Dana Snyman: ‘Dankie vir die troos, luister, verstaan’

Anette Roberts en Dana Snyman. Foto: Facebook

Selfs die yskoue wind wat Saterdag teen 58 km/h oor Jacobsbaai in die Wes-Kaap gewaai het, kon bykans 500 gaste nié keer om die ontslape Anette Roberts, verloofde van die skrywer Dana Snyman, te gedenk nie.

ʼn Konsert ter herinnering aan Anette, wat die Swart Hond-konsert genoem was, is op 9 Desember op dié dorpie gehou – die dag wat die paartjie veronderstel was om ewige trou aan mekaar te beloof.

Anette is op 4 Oktober dood nadat sy haarself vergas het. Sy is deur ʼn goeie vriend in ʼn motor in Bloemfontein aangetref.

Snyman het vroeër gesê dié konsert word gehou sodat “iets goeds uit al die verdriet” kan kom.

“Daar is soveel om voor dankie te sê. En soveel mense. En ons sal. Vir nou eers net: dankie vir die amper 500 mense wat die Kontrei Keffie Jacobsbaai se parkeerterrein kom volpak het. Dankie vir jul luister. Jul troos. Jul verstaan,” lui ʼn inskrywing op Snyman se Facebook-blad.

Volgens die inskrywing het familie, naasbestaandes en ondersteuners “gelag, gehuil en gesing” in liefdevolle herinnering aan Anette.

“Dankie dat julle so waardig en respekvol was. Dankie. Ook vir elkeen wat saam was in gees. Of gekyk het iewers. Dankie vir elke boodskap aan Dana. Hy sal elkeen nog lees. Dankie vir verstaan of probeer verstaan.”

Die skrywer het vroeër bevestig dié konsert is ʼn projek wat hy in die nuwe jaar wil aanpak wat ten doel sal hê om bewusmaking van depressie te bewerkstellig. “[Dit is ook] om almal wat iemand deur selfdood verloor het, te help en by te staan. Al die dinge prut nog in my kop. Maar ʼn mens moet iewers begin,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand berig Roberts se pa, Jan Schoeman (77), het ook sy eie lewe geneem. Lumien Orton, Schoeman se kleindogter en Roberts se dogter, het aan Maroela Media bevestig Schoeman het homself op 30 November by hom en sy vrou se huis in Marlothpark in Mpumalanga vergas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.