Damprook al hoe gewilder onder jonges

Damprook word al hoe gewilder onder jongmense. (Argieffoto: pixabay)

Navorsing van die Universiteit van Kaapstad (UK) wys damprook – eerder as sigarette – word toenemend gewilder onder skoolleerders. Byna ʼn kwart van matrieks wat aan die opname deelgeneem het, het aangedui dat hulle nie deur die skooldag kan kom sonder om te rook nie en 30% van respondente sê hulle rook al in die eerste vyf minute nadat hulle wakker geword het.

Die studie het ook bevind byna die helfte (48,4%) van hierdie jong rokers se ouers is deeglik bewus van die gewoonte.

Die navorsers het bevind die gebruik van damprook het waarskynlik van 2% ses jaar gelede, tot 25% vanjaar toegeneem.

Die voorlopige studie, wat nog nie aan portuurbeoordeling onderwerp is nie, is gedoen onder leiding van prof. Richard van Zyl-Smit, adjunkhoof van pulmonologie by die UK. Altesame 5 583 leerders tussen gr. 8 en gr. 12 by nege kwintiel 5-skole (meer welvarende skole) en private skole in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het aan die opname deelgeneem.

Van Zyl-Smit sê die studie is nie nasionaal verteenwoordigend nie en die gedragspatrone sal na verwagting heelwat wissel in verskillende gemeenskappe. ʼn Verdere studie wat veel meer skole insluit, word beplan, het BusinessLive berig.

Volgens die studie het 15,3% van respondente gemeld dat hulle die afgelope 30 dae die een of ander vorm van e-sigaret gebruik het, altesame 4% van hulle het ʼn tabakproduk ingeasem en 6,3% het kannabis gerook.

Damprokers begin gemiddeld op die ouderdom van 14,7 rook, terwyl diegene wat tradisionele tabakprodukte kies net-net vroeër op die gemiddelde ouderdom van 14,2 jaar oud begin rook.

Die navorsers het bevind daar is kommerwekkend hoë vlakke van nikotienverslawing onder die leerders wat damprook. Van al die leerders wat die afgelope 30 dae gedamprook het, het 6,2% in gr. 8 gedamprook, ʼn syfer wat vir matriekleerders tot 26,5% toegeneem het.

By die skool wat die ergste geraak is, is die syfer nóg hoër en altesame 32,3% van matrieks daar het die afgelope 30 dae gedamprook.

Die navorsers het bevind dat 23% van leerders nie deur ʼn skooldag gaan sonder om te rook nie, 29,5% van hulle het aangedui dat hulle angstig of kwaad voel as hulle nie kan damprook nie en altesame 54% het aangedui dat hulle al probeer ophou rook het.

Die regering beoog intussen om veel strenger wetgewing oor rook, wat ook e-sigarette insluit, in werking te stel. Die wetsontwerp, getiteld “Control of Tobacco Products and Electronic Delivery Systems”, maak onder meer voorsiening vir ʼn verbod op die verkoop van sigarette deur muntoutomate en rook in voertuie waar kinders jonger as 18, of ʼn ander persoon, in die voertuig teenwoordig is.

News24 berig dit is onduidelik waarom so baie jongmense juis kies om te damprook, maar volgens Van Zyl-Smit kan dit dalk ʼn gewilde modeneiging wees. Data dui daarop dat jong mense begin damprook omdat ʼn vriend of familielid dit doen en dan die gewoonte aankweek om hulle te help om spanning te hanteer.

Hy sê dit is belangrik dat minderjariges nie in advertensies geteiken word nie en verkope van die produkte aan diegene jonger as 18 jaar verbied word. “Dit is ʼn begin; dit gaan nie die probleem oplos nie, maar dit gaan help,” het Van Zyl-Smit gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Waarnemer ·

En min besef dat fie “vape” meer skade aan jou longe doen as sigarette.

Antie Sarie ·

Ek stem. Olies en ander vloeistof word verhit tot 200 grade C, en ingeasem. En dan dink mense dit is gesonder?

SwartBees ·

Ek het die longe gesien van “vapers”, sjho!!! Sigaret rokers se longe lyk beter.

Antie Sarie ·

Na meer as dertig jaar se rook, lyk my longe geensins soos die prentjies op google lieg nie. Maar ek stem saam oor vape

Diepoppie ·

Meeste van die kinders wat rook se ouers rook of hulle het vriende op skoop wat rook.. Al wat ek kan sê is daai goed is nie sy geld werd nie. Dit mag dalk nou “cool” wees maar as jy oud is is jou longe die eerste wat ingee..

George ·

Al my vriende wie gerook het op skool, se ouers het nie gerook nie, met een uitsondering.

Koos 100 ·

Beide ekself en my gade het gerook. My kinders doen nie. Ek dink juis dis omdat ons die lang pad van ophou rook gestap het, dat hulle nie juis dit wil doen nie.

Louwtjie ·

Ek stem saam dat damprook produkte nie aan tieners bemark moet word nie en dat in ‘n perfekte wereld – tienners nie nikotien moet gebruik nie… maar, is dit ook waar dat damprook eksponensieel minder problematies vir ‘n mens se gesondheid is as brandende tabak produkte. Die opsie om heeltemal nikotien (en kannabis) vry te damprook is ook beskikbaar.

Tienners gaan eksperimenteer, of ons daarvan hou of nie.

Dit is veels te maklig en gerieflik om damprook en sigaret rook saam to bondel, maar die een is nie dieselfde as die ander nie. Daar is baie meer as net nikotien inhoud om in ag te hou.

As die keuse aan my gestel word watter een ek verkies dat hulle mee eksperimenteer is daar geen twyfel oor watter een ek sou kies nie – nie omdat ek tienner damprook ondersteun nie, maar eerder dat ek weet dat sigaret rook ondekbaar erger is.

George ·

Het jy al gesien wat doen vaping aan longe? Dis beslis nie beter as rook nie.

Kensy ·

Ons samelewing is verslaaf –
‘n pilletjie om te kan slaap…
‘n pilletjie om wakker te word….
en dan n dampie om te kalmeer as jy hoor jou lotto nrs het toe nie gewen nie.

George ·

Niks regtig nuuts ne? Dis net minder cigas, maar oor 10jaar gaan hulle eers die resultaat sien. Onthou toe sigaret rook ook “gesonder” was, en eers 40jaar na dit bewys is, dat dit sleg is, die is kamma “gesonder” as rook, gee dit nog 10jaar dan sal hul sien, die is BAIE erger as smokes.

Danie ·

Rook jou lewe om.Dis ongesond en benadeel ander.Indien jy dit eenkant doen baie ver van ander geen probleem.

Juanita ·

Of dit nou damprook of sigarette is, rook sal hulle rook. Ek het ook 27 jaar terug begin rook omdat vriende gerook het. Niks het verander nie. Net soos met marujuana, of dit nou wettig is of nie, hulle sal rook. Sekerlik het die regering beter dinge om aan aandag te gee…

Snuffelgids ·

Sal daar n klein graad 3 seun by my kind kom speel, en nogals sy vape saam bring! Ek skrik my boeglam, het die kind dadelik terug gevat na sy ouers toe…dis dalk vir hulle aanvaarbaar, maar beslis nie vir my nie. Sommige ouers is OK hiermee, ek is geskok!

Elize ·

Kyk op netflix is daar ‘n pogram met die naam Broken. Dis ‘n dokumenter. Die tweede episode gaan oor “Vaping” Amerika erken dis ‘n epidemie onder die tieners. Daar is nikotien mos in wat hoogs verslawend is en hulle noem dit skoner rook want dit ruik mos lekker en ruik nie na tabak nie. Die kinders smokkel dit die klasse binne, steek dit in hulle klere weg om te kan puff. Weet nie wat die skole hier gaan doen nie. Wanneer die kinders se vapes gevat /gekonfiskeer word dan dreig die ouers die skool omdat dit die kinders se privaat eiendom is. So ook met die selfone.

Koos 100 ·

Wel toe ek op skool was het baie meer as 30% tabak gerook. Ek is oor vaping bitter dankbaar. Dit het my gehelp om die rook gewoonte te breek.

Judy ·

Ek stem saam dit het my ook gehelp en dit baie makliker gemaak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.