Damvlakke daal steeds

Gariepdam op die grens tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap (2005) (Foto: Nic Roets by wikitravel.org)

Gariepdam op die grens tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap (2005) (Foto: Nic Roets by wikitravel.org)

Die vlakke van damme landswyd daal steeds week ná week volgens ʼn weeklikse assessering van die departement van water en sanitasie.

“Die assessering wat op 6 Junie gedoen is, het getoon dat daar ʼn daling van 0.4% is op die vlakke van damme,” het Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, gesê. “Damme se vlakke is tans gemiddeld 53,4%, in vergelyking met 53,8% die vorige week. Damme was verlede jaar teen hierdie tyd ongeveer 76,2%.”

Volgens Ratau kan die vlakke met nog 10% daal voor die somerreën in die onderskeie provinsies begin.

Alle provinsies het ʼn daling in damvlakke beleef.

Die Algoa-stelsel, wat uit vyf damme bestaan en Port Elizabeth, Uitenhage en Despatch bedien, staan op 75,9%, in vergelyking met 76,7% verlede week (daling van 0,8%).

Die Amathola-stelsel, wat uit ses damme bestaan en Oos-Londen, Bisho and King William’s Town bedien, het met 0,6% gedaal.

Damme in Kaapstad het met 0,6% gedaal en die Voëlvleidam staan tans op 20,6% – ʼn daling van 0,4% in vergelyking met die vorige week.

Umgeni-dam, wat Durban en Pietermaritzburg bedien, het met 1,5% gedaal. Ander damme in KwaZulu-Natal wat gevaarlik laag is, is Klipfontein (17,4%), Goedertrouw (20%) en Hluhluwe (13,4%) en dié damme se vlakke daal weekliks.

Die Vaalrivier-stelsel wat hoofsaaklik Gauteng, Sasol en Eskom bedien, staan op 62,5%, in vergelyking met 63,1% die vorige week.

Die Sterkfontein-dam is stabiel op 89%, maar Grootdraai-dam het met 1,3% gedaal tot 84,7%. Die Vaal-stelsel het verlede jaar hierdie tyd ook op 82,4% gestaan.

In die Oranjerivier het die Gariepdam met 0,7% gedaal tot 53,4%. Die Van der Kloof-dam het met 1,1% gestyg tot 65,1%.

Polokwane-stelsel het met 0,3% gedaal en staan tans op 51,3%.

Van die 211 damme wat weekliks gemonitor word, is 12 damme laer as 10%, 64 damme is laer as 40% en 18 damme is op 100%.

“Die departement het konsultasies met belanghebbendes gehou vir die Vaal-, Oranje- en Bloemfonteinstelsels en aanbevelings word oorweeg om watertoevoer te verseker tydens die lae vlakke,” het Ratau bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Empie ·

Is daar iewers ‘n plek waar ‘n mens munisipale waterlekke (waaraan die munisipaliteit self niks doen nie) kan rapporteer? Ek is daarvan oortuig dat die droogte hoofsaaklik as gevolg van ons verswakte infrastruktuur en min/geen onderhoud aan die bestaande fasiliteite is.

Esra Nell ·

Alle navrae ivm. waterlekke kan aan NR. 1 gelig word of ons kan Jan van Riebeeck aanspreeklik hou vir die swak infrastruktuur.

Reinhardt ·

100% korrek Empie. Die meerderheid van ons water gaan verlore aan falende infrastruktuur en informele nedersettings wat pype oopgrawe en water/koper steel of vandaliseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.