Damvlakke in Wes-Kaap beste in ses jaar

Kleinmond se strandmeer Saterdag, 18 Julie. (Foto: Corlie van Aswegen)

Die jongste damvlaksyfers in die Wes-Kaap bring hoop vir die komende somermaande. Rolspelers waarsku egter dat die droogte in dele van die Wes-Kaap nog lank nie gebreek is nie.

Die gemiddelde damvlakke in die provinsie staan op 60,7% en die damme wat die Stad Kaapstad van water voorsien, is gesamentlik 77% vol.

Dit is ʼn drastiese toename sedert die erge droogte in 2017, toe gemiddelde damvlakke in die provinsie aan die einde van Junie op 21,2% gestaan het.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning in die Wes-Kaap, het die afgelope week die jongste damvlaksyfers verwelkom.

James-Brent Styan, Bredell se woordvoerder, sê: “Dit is waarskynlik die beste vlakke vir dié tyd van die jaar wat ons die afgelope vier tot ses jaar gehad het.”

Hy sê die Clanwilliamdam in die noordweste van die provinsie het die afgelope paar weke ʼn geweldige hupstoot ontvang. “Die Clanwilliamdam se watervlakke het met meer as 40% toegeneem. Verlede week was die Clanwilliamdam op 53% en tans staan hy op 93%.”

Kleinmond se strandmeer Vrydag, 17 Julie. (Foto: Corlie van Aswegen)

Styan sê boonop dat al die groot damme in die provinsie goed lyk.

Die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, was die afgelope Dinsdag op 73%-kapasiteit, in vergelyking met die 21,1% in 2017. Die Voëlvleidam, wat die naasgrootste opgaardam in die betrokke waterstelsel is, het in een week met bykans 7% toegeneem. Dit is tans 71,5% vol.

Die stygende damvlakke volg nadat storms die afgelope maand die Wes-Kaap getref het ná ʼn reeks kouefronte oor die provinsie inbeweeg en groot reënneerslae voortgebring het.

Droogte teister steeds dele van die Wes-Kaap

Styan benadruk dat daar dele in die provinsie is wat steeds gebuk gaan onder die droogte.

“Veral die binneland in die Karoostreke het nog nie die water gesien wat nodig is om die droogte te breek nie en die landboustreke van die Karoo is nog baie droog.

“Daarom wil ons mense aanmoedig om oor die hele provinsie vol te hou met waterbesparing en goeie gedragsveranderinge as dit by waterverbruik kom,” sê Styan. “Die beste tyd om water te bespaar, is terwyl ons dit het.”

Watertekort in Kaapstad

Die gemiddelde vlakke van damme wat die Kaapse Metro van water voorsien, het met 4,5% gestyg om ʼn algehele kapasiteit van 77,2% te toon. Verlede jaar dié tyd was die gemiddelde damvlakke 61,8%.

Die gesamentlike waterverbruik het intussen met 8 miljoen liter water per dag gestyg, wat die gemiddelde waterverbruik per dag op 657 miljoen liter te staan bring. Dit is 7 miljoen liter meer as die gewenste gebruik onder vlak 1-waterbeperkings. Tog word dié effens hoër waterverbruik steeds as matig beskou, en is dit laer as vorige jare s’n.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, sê Kaapstad is in ʼn waterskaarstegebied geleë en klimaatsverandering kan dit moontlik vererger. Daarom kan daar nie gesê word dat ʼn watertekort heeltemal iets van die verlede is nie.

Sy meen egter die stad se deurlopende pogings om sy watervoorraad, wat nie onmiddellik van reënval afhanklik is nie, te verhoog, sal help om ʼn toekomstige droogte te weerstaan sonder om ʼn groot uitwerking op inwoners en die ekonomie te hê.

“Hoewel die proses na watersekuriteit ʼn lang proses is, bly die waterverbruik van inwoners redelik laag,” sê Limberg. Sy skryf dit toe aan permanente aanpassings, soos boorgate, wat inwoners tydens die Dag Zero-waarskuwings aangebring het.

“Dit het aansienlike druk van ons damme afgehaal in ʼn tyd van voortdurende lae reënval,” aldus Limberg.

Maroela Media het ook vroeër berig oor Kaapstad se strategie om oor ʼn tydperk die stad beter bestand te maak teen toekomstige droogtes.

“Die vooruitsigte vir 2021 sal grotendeels afhang van hoeveel reën ons nog tydens die winter ontvang. Maar heel waarskynlik sal ons aan die einde van die reënseisoen in ʼn redelik veilige posisie wees weens die volgehoue lae [water]verbruik,” sê Limberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Die munisipaliteit hef steeds ń waterheffing ,al bespaar ons oumense . Wanneer stop hulle hierdie diefstal? Ons het watertenks gekoop om reënwater te gebruik in ons huise

Realis Thailand ·

Dis nou tyd dat die Stadsraad planne in werking stel om die probleem permanent op te los oa
Groot ontsoutings aanlegte navors ens
Daar kom weer droogtes en met die immigrasie van n groot deel va ndie Ooskaap gaan die probleem net vererger in die toekoms

Johan ·

Hoeveel insypelinge kan die Wes Kaap nog absorbeer. Hier is nie werk vir ongeleerdes nie. Toerisme en veiligheid is ook nie meer in plek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.