
‘n Argieffoto van die Theewaterskloofdam. (Foto: Henk Kruger/ANA)
Kaapse damme het die afgelope week met 1,6% gedaal tot 64,3% van die algehele kapasiteit. Die gemiddelde waterverbruik het in dieselfde tydperk van 755 miljoen liter water per dag tot 771 miljoen liter water per dag toegeneem, het die Stad Kaapstad in ʼn verklaring gesê.
“Die tempo waarteen damvlakke daal, is hoofsaaklik weens warm en winderige toestande wat water teen ʼn vinniger tempo laat verdamp,” sê Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en vullis.
Volgens Limberg is Kaapstad nou in die vyfde jaar van droogte. “Aangesien die Stad steeds die damvlakke probeer herstel, is vlak 1-waterbeperkings nog van krag ten einde huidige waterreserwes te bespaar,” het Limberg gesê.
Geen reën word Dinsdag of Woensdag in die Wes-Kaap verwag nie. Daar is Donderdag ʼn geringe kans op ligte reën aan die suidkus van die Wes-Kaap.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Dinsdag ʼn waarskuwing uitgereik vir weghol-veldbrande in dele van die Hantam-munisipaliteit in die Noord-Kaap en die Sederberge in die Wes-Kaap.
Reën en donderbuie word vir die meeste dele van Gauteng, Mpumalanga en Limpopo vir vandag en môre verwag.
Besoek www.capetown.gov.za/thinkwater vir meer inligting rakende waterbeperkings.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
Ag nee ek wil nie weer in die winter in koue water stort nie – strot vat so lank om warm te raak, dan is daaglikse kwota klaar!!!!
Limpopo het geen water nie , maar daaroor word geswyg .
Hoeveel damme is daar in Kaapstad? Dis tog wat die opskrif sê?
Limberg het wakker geword. Sy blameer nou verdamping.