Dank minister af oor Sassa-debakel, sê Cosatu

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbondfederasie Cosatu het Donderdag pres. Jacob Zuma gemaan om in te gryp in die welsynstoelaagkrisis van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) en hom versoek om Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, en haar bestuurspan af te dank.

“Hulle het versuim om beslissend op te tree met onreëlmatige uitgawes en onregmatige tenderprosedures wat daartoe gelei het dat 17 miljoen begunstigdes se lewens nou daarvan afhang,” het Bheki Ntshalintshali, sekretaris van Cosatu, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

“Dit is nie net ʼn administratiewe fout nie, maar ʼn politieke fout wat na korrupsie ruik,” het hy gesê.

Volgens die vakbondfederasie moet die regering wegdoen met uitkontraktering en die tenderstelsel. “Uitkontraktering is ʼn verkwistende oefening wat werksveiligheid bedreig en dit onmoontlik maak om aanspreeklik te wees teenoor owerhede.

“Vanjaar se begroting het na verdere werksverliese by die Poskantoor verwys en poskantoorwerkers het reeds gebuk gegaan onder duisende afdankings en uitkontraktering. Ons glo die Poskantoor en Posbank moet as prioriteitsdiensverskaffers gebruik word vir die regering om met die verspreiding van welsynstoelae te begin.”

Zane Dangor, direkteur-generaal van maatskaplike ontwikkeling, het Woensdag gesê die departement het met onderhandelinge begin met Cash Paymaster Services (CPS) om sy kontrak te hernu. Die konstitusionele hof het in 2014 bevind dat Sassa se kontrak met CPS ongeldig was. Die departement, onder leiding van Dlamini, moet voor 1 April seker maak dat miljarde rand in welsynstoelae aan minstens 17 miljoen Suid-Afrikaanse begunstigdes oorbetaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Alida ·

Lyk of die geld gesteel is. As dit beskikbaar was kon hulle mos n plan maak met die uitbetalings. Dank die hele vrot spul af.

simon ·

Die Minister het voor die Parlement geleer toe sy n paar maande gelede aan die LP’S verduidelik het dat sy sekere Vrae nie kan antwoord want dit sou die onderhandel inge in gevaar stel.
WATTER ONDERHANDEL INGE, BATHABILE DLAMINI, VERWYS JY NA?
Ek het nie mooi gehoor wat jy antwoord nie.
Was daar ENIGE wettige onderhandelinge aan die gang op daardie moment?

AL ·

Dank haar af. Sy is of totaal onbevoeg. N deeglike ondersoek moet gedoen word – haar optrede is verdag.

jaco ·

cosatu is deel van die ANC maar cosatu vra dat die minister afgedank word. so eintlik vra die ANC vir die ANC om ‘n ANC-minister af te dank. Of verstaan ek iets verkeerd??? Waarom breek cosatu nie net weg vanaf die ANC en gaan in openlike opposisie in nie?

anna ·

Dank haar af verkragring moord en steel in mos ons land se wet

Johann ·

Ons gaan nêrens kom met die “hire en fire” stories nie, punt is daar is senior burgers wie onnodig onder stress geplaas word deur die deurmekaar storie. Stel reg wat verbrou is en speel agterna kat en muis speletjies

Sipho Sehloho ·

Hierdie is ‘n BAIE ernstige saak. Die minister moet beslis afgedank word. Sy dobbel met menselewens. WAT gaan gebeur as 17 miljoen mense op 1April nie hul toelaes kry nie? Die land gaan brand!!!

Johann ·

Julle moet mooi lees…die Minister en haar handpoppe sing n deunkie dat die tesourie (Pravin Gordon) die stok in die speke is. As HY nie n verslapping toelaat in die WETGEWING t.o.v die uitbetalings nie….dan kan hulle nie uitbetaal nie! N Zumaikie aanval op Gordon….sal mense sonder geld laat sit en self swem in die selfaangewese miljoene wat Zuma en sy pelle skep…en kyk hoe brand SA as daai geld nie betaal word nie!

AL ·

17 miljoen afhanklikes is n enorme getal. Die biljoene rande wat gesteel word kon al lankal die afhanklikes bemagtig het om vir hulself te sorg.

John ·

So ‘n klomp geld spel moeilikheid in elke janrap se terme. Die regering soek naarstiglik geld wat donkiejare gelede deur enkelinge verduister is maar die miljarde wat soos in nou ‘n krisis is, word soos ‘n ou bal op ‘n speelgrond rondgeskop. Die klomp geld le iewers. Waar? Wie pas dit op? Weet die geagte minister waar haar motorsleutels is of soek sy dit ook? Die poskantoor kan nie eers ‘n brief veilig aflewer nie en die toue by poskantore is ellelank met mense wat net ‘n pakkie wil pos teen duur versekering wat meer as ‘n maand later eers na vele navrae gehawend by sy bestemming aanland… en nou wil hulle ‘n Concord bestuur. #’GoodLuck!’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.