika goedkoper is as byvoorbeeld in die Europese mark, gaan die olie uitgevoer word totdat die oliepryse in lyn met internasionale pryse kom.

Net so, as die oliepryse in Suid-Afrika hoër is as internasionale pryse, gaan plaaslike olie nie verkoop nie en slegs vervang word met goedkoper internasionale olie. Daarom is die kommoditeitsprys direk gekoppel aan internasionale pryse sodat ons plaaslike produksie kan stimuleer en invoere kan beperk teenoor plaaslike verskaffing en kompeterend kan wees as die geleentheid daar is vir uitvoere.

Is daar maniere om die prys van olie – ʼn stapelitem in Suid-Afrikaners se kombuis – laer te probeer hou?

Kommoditeitspryse is direk gekoppel aan internasionale markte, ten goede en ten kwade. Plaaslik word ons gedwing om meer effektief te produseer as ons ʼn volhoubare bedryf wil hê en om internasionaal te kan kompeteer.

Die pryse van die kommoditeit was vir ʼn ruk lank baie laag, wat dit minder winsgewend gemaak het vir boere. Met insetkostes wat gestyg het oor die jare was die kommoditeitspryse maar baie stabiel – verhoogde kommoditeitspryse is noodsaaklik sodat ons meer aanplantings kan stimuleer en sodoende minder afhanklik kan wees van invoere.

As ons minder afhanklik is van invoere en iets soos die oorlog in Oekraïne vind plaas, het ons meer opsies as ʼn bedryf om die impak te beperk, maar as ʼn land wat afhanklik is van die internasionale bedryf is ons direk gekoppel daaraan.

Om meer volhoubaar te produseer sal ons ook baie ondersteuning van die regering benodig om boere en sakeondernemings te ondersteun.

Is daar goedkoper alternatiewe?

Die kort antwoord is nee. Plantolies is kompleks en werk as plaasvervangers vir mekaar, so as daar in die groter mark ʼn tekort aan die een is, sal daardie produk se pryse styg om aanvraag te beperk.

Dan beweeg die mark oor na ʼn ander alternatief, wat die aanvraag verhoog en sodoende uiteindelik lei tot ʼn verhoging in die prys, soos wat die vraag en aanbod balanseer.

Tussen sonneblom, kanola en soja balanseer die sagte olies as plaasvervangers vir mekaar. Dit is ook waarom die pryse op al die plantolies met die oorlog gestyg het.

Die medium- tot langtermynoplossing is om verskaffing te verhoog met meer aanplantings en die verbruik van plantolies en proteïen in menslike, diere- en energieverbruik wêreldwyd te bestuur.

Hoe afhanklik is Suid-Afrika van die olie wat uit Oekraïne en ander lande ingevoer word?

Ons produseer sowat 60% van ons plaaslike behoefte vir alle olies en vette en die addisionele 40% moet ons invoer.

As ons net na sagte plantolies (kanola, sonneblom en soja) kyk het ons in 2021 altesaam 83% van ons plaaslike behoefte geproduseer, wat ʼn styging aandui vergeleke met 2020 toe dit op 65% plaaslike verskaffing gestaan het.

Dit was gedryf deur ʼn plaaslike oes van kanola en soja in 2021 wat alle verwagtings oortref het, sowel as verlaagde oordragvoorraad teen die einde van 2021.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Pryse styg baie maklik, maar daal nie maklik nie. Daars mos geld te make….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.