Damvlakke styg, Oos-Kaap steeds droog

Hartbeespoortdam. Argieffoto: www.pbase.com

Die departement van water en sanitasie het Dinsdag gesê die gemiddelde damvlakke is bykans 2% hoër as verlede jaar, vanweë die onlangse konstante reënval in groot dele van die land. Damvlakke staan tans op 64% in vergelyking met verlede week se 62,4%.

Damvlakke in Limpopo, KwaZulu-Natal en Noordwes het beduidend gestyg.

Damme in Limpopo styg steeds en het binne die bestek van ʼn week van 62,3% tot 69% gestyg. Mpumalanga se damvlakke staan op 75,2% en toon ʼn styging van bykans 1%.

KwaZulu-Natal se damvlakke is 3% hoër in vergelyking met verlede jaar en staan tans op 60,3%. Die reservoirs in dié provinsie het tans ʼn inhoud van 2882,9 m³. Die KwaZulu-Natalse kusdorpe het die meeste reën gekry en suikerriet groei welig.

Die gemiddelde damvlakke in die droogtegeteisterde Oos-Kaap is effens hoër en staan tans op 51,4%, in vergelyking met verlede week se 50,7%. Dié styging is hoofsaaklik vanweë die konstante neerslae in groot dele van die provinsie. Baie damme in die Oos-Kaap is egter bitter leeg.

Die Ngweba-dam wat water aan die Nelson Mandelabaai-metro (Port Elizabeth) verskaf, is net 5,3% vol. Die Lake Arthur-dam wat water uit die Tarkarivier ontvang, staan op 1,8% en die Kommando Drift-dam wat uit dieselfde rivier loop, het net 11,7% water.

Die Noord-Kaap se damvlakke bly stabiel op 80,8% in vergelyking met die 80,9% van ʼn week tevore. Noordwes se damme het van 67,3% tot 66,8% gesak.

Die Wes-Kaap se gemiddelde damvlakke staan op 49%, ʼn effense daling van die 50% in die vorige week. Dié provinsie se droë somer staan einde se kant toe en met winterreën sal huidige damvlakke na verwagting styg. Die Wes-Kaapse damvlakke het verlede jaar goed herstel ná die ergste droogte wat dié provinsie die afgelope eeu getref het. Damvlakke het verlede jaar Oktober op 80% gestaan.

Gauteng, wat die afgelope seisoen die hoogste damvlakke aangemeld het, het egter van 103% na 98,9% afgeneem.

Die damme in die Vrystaat, van die grootste in die land, staan op 71,1% en stem ooreen met die vlakke wat verlede jaar aangeteken is. Die Sterkfontein-dam bly stabiel op 92,5% en die Vanderkloof-dam op 60,7%. Die Fika-Patso-dam digby Qwaqwa is egter amper leeg en staan op slegs 10,4%.

Die Vaaldam, op die grens tussen die Vrystaat en Gauteng, het met 0,5%  gestyg tot 57,4%. Dié vlak is steeds veel laer as die vlak van 71,7% verlede jaar hierdie tyd. Noordwes se damvlakke het die afgelope week van 67,3% tot 66,8% gesak. Dié provinsie se damvlakke het wel die afgelope vier maande beduidend toegeneem van die 43,7% wat in November aangeteken is.

Volgens Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersetting, weerspieël die syfers die werklike impak van die laat somerreënval, met baie hoë temperature wat gelei het tot hoë verdampingsyfers. Al hierdie inligting dui op die gevolge van klimaatsverandering en die voortdurende behoefte om die land se skaars waterbronne te bewaar.

Sisulu sê hoewel die damvlakke ʼn styging toon, moet die publiek steeds water bespaar vir die droë winter wat voorlê.

“Die bewaring van die land se waterstelsel en -infrastruktuur asook die konserwatiewe gebruik van water kan Suid-Afrikaners verseker van watervoorsiening,” sê Sisulu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae