Dana Snyman: ‘Iets goeds moet uit die verdriet kom’

Anette Roberts en Dana Snyman. Foto: Facebook

ʼn Konsert ter herinnering aan Anette Roberts, die ontslape verloofde van die bekroonde Afrikaanse skrywer Dana Snyman, word op 9 Desember op Jacobsbaai in die Wes-Kaap gehou.

Snyman het die nuus oor dié konsert, wat die Swart Hond-konsert heet, Woensdag op sosiale media bekend gemaak.

Roberts is op 4 Oktober dood in ʼn vriend se motor in Bloemfontein gevind. Sy het haarself vermoedelik vergas en is deur ʼn goeie vriend in die motor gevind. Die skrywer en Roberts het in Junie vanjaar verloof geraak.

“Op 9 Desember hou ons konsert hier op Jacobsbaai. Dit is die dag waarop ek en Anette sou getrou het. Iets goeds moet uit al die verdriet kom,” het Snyman op Facebook geskryf.

Hy sê dié konsert is ʼn projek wat hy in die nuwe jaar wil aanpak wat ten doel sal hê om bewusmaking oor depressie te bewerkstellig.

“[Dit is ook] om almal wat iemand deur selfdood verloor het, te help en by te staan. Al die dinge prut nog in my kop. Maar ʼn mens moet iewers begin. So, as jy op 9 Desember kan of wil, kom huil en lag saam.”

Snyman het vroeër op Facebook gesê hy is “iewers duskant vrede, anderkant seer” en is steeds op die pad na herstel. “Dit gaan ʼn  ruk neem om deur al die boodskappe [van bemoediging] te kom. Daar lȇ soveel troos in om elke boodskap te lees – dis soos hande wat ʼn mens regop help hou, opregte, liefdevolle hande. Hoe kan [ek] julle daarvoor bedank? Ek gaan nie verder in die openbaar, het ek besluit, oor Anette se weggaan praat nie. Ek glo julle sal verstaan. Elke mens rou op sy eie manier.”

Snyman sê Johan Bakkes, ook ʼn skrywer en ’n goeie vriend van Snyman, sal as seremoniemeester optree. Die konsert gaan by die Kontrei Keffie op Jacobsbaai plaasvind. Toegang is gratis.

Vir meer inligting, besoek Snyman se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Popeye ·

Dana, alle sterkte met “closure” . mag jou rou prosesse vir jou sterker anderkant bring….depressie se hond! Ek waardeer jou!

Lewe ·

Anette het haar lewe gegee sodat jy, Dana, ander se lewens kan red met hierdie probleem. Ek bid vir jou. Alle sukses want jy kan dit doen.

SARIE VAN HEERDEN ·

‘n Kunstenaar kan net skep as omsandighede vir hom “gunstig” is. Ek het al Dana se boeke maar gaan hom verder steun in sy nuwe omstandighede om te beleef wat hy hieruit sal kan maak. Ons almal moet hom asseblief hierin steun.

BANG JAN SE VROU ·

Mag almal asseblief vir Dana ondersteun in sy skrywe wat sal spruit uit sy hartseer nadat sy lieflingmaat vroeer dood is. Ek het al sy boeke en sal graag wil sien wat kom nou te voorskyn na sy groot hartseer. Voorspoed ou Maat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.