
Danville se liggiehuis (Foto: Verskaf)
Vir die eerste keer in 26 jaar sal Danville se liggiehuis in Pretoria-Wes nié oor Kerstyd met duisende Kersliggies verlig word nie.
Brenda van der Merwe en haar dogter Jacomien, wat die liggiehuis-projek 26 jaar gelede van stapel gestuur het, het besluit om vanjaar eerder bejaardes se lewe te verlig met kospakkies.
Dié besluit volg ná ’n paar voorvalle wat verlede jaar plaasgevind het. Brenda en Jacomien voel dus dat hulle nie meer lede van die publiek se lewe in gevaar wil stel nie. “Omrede behoeftige gesinne en lede van die publiek jaarliks ’n draai by die liggiehuis gemaak het om na die liggies te kyk, voel ek dit raak gevaarliker om snags rond te ry,” sê Jacomien.
Die liggiehuis was al die jare veel meer as ’n mooi verskynsel tydens die feestyd in die Danville-omgewing. Die projek het ten doel gehad om duisende kospakkies aan behoeftige gesinne te gee. Die Van der Merwes het ook in Desembermaand geskenkpakkies vir behoeftige kinders uitgedeel en kospakkies by bejaardes afgelaai.
Hoewel die liggies ’n doel gedien het om die publiek te lok, sê Jacomien hul groter doel is uiteindelik om mense van kos te voorsien. “Ons wil eerder meer kruideniersware onder behoeftiges in die omgewing versprei as om nog stringe liggies te koop,” sê Jacomien.

Danville se liggiehuis beoog om vandeesjaar bejaardes te help (Foto: Verskaf)
Jacomien en Brenda wil vandeesjaar hul fokus verskuif deur bejaardes, onder andere dié by die Danville-aftreeoord, te help deur vir hulle kospakkies met Kersfees te gee. Hulle beoog om sowat 150 bejaardes vanjaar te help.
Hulle wil ook graag vandeesjaar op bejaardes fokus omrede soveel bejaardes dikwels deur hul kinders op Kersdag vergeet word. “Die eensame bejaardes gaan mekaar bystaan tydens ’n lekker Kersete,” sê Jacomien.
Jacomien en Brenda sê hulle is baie hartseer oor die besluit, maar wil graag die publiek bedank vir die 26 jaar lange getroue ondersteuning van die projek.
Jacomien en Brenda verwelkom enige skenkings, veral produkte soos blikkieskos, sojamaalvleis, poeiermelk, sagte lekkergoed soos malvalekkers en suiglekkers. Geen kontantskenkings sal toegelaat word nie.
Skenkings kan deur die dag by hul huis te Millarstraat 134, Danville, afgelewer word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
27 Kommentare
Hoe gemaak as Ek in die Noord Kaap bly en n bydrae wil maak
Wat ‘n pragtige gebaar. Jammer oor die liggiefees, maar ek glo die behoefte onder ons bejaardes is ook baie groot. Gaan hulle beslis ondersteun.
BAIE dankie Jacomien en Brenda! Die liggies was voorwaar elke jaar, iets om na uit te sien. Voorspoed vorentoe, en mag julle BAIE ondersteuning kry met julle harde werk!
Baie jammer, maar ek het die voorreg gehad om dit te sien en dit was absoluut pragtig. Dankie vir die jare lange fees van liggies vir die wat daarin kon deel. Bejaardes het ook n plek in die son en ek gun hulle al die liefde en aandag. Doen so voort.
Baie sterkte vir julle en ons hoop en bid jul projek sal al die oumendies help