Dankie, Dale!

Dale Steyn vier Brad Haddin se paaltjie. Foto: Alexander Joe/AFP.

Dit is ’n warm dag in Johannesburg (óf in Melbourne, óf in Nagpur) en ’n goeie vennootskap is besig om die Suid-Afrikaanse boulers te frustreer.

Uit pure desperaatheid gooi Graeme Smith die bal na Dale Steyn; die Proteas se bobaas snelbouler. Die gepaardgaande boodskap is eintlik heel eenvoudig: Kry asseblief tog net ’n paaltjie.

Vier aflewerings later en Steyn word deur sy spanmaats gelukgewens omdat hy van Jonathan Trott (óf van Michael Hussey óf van Sachin Tendulkar) ontslae geraak het.

Wanneer Dale Steyn in ’n toetswedstryd geboul het, kon jy maar weet dat die vonke gaan spat.

Dale Steyn in aksie op SuperSportpark in Centurion. Foto: GB Jordaan.

Maar die horlosie staan vir niemand stil nie en op 38-jarige ouderdom het die Phalaborwa-sneltrein aangekondig dat hy klaar is met krieket – 17 jaar, 93 toetse, 125 eendagwedstryde en 47 T20-kragmetings later.

“Vandag is ek amptelik klaar met die spel waarvoor ek so lief is. Die oomblik is bittersoet, maar tog is ek ook dankbaar,” het Steyn op sosiale media gesê.

Kort ná sy aankondiging het ’n rits internasionale sterre (onder wie AB de Villiers, Kevin Pietersen en Virender Sehwag) hom met sy spoggerige loopbaan gelukgewens.

Goeiste, selfs die jonger generasie se voorste snelbouler, Australië se Pat Cummins, het ontsag vir Steyn se prestasies.

“Geluk met jou ongelooflike loopbaan, jy is die standaard wat ander snelboulers vir die volgende 20 jaar sal moet probeer navolg,” het Cummins getwiet.

Steyn het die meeste paaltjies (439) vir Suid-Afrika in toetskrieket geneem en hy was inderdaad ’n briljante snelbouler. Om die bal teen 145 km/h weg van ’n regshandige kolwer te swaai is nie iets wat ’n parkiekrieketspeler sommer sal regkry nie.

Dankie Dale vir al die paaltjies. Foto: AFP.

Deur die jare het hy al met ’n paar skitteraflewerings vorendag gekom. Vra net vir Michael Vaughan, Marcus Trescothick of Martin Guptill.

Tog het beserings sy tol geëis en Steyn het later in sy loopbaan so baie skoueroperasies ondergaan dat hy met ’n amper bioniese arm geboul het.

Roger Federer was vir 2 170 dae die wêreld se voorste manstennisspeler; Steyn was vir 2 343 dae die beste toetskrieketbouler.

Hy is ongetwyfeld een van die wêreld se beste spelers. Ooit.

  • Dale Steyn se internasionale boulstatistiek:

Toetskrieket: 439 paaltjies in 93 wedstryde teen ’n gemiddeld van 22,95 en ’n treftempo van 42,30.

Eendagkrieket: 196 paaltjies in 125 wedstryde teen ’n gemiddeld van 25,95 en ’n treftempo van 31,90.

T20-krieket: 64 paaltjies in 47 wedstryde teen ’n gemiddeld van 18,35. Hy het minder as sewe lopies per boulbeurt afgestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Dankie Dale. Jy kon daai bal gooi. Ek hoop iewers kry jy ‘n testimonial wedstryd. Miskien by Nuweland?

Frank

‘n Krieketspeler en sportman sonder issues. Sterkte!!!