‘Dank Muthambi af, raak ontslae van SAUK-bestuur’

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die langverwagte verslag oor die parlementêre ondersoek oor die stand van sake by die SAUK is Dinsdag aan die nasionale vergadering voorgelê.

Die meerderheid van LP’s is verenig in hul aanbeveling dat Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, afgedank moet word en dat die raad, insluitend sy huidige uitvoerende lede, ontbind moet word.

“Ons beveel aan dat die nasionale vergadering formeel die SAUK-raad ontbind, insluitend drie lede van die uitvoerende raad,” het Vincent Smith, voorsitter van die ad hoc-komitee wat die ondersoek gelei het, gesê.

Daar is tans geen nie-uitvoerende direkteure op die raad nie.

Smith het die afbraak van korporatiewe regering by die uitsaaier en die verkwisting van openbare geld, insluitend R5,1 miljard in onreëlmatige uitgawes, uiteengesit. “Hierdie stand van sake kan nie voortduur nie,” het hy gesê.

Hy het gesê die SAUK moet ʼn geloofwaardige rekenkundige raad hê wat sy werk doen kragtes die Wet op Uitsaaiwese, die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Maatskappyewet.

“Die ad hoc-komitee beveel aan dat die aanstelling van ʼn oorgangsraad en uiteindelik ʼn permanente raad bespoedig moet word,” het Smith bygevoeg.

Ondanks beskuldigings deur Hlaudi Motsoeneng, uitvoerende lid van die SAUK, en voormalige voorsitter Mbulaheni Maguvhe dat die proses “onregverdig” is en neerkom op ʼn “kangaroehof”, het Smith gesê die “ondersoek het met die maksimum deursigtigheid” plaasgevind en “absolute regverdigheid”.

DA-LP Mike Waters het gesê die 82 bladsy lange verslag “het al die bestanddele van ʼn Shakespeare-tragedie, van verraad, korrupsie, bedrog, intimidasie, magsmisbruik en gulsigheid”.

“Die hoofkarakters in hierdie tragedie is die minister van kommunikasie Faith Muthambi en Hlaudi Motsoeneng, wat vergelyk kan word met Lady Macbeth en Lord Macbeth, met die verslaggewers en personeel wat die slagoffers is,” het Waters gesê.

“Die minister en Motsoeneng het geglo die SAUK is hul eie ryk om te doen wat hulle wil om hulle ʼn politieke agenda te bevorder. Hierdie skrikbewind is deur sommige van die raadslede aangehelp.”

Hy het Muthambi ook van meineed beskuldig toe sy deur LP’s ondervra is tydens die ondersoek. “Dit is van só ʼn ernstige aard dat strafregtelike aanklagte teen die minister aanhangig gemaak moet word,” het hy gesê.

Die komitee het ook bevind dat Muthambi nie bekwaam was om haar werk te doen nie en dat sy ingemeng het in die raad se sake, het Waters bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

AL ·

Ek stem! Miljarde rande word gesteel wat die ekonomie breek. Ons is sat vir korrupsie, gierigheid en kaderontplooing!

humor ·

Soos iemand van die FAK rakende huidige musiek en sangers by n geleentheid gese het: n Septiese tank en die d ….. dryf bo. Die jare lange vertraging van hierdie ondersoek kos die belastingbetaler miljoene wat opbouend aangewend kon word.

Johan. H. ·

Kyk al jare gladnie meer TV nie , Al die heruitsendings, en die gemors wat hulle aan ons opdis, asook die nuutste idee om 80% lokale goed uit te saai, Radio is nie veel beter nie Op sekere stasie moet hulle nou stories ook uit saai!!!MM moet asb nie die “delete” nie . Julle is nog al wat ek kyk!! O ja Koop ook gladnie meer die koerante nie

GES ·

Dit is net ongelooflik dat die SYBC kan voorgaan om uit te saai ten spyte van al die korrupsie en bedrog. Die einde is waarskynlik nie meer ver nie.

John ·

Die regering se plan met die SABC … die hoeveelste? Dit gaan nie beter gaan nie. Ons prez het ‘n hele kraal vol van dieselfde voorosse. Hulle is groot en kan twee stoele vol sit en word nooit gedip nie. Die bosluise sit welig en suig bloed soos ons kinders ysies langs die sportveld. Die’ komitee was eenvoudig net te bekwaam na die ‘base’ se smaak. Hulle is gemerk. Kyk hoe verdwyn hulle. Miskien kry ons nou weer ‘n dowe grootbaas en ‘n antie met ‘kruis’bande van ‘n anderse handelsmerk om ons bedroeflike Afrika-nuus te geur en klingel vanuit torings wat oraloor opspring… selfs meer as e-tol-hekke…

Grassie ·

Die top-bestuur van die SABC is Zuma se handlangers. Hy sal probeer om hulle daar te hou. As ‘n mens ‘n staatsgreep beplan is dit belangrik om die uitsaaiwese aan jou kant te kry. Miskien oorweeg Zuma een.

Alwyn Carstens ·

Waarom kan mens nie die berig uitdruk nie?? Of mis ek iets.

Janie Monsieur ·

Dagsê Alwyn,

Dankie vir jou kommentaar.

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan stoor en druk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan die dokument in ʼn .pdf-formaat stoor en dan uitdruk.

Ek hoop dit help!

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.