Danksy hartoperasie kan Amara ‘feetjie word’ wat ander wil help

Klein Amara Ngwenya is op die herstelpad na ‘n ingrypende hartoperasie. (Foto: Verskaf)

Klein Amara Ngwenya is dalk klein vir haar ouderdom, maar dié vierjarige droom groot.

ʼn Ernstige harttoestand het tot vertraagde groei gelei, maar danksy ʼn ingrypende operasie wat deur weldoeners moontlik gemaak is, kan niks Amara nou meer stuit nie.

Sy gaan eendag ʼn feetjie wees en basta, vertel die dapper klein meisie.

“ʼn Feetjie wat haar towerkuns gebruik om ander kinders ook feetjies te maak, sodat hulle ook ander kan help,” sê Amara wat tuis herstel, haar kragte opbou en nou, enkele dae ná ʼn groot hartoperasie, gereed is om die wêreld aan die brand te speel.

Amara het onlangs ʼn operasie by die befaamde Maboneng-hartinstituut by die Netcare Sunninghill-hospitaal in Johannesburg ondergaan om ʼn hartdefek reg te stel. Sy is die jongste begunstigde van die Hart-tot-hart-veldtog, ʼn projek wat hulpbronne bymekaarmaak vir kinders wat aan lewensbedreigende harttoestande ly.

“Amara het twee jaar gelede ʼn koors ontwikkel en was so siek dat sy sowat twee weke lank in die Steve Biko- akademiese hospitaal, dieselfde hospitaal waar sy gebore is, opgeneem moes word,” vertel haar ma, Runel Ngwenya.

Sy het daarna nie soos haar maats geëet of gegroei nie en moes altyd met haar gunstelingkos – aartappels of pap – oorreed word om iets te eet.

Die hospitaal het Amara na die Maboneng-hart-en-longinstituut by Sunninghill verwys. Sy het ʼn atriale septale defek gehad, oftewel ʼn gaatjie tussen die boonste twee hartkamers. Dr. Erich Schürmann, ʼn spesialis verbonde aan die instituut, sê die defek het ʼn spesialisprosedure benodig om dit reg te stel.

Amara se ouers is albei werkloos en kan nie ʼn mediese fonds bekostig nie. Waar hulle aanvanklik doodbekommerd oor hul dogter se gesondheid was, was hulle oorstelp van vreugde toe hulle hoor dat Medipost Holdings en die Netcare-stigting die koste van die operasie sou dra.

“Dit was soos ʼn sprokie wat waar geword het,” sê Ngwenya.

Schürmann en dr. Martin Myburgh, albei kardiotorakale chirurge, asook die pediatriese kardioloog dr. Janine Meares, narkotiseur dr. Krishnee Naidoo en kardiale perfusionis Mogotsi Mophosho het almal hul tyd en kundigheid gratis verskaf om vir Amara die operasie te bied wat haar lewe sou red.

“Indien onbehandel, kan ʼn gaatjie in die septum wat soos groot soos dié van Amara sʼn was, ongelukkig verswakking veroorsaak en selfs lewensgevaarlik wees. Terwyl die kind groei, verander die hartdefek uiteindelik die slagare van die longe,” sê Schürmann.

“Gelukkig het Amara se operasie glad verloop en dit is binne drie uur afgehandel.”

Alle aanduidings is dat die operasie ʼn groot sukses was en hoewel Amara se vordering fyn dopgehou gaan word, sal sy na verwagting ʼn normale en vol lewe kan lei.

Klein Amara sê sy wil ‘n feetjie word. (Foto: Verskaf)

Ngwenya sê die gesin is ongelooflik verlig dat Amara sedert die operasie al hoe sterker word. “Nou het sy regtig ʼn eetlus. Ons probeer om haar vir ʼn paar weke stil te hou terwyl sy herstel, maar noudat sy reeds beter voel, wil Amara heeltyd soos ʼn gesonde dogtertjie speel.

“Amara loop nie in die huis nie, sy wil altyd hardloop. En soos jy weet, wil sy ʼn feetjie word wanneer sy groot word – sy het selfs al haar eie manier van vlieg bedink. Sy het die gewoonte om teen die binnekant van ʼn deurkosyn op te klouter en dan spring sy – of vlieg – grond toe.”

Volgens haar trotse ma is daar nou niks meer wat in Amara se pad staan om haar drome te bewaarheid nie.

“Ons dank God vir die talle mense en organisasies wat ons dogter gehelp het. Ons is verstom deur die vrygewigheid en voel uiters geseën. Groot dank aan die Netcare-stigting en Medipost Holdings wat die koste van die operasie gedra het. Ons het soveel slapelose nagte oor haar gesondheid gehad.”

Mugisha Francis, Amara se pa, het ook die mediese spanne bedank wat Amara op die pad na herstel gehelp het.

“Die Netcare-verpleegsters het haar soos ʼn prinses behandel en het selfs haar naels geverf en haar in die saal vermaak. Hierdie omgee-dade en die mense wat dit met soveel liefde doen, is so inspirerend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daleen ·

Ag tannie is so bly die groot oog meisiekind is nou gesond en kan nou net daarop konsenteer om kind te wees. Lekker speel kleine feetjie.

Antjiepat ·

Ai Amara, jy is dan alreeds ‘n pragtige feetjie. Kyk net daardie pragtige ogies. Ek bid vir spoedige herstel, feetjie en dat jy sommer gou sal kan rondfladder.

Chantel ·

Ek is dankbaar namens die ouers vir hierdie helde intreding. Vinnig gesond word klein Amara-feetjie

Magda G ·

Die drs en almal wat betrokke was met die operasie is engele. Geseend is julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.