Danie Bester aangewys as Maroela Media se Bioskoop-boffin

Danie Bester ontvang die Bioskoop-boffin-toekenning van Susan Lombaard, besturende direkteur van Maroela Media

Danie Bester ontvang die Bioskoop-boffin-toekenning van Susan Lombaard, besturende direkteur van Maroela Media

Danie Bester, vervaardiger en skrywer, is Saterdag tydens Maroela Media se Buitebioskoop-geleentheid by die Botaniese Tuin in Pretoria vereer vir sy bydrae tot die Afrikaanse filmbedryf.

Hy spog nou met die titel, “Bioskoop-boffin”.

“Ek het regtig nie verwag om vanaand ‘n toekenning te wen nie,” het Danie verbaas gesê. Ek het net gekom om fliek te kyk!”

Danie se naam is welbekend in die Afrikaanse rolprentbedryf en hy het reeds nagenoeg 19 Afrikaanse rolprente vervaardig. Sommige van hierdie rolprente was van die grootste flieks in die plaaslike bedryf en het telkens ʼn nuwe standaard gestel soos Bakgat, Wolwedans in die Skemer, Pad na jou hart en Ballade vir ʼn Enkeling.

Leon van Nierop het tydens die oorhandiging daarop gewys dat Danie met sy 2007-fliek, Ouma se slimkind, verantwoordelik was vir ʼn heropstanding van die Afrikaanse filmbedryf. “Danie Bester is die beste moderne rolprentvervaardiger op die oomblik met sy stewige filmgeletterdheid, stewige kop vir geld en aanvoeling vir wat op die silwerdoek werk,” het Leon gesê.

Na Ouma se slimkind het Danie die tienermark betree met Bakgat wat ook twee opvolgflieks gehad het. In 2011 pak hy Roepman aan en in 2012 Wolwedans in die skemer. Kort daarna het Verraaiers op die grootskerm verskyn.

Meer onlangs was Danie ook vervaardiger van die uiters suksesvolle Pad na jou hart met Donnalee Roberts en Ivan Botha. Dié fliek was ʼn kommersiële sukses weens die uitstaande gehalte. Danie, Donnalee en Ivan het intussen reeds weer kragte saamgespan vir ʼn nuwe fliek, Vir altyd, wat vroeg volgende jaar by die loket begin. (Loer gerus na ‘n kort lokprent van dié fliek onderaan die foto’s.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Baie geluk Danie. Hou so aan!!! En die positiewe kommentaar komende van Leon van Nierop, is ‘n GROOT KOMPLIMENT vir jou!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.