Damelin en kie gederegistreer

(Foto: Facebook/ Damelin)

Die departement van hoër onderwys wetenskap en innovering het verskeie vooraanstaande kolleges skielik gederegistreer, wat beteken dat duisende studente nie verder sal kan studeer nie.

ʼn Kennisgewing oor die direkteur-generaal van hoër onderwys se voorneme om Damelin, Lyceum College, City Varsity en Icesa City Campus te deregistreer, is reeds op 19 Augustus 2022 uitgereik. Dit is, volgens die kennisgewing, omdat die instellings nie hul finansiële state vir 2020 gepubliseer het nie. Hoëronderwysinstellings word volgens wet verplig om jaarliks geouditeerde finansiële state te publiseer.

Dié instellings word deur Educor besit.

Dié kolleges was in Desember in die spervuur omdat hulle glo nie salarisse aan hul werkers betaal het nie. Die vakbond Saftu het in ʼn verklaring op Oukersaand sy “volkome afsku” in Damelin en sy susterkolleges uitgespreek, oor hul versuim om salarisse aan werkers op verskeie kampusse te betaal.

Luidens die verklaring sou werkers in November en Desember geen salarisse ontvang het nie.

ʼn Woordvoerder van Educor het in Augustus 2022, kort nadat die kennisgewing in die Staatskoerant verskyn het, aan Sunday World gesê die finansiële state vir 2020 is op 15 en 28 Julie 2022 aan die departement oorhandig.

Die maatskappy het nog nie weer kommentaar oor die saak gelewer nie.

Volgens Damelin se webwerf bestaan dié instelling reeds 80 jaar en het 500 000 studente al hier gegradueer. Meer as 69 programme word op nege kampusse landwyd aangebied.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, sal Maandagmiddag meer inligting oor die besluit aan die media deurgee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Hmm, ja, soos gewoonlik word die GROOT WIT OLIFANT in die vertrek geïgnoreer … Hul (die regering) se onvermoë om BASIESE onderwys eers reg te kry word misgekyk, maar privaat instansies word met ‘n arendsoog dopgehou en met die wetboek gegooi.

Delia ·

Verskeie munisipaliteite en parlementslede doen dieselfde. Staak hulle funksionering ook asb

koos10 ·

Is dit besig om die normaal te word? Privaat instellings volg net die voorbeeld van die regering, maar word dan hard geslaan deur die einste regering. Hoe kan die regering strawwe uitdeel met vuil hande.
Net om te verduidelik. Het alle staatsdepartemente hulle audits op datum ingehandig. NEE. Was dit skoon audits. NEE. Ek verskoonnie die aksie nie, maar duisende studente se drome duik nou in die kas. Waarom nie aksie neem voor die nuwe akademisie jaar nie? Waarom nie regustrasies stop voordat studente betaal het nie?

Roek ·

@koos10 , ek stem saam met jou maar het die instellings reeds op 19 Augustus 2022 kennis gekry van voorneme , die mense het dus fondse gevorder met die wete dat hul nie kan lewer nie , wat die staat aanbetref is ons uitgelewer aan ‘n gebroke wereld!

Carina ·

Dink aan ons wat vir kursesse betaal het voor die derigstrasie in Augustus verlede jaar. Sover is dit die eerste wat ons daarvan hoor. Dit is n 2-3 jaar kurses. so nou wat nou. Ons sit met n kurses wat ons nie ons diploma gaan kry nie

Anel ·

Kan jy nou meer! Hoeveel jongmense het nie ingeskryf en al betaal nie. Nou verloor hulle alles en mors ‘n jaar se studies!! Mense wat dalk lank gespaar het!! Hierdie regering is absoluut siek!!!

Goldy ·

Kry jul akkreditasie in die buiteland. SA akkreditasie beteken inelkgeval niks meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.