Dank afwesige LP’s af, sê ANC-jeugliga

Die Nasionale Vergadering

Die Nasionale Vergadering

Die ANC-LP’s wat twee dae agtereenvolgend afwesig was in die nasionale vergadering wat daartoe gelei het dat die Wysigingswet op die Verdeling van Inkomste nie kon slaag nie, moet afgedank word, het die ANC-jeugliga Vrydag gesê.

Die LP’s moet na “ouetehuise” gestuur word, het die jeugliga gesê. “Ons doen ʼn beroep op die ANC om die persone te verwyder wat hul amptelike pligte versuim vir redes wat nie aan die beweging bekend is nie. Die ANC-jeugliga eis dat hulle na ouetehuise gestuur moet word as hulle te oud is om hul wetgewende pligte uit te voer.

“Ons wil hulle vervang met bekwame jong mense van die ANC wat die energie en revolusionêre dissipline het wat vereis word om ʼn doeltreffende ANC-koukus en wetgewer te bou.”

Die wetsontwerp, wat ʼn R5,41 miljard-wysiging aan die begroting beteken, is twee weke gelede deur Pravin Gordhan, minister van finansies, aan die parlement voorgehou tydens sy mediumtermynbegrotingsbeleid.

Jackson Mthembu, hoofsweep van die ANC, het Donderdag aangekondig die “ongedissiplineerde” LP’s wat sonder toestemming afwesig was, sal aan dissiplinêre prosesse van die regerende party onderwerp word.

“Die afwesigheid van hierdie LP’s, ondanks bevestiging dat hulle teenwoordig sal wees, is skandalig en disrespekvol teenoor die mense van Suid-Afrika. Die eensydige siening van die ANC-koukus is dat die afwesige LP’s die ergste straf opgelê moet word,” het Mthembu Donderdag aan verslaggewers in die parlement gesê.

Die dooiepunt in die nasionale vergadering beteken dat diensverskaffing verhinder word, het die ANC-jeugliga bygevoeg. “Dit beteken dat die proses, om die begroting aan munisipaliteite te allokeer, vertraag word. Die tydlyne van regeringstrukture, veral munisipaliteite, wat verband hou met die beplanning en dienslewering moet dus uitgestel word. Dit is ʼn aanval op die demokratiese mandaat van die beweging om ons mense te dien en dit kom neer op ʼn politieke opstand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Raymond ·

Lyk my die ANC jeugliga regeer die land dit is hoekom dit nou so gaan

CHRISTA ·

Hulle hoef nie afgedank te word nie – jy sien mos hulle is nie eers teenwoordig nie!!! En dié wat teenwoordig is SLAAP!! Kyk ‘n bietjie na die parlementêre kanaal op DSTV!! DIS hoekom als in ons land so uit mekaar val!!!

Johann ·

Dis nou nie juis asof die wat wel die stoele warm sit iets werd is nie? Ek bedoel…NUMBA WHONE sit self lekker en slaap as voorbeeld? Klomp overpaid clowns

Woutertjie ·

As ek sommer net nie opdaag vir werk nie, gaan ek beslis afgedank word sonder om simpatie van die howe te verwag. Waarom geld dit nie vir LP’s nie?

Lance ·

As jy slaap dan is jy ook afwesig …en BAIE mp’s slaap ….self zuma het geslaap met Gordhan se toespraak so 2 weke terug …

Lance ·

As mens slaap in die parlament is jy mos ook afwesig soos ons al so baie op tv gesien het …..

John ·

Mthembu, en die ANC-jeugliga, is skynbaar nou die oppergesag van die reg en die ANC se spreekbuis. Hy verwys na die ‘beweging’ en ‘revolusionere dissipline’. Hoewel hulle optrede positief klink, is veel meer ter sprake. Daar is ‘n verbloemde waarskuwing dat opstandiges gepos gaan word…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.