‘Dankbaar vir tweede kans’ ná krokodilaanval

Foto verskaf deur ER24

Peter Knottenbelt (71) is vroeër vanjaar in Limpopo deur ʼn krokodil aangeval en sy regteronderbeen moes gevolglik geamputeer word, maar hy is nou meer vasberade as ooit om ʼn verskil te maak.

Knottenbelt het aan ER24 van sy beproewing vertel. Hy het op 6 Januarie saam met familielede die Olifantsrivier oorgesteek toe hy op ʼn drie meter lange krokodil getrap het. “My vrou, kleindogter en ander familielede was op die rivieroewer en moes hulpeloos toekyk.”

Volgens Knottenbelt het veldwagters van ʼn gastehuis sowat 100 m van die toneel die gille gehoor. “Die oomblik toe ek op die krokodil se rug getrap het, het dit gewelddadig opgetree en my regterbeen styf vasgegryp en my van kant na kant gegooi. Ek het gehoor hoe die bene in my been fyngedruk word. Terwyl ek om my lewe geveg het, het ek nog gedink dit is ʼn vergeefse poging teen so ʼn groot roofdier.”

Foto verskaf deur ER24

Van die veldwagters het intussen op die toneel aangekom en geskree in ʼn poging om die krokodil te probeer verwilder. “Ek kon daarin slaag om die krokodil se kop beet te kry terwyl die dier na dieper water geswem het en ek onvermydelik sou verdrink het. Ek het my duime in die dier se oogkaste gedruk met al my krag. Ek dink die beproewing het omtrent vyf minute aangehou voor ek vermoed die krokodil gedisoriënteerd geraak en my naby ʼn sandbank uitgespoeg het.”

Een van die veldwagters het in die rivier ingespring en Knottenbelt na veiligheid gebring. “Ek was ernstig beseer. Die hele voorval het omtrent 20 minute geduur.” Knottenbelt het ʼn gebreekte sternum, ses gebreekte ribbes, ʼn geperforeerde long, erge weefselskade aan sy regterbors, ʼn ontwrigte sleutelbeen, ʼn bladbeenfraktuur, interne bloeding en veelvuldige ernstige frakture van die regterbeen en voet opgedoen. Albei sy polse is ook gebreek.

Volgens Knottenbelt is daar ʼn knelverband en stukke klere gebruik om die bloeding te probeer stopsit en hom te stabiliseer. ʼn Ambulans is van Tzaneen af ontbied, maar weens die afgeleë ligging en slegte paaie het die ambulans en paramedici omtrent eers ʼn uur later by die toneel opgedaag.

Foto verskaf deur ER24

Paramedici het Knottenbelt verder probeer stabiliseer en hy was reeds half bewusteloos. Die ambulans is na Polokwane herlei en Knottenbelt se dogter het vooruitgery om reëlings by die hospitaal te tref. Die ambulans het omstreeks 20:30 in Polokwane aangekom, sowat ses uur ná die voorval.

Knottenbelt is na die Mediclinic Polokwane geneem waar daar onmiddellik begin is om sy ernstige beserings te behandel. Hy het ʼn bloedoortapping gekry en moes geopereer word. Daar is besluit om hom na ʼn hospitaal in Johannesburg oor te plaas en hy is met ʼn ER24-helikopter oorgeplaas.

“Ek was in dié stadium glad nie meer by my bewussyn nie. Ek is in die trauma-eenheid van ʼn hospitaal in Johannesburg opgeneem. Ek is oor die volgende twee weke 12 keer geopereer en was in ʼn geïnduseerde koma.”

Foto verskaf deur ER24

Knottenbelt se regteronderbeen moes geamputeer word weens die infeksie wat hy opgedoen het. “My kinders is vir die onvermydelike voorberei, maar nadat die amputasie gedoen is, het dit aansienlik beter gegaan. Ek was fisiek en verstandelik sterk en my herstelproses het begin.”

Knottenbelt was vir 44 dae in die hoësorgeenheid waarna hy eers na ʼn algemene saal en toe na ʼn rehabilitasiesentrum naby sy huis in Benoni oorgeplaas is. “Ek is nou al weer ʼn paar maande terug by die huis. Ek het weer by die gimnasium aangesluit en swem daagliks gemiddeld 1 km. Ek bou weer my krag op, nie so vinnig as wat ek sou wou nie, maar baie vinniger as wat enigiemand van die mediese span gedink het ek sou kon. Ek het ʼn prostese gekry en leer om dit effektief te gebruik om weer ʼn ‘normale’ lewe te lei.”

Volgens Knottenbelt kon hy maklik gesterf het as dit nie vir die mediese span was wat hom versorg het nie. “Ek glo ook dat die talle gebede en boodskappe my gehelp het om te herstel. Ek wil van die geleentheid gebruik maak om almal te bedank wat my ondersteun het,” het hy gesê.

“Ek is nog altyd positief gefokus op die ontwikkeling van jong mense. Ek het steeds baie om te bied en hierdie tweede kans het my aangespoor om die mensdom te ondersteun op enige manier wat ek kan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronel ·

Sjoe baie sterkte oom, ek hoop almal betrokke kan die trauma verwerk en so positief soos oom wees, oom is ‘n ware inspirasie vir baie mense.

Maggie Pringle ·

Ken hom persoonlik. Het vir eerste keer na 7 maande weer parkrun geloop. Ongelooflike sterk man en ondersteunende familie. God is groot om hom ‘n tweede kans te gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.