Danabaai-brande: Verdagte in hof

Die man tydens sy inhegtenisneming by die stukkie veld wat glo aan die brand gesteek is. Regs is ná sy hofverskyning. Foto: Via Mossel Bay News

Die man tydens sy inhegtenisneming by die stukkie veld wat glo aan die brand gesteek is. Regs is ná sy hofverskyning. Foto: Via Mossel Bay Advertiser

ʼn Man wat op Oujaarsdag in hegtenis geneem is vir brandstigting te midde van verwoestende veldbrande wat die Danabaai-omgewing in die Wes-Kaap oor die feestyd geteister het, verskyn Woensdag weer in die Mosselbaai-landdroshof.

Maroela Media het vroeër berig die man is op 31 Desember aanvanklik vir brandstigting in hegtenis geneem. Lede van die plaaslike buurtwag het die man in die omgewing opgemerk naby ʼn stukkie veld wat glad nie deur die brande geraak was nie en by nadere ondersoek gesien daar was glo ʼn poging om ʼn brand daar te stig. Die man is deur ʼn munisipale verkeersbeampte in hegtenis geneem en vuurhoutjies is glo in sy besit gevind. Die man is by die KwaNonqaba-polisie aangekla en by die Da Gamaskop-polisiestasie aangehou.

Mossel Bay Advertiser berig die 38-jarige man van Aslapark het sy eerste verskyning op 3 Januarie in die Mosselbaai-landdroshof gemaak.

Daar was glo nie genoeg bewyse om die beskuldigde vir brandstigting aan te kla nie, maar hy is deur die staatsaanklaer, Zandi Hobongwana, ingevolge ʼn munisipale verordening aangekla. Landdros Clifton Maseti het die man op vrye borgtog vrygelaat en die saak tot 11 Januarie uitgestel sodat regshulp gefinaliseer kan word. Die man sal na verwagting ook gestuur word om sy toerekeningsvatbaarheid vas te stel.

Mosselbaai Nuus berig verder die Dinsdagmiddag, pas nadat die beskuldigde in die hof verskyn het, het die publiek ʼn man, geklee in ooreenstemmende klere as wat die beskuldigde tydens die arrestasie gedra het, op ʼn straathoek in Louis Fourieweg opgemerk waar hy vriendelik vir verbygaande verkeer gewaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lynni ·

Ja, mens wonder hoeveel van hierdie brande word aspris gestig.

Chris Ws ·

In my oe is ‘n brandstigter baie erger as ‘n renoster horing stroper want die brand kan mense lewens neem en wonings en ander duur eiendom vernietig.Dit kos ook geweldig baie om ‘n bos/veldbrand onder beheer te bring.Om te bewys dat iemand brand gestig het is egter baie moeilik.

snoefie ·

ek weet darem wragtig nie of besit van vuurhoudjies bewys hy het brand gestig nie. het hy ongedwonge skuld erken?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.