Damaskus-ervaring vir EFF-voorbok in wit plakkerskamp

Luvuyo Menziwa. Foto: Facebook

ʼn Eens geharde rassis wat wit mense voor die voet wou afmaai, sê die skille het van sy oë afgeval toe hy tydens sy 30 uur lange gemeenskapsdiens blootgestel is aan volslae wit armoede.

Luvuyo Menziwa (28), ʼn gewese EFF-studenteraadslid van die Universiteit van Pretoria, het in 2016 gesê dat hy ʼn AK47 of Bazooka kort sodat hy die “regte” ding kan doen en hierdie “duiwelbesete” wit mense dood kan maak.

In Maart 2018 het die gelykheidshof hom skuldig bevind en gelas dat hy gemeenskapsdiens doen en amptelik verskoning vra. Dié gemeenskapsdiens het hy onlangs oor drie dae in en om Pretoria uitgedien.

“Die hof het beslis dit sou die beste wees dat ek aan arm wit mense blootgestel word sodat ek kan besef dis nie net swart mense wat arm kan wees nie,” het hy Vrydag aan Maroela Media gesê.

Dit was die eerste keer dat hy wit mense so sien swaarkry het, sê hy. Die eerste van die drie dae het hy in die voorstad Silverton deurgebring in die geselskap van ʼn verteenwoordiger van AfriForum en van Helpende Hand.

Ek het nie verwag om sulke omstandighede aan te tref nie.

Die tweede dag het hy heeldag kospakkies by die NG gemeente Meyerspark vir minderbevoorregte wit mense gepak.

Maar die derde dag was eintlik sy Damaskus-ervaring toe hy ʼn wit plakkerskamp aan die buitewyke van die stad besoek het. “Ek het nie verwag om sulke omstandighede aan te tref nie,” sê Menziwa, ʼn boorling van Klerksdorp.

“ʼn Mens hoor gedurig [wit armoede] gebeur, maar jy glo nie dis waar nie. En dan, wanneer jy dit sien, dink jy: ‘O gaats!’”

Hy vertel dit het hom geroer om te sien in watter haglike omstandighede die mense in die plakkerskamp woon, sonder TV’s en sonder elektrisiteit. “Niemand weet eens dat hulle bestaan nie. Mense het van hulle vergeet.”

Gevra hoe sy wêreldbeskouing ná die gemeenskapsdiens verander het, sê Menziwa hy kon dit voorheen nie glo wanneer mense gesê het daar is wit mense wat ly nie.

“As jy in ag neem waar ek was in die EFF, het my ervaring verander hoe ek hedendaagse wit mense beskou. Ek weet nou armoede is kleurblind. Dit kan enigiemand oorkom.”

Menziwa het vanjaar sy onderwysgraad voltooi en hoop om volgende jaar sy eerste onderwyspos te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.