Danie en Elanie Gerber is vol hoop in isolasie

Elanie Gerber saam met haar pa, Danie, is tans in isolasie. Foto: Verskaf.

“Hallo, jammer dat ek jou boodskap vroeër gemis het. Ons het vanoggend laat geslaap en toe deur ons dag se roetine gegaan. Nou lê ons saam met ons honde en kyk animasieprente op die televisie.”

Só het die Springbok-legende, Danie Gerber, se dogter, Elanie, vanmiddag aan Maroela Media gesê. Sy klink vrolik en vriendelik, maar ’n mens kan plek-plek tog die moegheid in haar stem hoor.

Gerber het verlede Vrydag positief vir Covid-19 getoets en sy dogter ’n kort rukkie daarna.

“My kop is seer en ek is soms naar, terwyl my lyf ook maar eienaardig voel; so ’n rustelosebene-gevoel. Dan is Pa se lyf seer, maar die moegheid is die grootste probleem,” het sy gesê.

Van die asemhalingsprobleme wat met die koronavirus gepaardgaan, is daar nog geen sprake nie.

Die pa-en-dogter-span is in isolasie in hul huis in Bluewater Bay, terwyl Gerber se vrou, Elsabé, vir eers by ’n vriendin bly.

Dan bel Gerber se seun, Danré, ook gereeld vanuit Frankryk om te hoor hoe dit met sy pa en sussie gaan.

gerber.jpeg

‘n Jong Danie Gerber in aksie. Argieffoto.

“Ons stoom onsself ook gereeld – ons het ’n video van ’n dokter in Amerika gesien wat self die virus onder lede gehad het en hy het gesê dat stoom goed as teenvoeter werk. Ons neem ook medikasie om ons immuunstelsel ’n hupstoot te gee, terwyl ons baie tee drink. Ek dink pa drink deesdae goed wat hy nog nooit vantevore gedrink het nie,” vertel sy laggend.

Maar skielik word sy weer ernstig.

“Ek en my pa wil mense aanmoedig om te doen wat van hulle gevra word: Bly by die huis. Terselfdertyd wil ons ook vir mense sê hulle moenie in vrees lewe nie; jy moenie toelaat dat jou kop met jou begin smokkel nie, want dit is die ergste.”

Wanneer dinge eensaam raak, is hul hondekinders Seth, Miley, Cooper en die bejaarde worshond, Luke, darem daar vir geselskap.

“Ons wil net almal bedank vir hul ondersteuning – veral my boetie wat so gereeld na ons welsyn vanaf oorsee verneem en ons dokter wat na ons omsien. Ons dink werklik aan almal wat hierdeur gaan,” laat weet sy later per WhatsApp.

“Hierdie virus gaan ons nie onderkry nie!”

Daar word in die media berig dat nóg ’n paar Springbokke wat saam met Gerber by ’n gholfdag in Jan Kempdorp in aksie was, óók die virus opgedoen het.

Van die teenwoordige Bokke, van wie die meeste lede van die berugte toer na Nieu-Seeland in 1981  was, is onder andere Henning van Aswegen, Gysie Pienaar, Divan Serfontein, Burger Geldenhuys en Colin Beck. Dan was Robbie Blair ook deel van die verrigtinge.

Volgens die berigte het Serfontein, Geldenhuys, Beck en Blair die virus opgedoen. Hoewel al die gevalle nog nie bevestig is nie, het Maroela Media betroubaar verneem dat Beck en Blair definitief positief getoets het.

Die spelers het by die Border Hotel oornag, maar volgens Vanessa van Aswegen het sy en haar man, Henning (die hotel se mede-eienaar), nog geen simptome van die virus nie.

“Ek het met Gysie gepraat en hy is ook nog gesond,” het sy gesê.

Wynand Claassen, wat die Bokke destyds tydens hul Nieu-Seelandse toer aangevoer het, sê hy is geskok dat van sy spanmaats die virus het.

“Dit is net weer eens ’n bewys dat ons die pandemie ernstig moet opneem. Dit is nie net die armes of ou mense wat dit kry nie; die feit dat Danie en van sy spanmaats dit opgedoen het, moet ’n wekroep vir almal wees,” het hy gesê terwyl hy hulle beterskap toegewens het.

  • Die Springbokke wat onder andere saam met Gerber by die gholfdag was:

Divan Serfontein: Dié buksie van ’n skrumskakel – hy weeg 70 kg en staan 1,67 m in sy sokkies – was een van die talentvolste Suid-Afrikaners om die nommernegetrui oor sy kop te trek.

Hy het uiteindelik in 19 toetse vir die Springbokke gespeel nadat hy in 1980 sy buiging in die Groen-en-goud teen Bill Beaumont se Britse en Ierse Leeus gemaak het.

Serfontein het 100 wedstryde vir die WP gespeel.

Burger Geldenhuys: Geldenhuys is ’n legende in Pretoria waar hy in 184 wedstryde vir die Blou Bulle gespeel het. Hy het Noord-Transvaal ook in 54 kragmetings aangevoer.

Hy het in sewe toetse vir die Springbokke gespeel en sy buiging in 1981 teen Nieu-Seeland in Wellington gemaak.

Colin Beck: Jacobus Johannes “Colin” Beck was ’n veelsydige agterspeler wat in 44 wedstryde vir die Westelike Provinsie in aksie was.

Hy het vir die Bokke in 1981 in die Wellington- en Aucklandtoetse as plaasvervanger diens gedoen toe hy Willie du Plessis vervang het. Hy het sy laaste toets op senter teen die VSA in New York begin.

Gysie Pienaar: As heelagter het die 65-jarige Pienaar 165 wedstryde vir die Vrystaat gespeel. Hy was in 13 internasionale toetse vir die Springbokke in aksie.

Sy seun, Ruan, is ook ’n Springbok en lewer tans skitterspel vir die Cheetahs.

Henning van Aswegen: Hy het as kaptein van die Westelike Provinsie in 1985 die Curriebeker gewen, terwyl hy ook ’n paar wedstryde vir die Vrytaat en Transvaal gespeel het.

Sy Bok-loopbaan het uit twee toetse, waaronder die Christchurch-wedstryd van 1981, bestaan.

Robbie Blair: Blair het in sy debuuttoets vir die Bokke teen die Wêreld-XV-tal 21 punte met sy skopskoen aangeteken.

Hy was een van die WP en Transvaal se staatmakers en veral bekend vir sy akkurate stelskoppe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Naas ·

Elanie, Tannie Margie (gimnastiek) sê baie groete en sterkte vir julle.

Arno ·

Danie, Elanie baie sterkte……ons dink aan julle en bid vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.