Damvlakke kritiek laag in Grahamstad

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Damvlakke in Makhanda (Grahamstad) in die Oos-Kaap is kritiek laag, ondanks reën in die gebied.

Die Howiesonspoortdam staan op 29,3% en die Settlersdam op 7,6%.

Die Makana-munisipaliteit het gesê as die Settlersdam tot 7,4% daal, sal dit nie meer moontlik wees om water te onttrek nie, alhoewel water uit Howiesonspoort tot die Waainek-waterwerke gepomp sal word totdat dié watervlakke ook te laag daal. Daarna sal Waainek-waterwerke, wat water aan Makhanda-Wes verskaf, nie meer water vir inwoners in die gebied kan verskaf nie.

Anele Mjekula, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê as die gebied nie teen die einde van April goeie reënval kry nie, sal geen water deur Waainek verskaf kan word nie. “Die munisipaliteit het maatreëls in plek gestel om waterverbruik te beperk en bestuur dié skaars hulpbron.” Watervloei tussen reservoirs is verminder en inwoners, wat water van die hoëvlakreservoir ontvang en diegene wat water van die intermediëre- en lae reservoirs ontvang, is die afgelope ses weke onderworpe aan beurtwater.

Mjekula het gesê dié maatreëls sal egter nie voorkom dat die water, as gevolg van die droogte, heeltemal opdroog in die damme nie. Die munisipaliteit maan inwoners om water te bespaar en waterverbruik tot 50 liter per persoon te beperk tot ʼn maksimum van vier persone in ʼn huishouding.

Ondanks ʼn dringende versoek deur die munisipaliteit het waterverbruik nog nie verminder nie en staan tans op tussen 200 liter en 220 liter per persoon.

“Die James Kleynhans-waterwerke word tans op volle kapasiteit bedryf en dit is moontlik om water aan reservoirs in die Weste te verskaf, sodra Waainek nie meer water kan verskaf nie. Dit sal egter nie die watertekorte in Makhanda oplos nie, aangesien James Kleynhans slegs 10 ML per dag verskaf, terwyl waterverbruik in Makhanda ongeveer 18 ML per dag beloop.”

Die munisipaliteit het gesê watertenks sal in strategiese gebiede opgerig word. Dié tenks sal deur water gevul word uit bestaande boorgate. Inwoners sal water uit dié JoJo-tenks kan kry as die krane opdroog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries Moolman ·

Dalk moes die munisipaliteit eerder meer aandag gegee het aan ‘n oplossing vir die waterkrisis ‘n jaar gelede al, eerder as om aandag te gee aan die oplossing van ‘n nuwe naam vir die (nou) waterlose dorp.

Hanmari Eyssen ·

Ons dam op Graaff-Reinet is net so laag en dan sukkel die dop vreeslik met water.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.