Dank Dlamini af, vra Outa

Bathabile Dlamini (22 Januarie 2018). Foto: ANA

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Maandag ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, af te dank ná verdoemende bevindings deur afgetrede regter Bernard Ngoepe oor haar gedrag in die Sassa-debakel.

Outa het gesê Dlamini het die “rampspoedige” kontrak tussen Cash Paymaster Services (CPS) en Sassa bestuur voor Ramaphosa haar geskuif het om die vroueportefeulje in die presidensie oor te neem.

“Outa glo die skade wat sy by die departement van maatskaplike ontwikkeling aangerig het, is onoorkomelik en het pres. Ramaphosa versoek om haar as minister af te dank. Sy het doelbewus die implementering van ʼn alternatief tot CPS uitgestel, sy het gejok oor die vermoë van die Suid-Afrikaanse Poskantoor en het die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) se verslae gemanipuleer om seker te maak die kontrak word verleng om CPS te bevoordeel,” het Dominique Msibi, portefeuljebestuurder vir spesiale projekte by Outa, in ʼn verklaring gesê.

“Dit is belaglik dat die uitstel nou daartoe sal lei dat die begunstigdes persoonlik ʼn bykomende R10 sal moet betaal in bankkoste – ʼn bedrag wat hulle nie kan bekostig nie.”

Dlamini moet voor die einde van Maandag reageer op Ngoepe se verslag wat op 4 April by die konstitusionele hof ingedien is. Ngoepe het Dlamini se getuienis by die Sassa-ondersoek veroordeel en gesê sy was ontwykend en het sekere vrae ontduik. Sy het tydens die ondersoek met “ek weet nie” of “ek kan nie onthou nie” gereageer op sleutelvrae, het Ngoepe bygevoeg.

Die ondersoek sou bepaal of Dlamini aanspreeklik gehou kan word vir die regskoste wat aangegaan is in die uitgerekte Sassa-debakel. Ngoepe het aan die hoof van die ondersoek gestaan wat by die kantoor van die hoofregter in Midrand gehou is.

Msibi het gesê ministers wat ʼn “spoor van verwoesting” laat, moet aanspreeklik gehou word en nie weer in ander ministeries aangestel word in die hoop dat die skade wat hulle aangerig het, “sal verdwyn” nie. “Dit is ironies dat sy na die ministerie van vroue geskuif is, as daar in ag geneem word dat sy juis die voordele, wat vir behoeftige ouer vroue en weerlose kinders bedoel was, misbruik het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Joshua ·

Volgende wat OUTA asb moet ondersoek is dai Public Investment Coperation se lede van die Goverment Employers Pension Fund wat jaar in en jaar uit biljoene rande ‘verloor’ met hul sogenaamde ‘investments’ o.a. met Steinhoff en talle ander korrupte instansies.

Snowball ·

Ek sien terme soos “verantwoordelik vir” en “moet aanspreeklik gehou word” en toe lag ek hardop; waar het jy nou al gesien dat onbevoegdheid en onetiese gedrag uitgewys en aanspreeklik gehou is in ons nuwe Suid Afrika? Toesmeer, verdoesel, lieg en manipuleer, dis aan die orde van die dag! Verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar? Ons wag nog dat dit in dese “new dawn” realiseer; tot nou toe, helaas, nog net lippetaal!

Oom Kalahari ·

Haar hele optrede gaan oor ‘n sterk bruin koevertjie/s onder die tafel deur om CPS te bevoordeel.

Michael ·

Kan iemand vir ons se WAT die vrou nog in die parlement soek ????????

John ·

Die antie wip haar vir die Grondwethof en trek hul magte in twyfel. Sy glo blykbaar haar swaer, Zuma, is steeds die prez en haar beskermheer. Sy mag dalk net ‘n verrassinkie kry lank voor Kersfees…

PJJ ·

Sy moet vervolg word en opgesluit word. Walglik is wat sy is.

Sê maar net ·

Dit sê baie van die hele sassa gedakel. Dit help nie die staats pensioenarisse kry jaarliks n verhoging van R10 en dan moet vat sassa weer die R10 terug nie.

Oom Kalahari ·

Sy is ‘n onbeskofte mens en het geen gevoelens openbaar teenoor die arme pensioenarisse nie, maar hul in swakheid en gesukkel gedompel. Haar magte was misbruik in alle opsigte. Die vroue liga kan haar ‘n tee dame pos aanbied.

JM ·

Nee wat julle sit dit mis, dit is net “jobs for pals” en niks anders nie

Buks ·

Ai mense.
Daar is 3 kaarte wat ALMAL speel in die werksplek en politiek – en as werkgewer, of selfs as Jan Pupliek, kan jy NIKS doen nie, want dan is jy in die sop:
1) Rasisme (holrug gery, maar BAIE effektief)
2) Die stupid kaart of te wel die taal kaart (eish, ek het nie geweet/verstaan nie)
3) Amnesia. Totale geheue verlies – van enige iets wat verkeerd gedoen was of opleiding wat gegee was, al het hulle daarvoor geteken, en dan word nommer 1 of 2 weer uitgepluk, afgestof en ge-“recycle”.
Hierdie is inligting uit HUL geledere!

Eish ·

” … spoor van verwoesting gelaat…”
” … ek weet nie…”
” … ek kan nie onthou nie…”
n Ketting bly maar so sterk soos die swakste skakel, wat in die geval die grootste deel van die regering is.

Fred ·

Weet nie wat die probleem is, sy is verkies as verteenwoordiger van die bevolking. Sy is die wil van die nasie. Hoe nou haar optrede beswadder?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.