Danville se liggiehuis: Talle gaan dalk met leë hande huis toe

Danville-liggiehuis Foto: www.danvilleliggiehuis.co.za

Die Danville-liggiehuis is in ʼn krisis gedompel met ’n tekort aan kruideniersware vir hul jaarlikse kerspakkies. Hul sal moontlik nié sowat 1 400 kospakkies kan pak en uitdeel nie.

Behoeftiges maak staat op dié kospakkies vir ʼn bietjie verligting in die Kerstyd.

Brenda van der Merwe het dié projek deur die liggiehuis 24 jaar gelede begin om behoeftiges van kospakkies te voorsien sodat hulle ʼn gesellige feestyd kan geniet. Die moontlikheid bestaan egter vanjaar dat behoeftiges nié hierdie kospakkies sal ontvang nie en met leë hande weggewys sal moet word.

Brenda se dogter, Jacomien, vertel dat die liggiehuis kospakkies aan sowat 950 behoeftige gesinne voorsien. Dié gesinne moes vooraf registreer en sal dit Maandag verwag. Voorts verskaf die liggiehuis kospakkies aan sowat 450 bejaardes in die omgewing van Danville, ʼn minder gegoede woonbuurt in die weste van Pretoria.

Sy verduidelik al hoef bejaardes nie vir die kospakkies te registreer nie, wil hulle graag iets aan hulle gee aangesien hulle maar karige pensioen ontvang wat byna net hul huur dek. Van der Merwe vertel dat sommige bejaardes selfs alleen op Kersdag sal wees aangesien hul kinders van hul vergeet en bloot nooit kom oplaai nie. Daarom wil die liggiehuis hulle ook bederf, al het hulle nie vooraf geregistreer nie.

Volgens Van der Merwe word die kospakkies reeds Saterdag aan die bejaardes uitgedeel waarna die gesinne hul pakkies Maandag moet ontvang, net betyds vir Kersfees. Die liggiehuis het egter net genoeg kruideniersware ontvang om 300 pakkies te pak. “As dit so aangaan, sal ons moet kies wie kry en wie nie. Hoe kies ʼn mens tussen kinders en bejaardes?

Foto: Facebook

“Dit is so hartseer. Daar is mense wat pas in Danville ingetrek het en kom vra het of hul ook kospakkies kan ontvang. Ons moes hul net so wegwys. Dit was ’n emosionele paar dae vir ons.”

Sy vertel vanjaar is dit die eerste keer in 24 jaar dat hulle nie genoeg kruideniersware ontvang het nie. Die liggiehuis kry geen borgskappe nie en is heeltemal afhanklik van die publiek se goedhartigheid en skenkings. “Ek dink die lewe raak ál duurder en mense kan nie meer so baie gee soos wat hulle gewoonlik kon nie. Almal gee wat hulle kan, maar hulle kry natuurlik self swaar.”

Van der Merwe doen nietemin ’n beroep op die publiek om kruideniersware te skenk. Alles van suiker, sout, melkpoeier, blikkieskos, konfyt, mieliemeel, rys, macaroni tot pakkies sop word dringend benodig. Geen kontant word aanvaar nie aangesien hulle wil hê dat mense sien waarnatoe hul geld gaan.

“Mense kan deur die dag kruideniersware kom aflaai of selfs in die aande na die liggies kom kyk en dit dan bring. Hier is altyd mense. Asseblief, ons sal dit so baie waardeer,” sê Van der Merwe.

Die Danville-liggiehuis is geleë in Millarstraat 134, Danville. Vir meer inligting oor hierdie projek besoek gerus die Faceboek-blad of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ella's ice machine ·

Mense sukkel self om kop bo water te hou sonder om nog vir ander te sorg. dis ongelukkig die lewe. Mense moet liewers na ou mense omsien en dan die res, loop soek werk.

zandra ·

wow……… nee jou naam sê dit beslis,
ek wonder wat sal jy doen as jy in so situasie kom?

Willem ·

Magtig ek stem saam Zandra. As jy nie self (nie eers 1 blikkie of iets nie) kan bydra nie miskien ken jy iemand wat kan. Wag vir daai dag dat jy met bak handjies staan dan sluk jy die woordjies gou gou in!

Amanda van der Merwe ·

Ek weet presies hoe Brenda van der Merwe hulle moet voel. Ek verskaf ook jaarliks aan verskeie minder bevoorregdes in Krugersdorp kospakkies en waar ek verlede jaar 600 mense se magies vol gehou het verlede jaar en aan baie kinders Kers geskenkies gegee het, het ek hierdie jaar, na baie smekinge nie eers een blikkie kos ontvang nie. Ek moes op my Facbook blad, Amandèri Charity Assit vir die mense omverskoning gaan vra omdat hulle hierdie jaar op ander mense moet staatmaak. Dit breek my hart want kinders MAG NIE HONGER LY NIE! Dit is my leuse. Ek is op moed verloor se vlakte maar verstaan dat die ekonomie nie die mense toelaat om net te gee sonder om eerste aan hul eie behoeftes te voldoen nie. Sterkte aan die mense in Danville. Ek bid vir julle.

Anoniem ·

Wat n wobderlike gebaar as ek naby was het ek beslus n skenking gedoen die HERE SAL VOORSIEN IN DIE GOEIE WERK WAT JUL DOEN

Ellie ·

Ella,s ice machine jy het seker nog nooit in jou lewe swaar gekry nie. My man het vier jaar gelede
sy werk verloor en kon net nie weer werk kry nie,
en hy is beslis nie te lui om te werk nie. Ek sê net dankie Vader ek het n goeie werk. Ek ken ook mense wat hardwerk maar die salaris is so min dit betaal net vir n bly plek nie eers geld vir kos nie. So almal wat nie het nie is nie te lui om te werk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.