Dapper Driehoek-seun vir gesogte prys benoem

Roydon Olckers. Foto: Facebook

Roydon Olckers (17), een van die slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie wat presies ʼn maand gelede die land geruk het, is benoem vir die gesogte Orde van Mendi-prys vir dapperheid omdat hy tydens dié voorval twee jonger leerders uit die pad gestamp het toe hy besef die brug waaronder hulle loop, gaan ineenstort.

Donovan Olckers, Roydon se pa, het aan Maroela Media gesê iemand het hom op Facebook genader en gevra of hulle Roydon vir dié prys kan benoem.

Die Orde van Mendi vir dapperheid is die hoogste eer wat deur die president van Suid-Afrika toegeken kan word.

“Die Orde van Mendi se goue medalje word toegeken aan individue wat uitsonderlike braafheid getoon het deur hul eie lewe in gevaar te stel, of wat dalk hul eie lewe verloor het, in ʼn poging om ander lewens of eiendom te beskerm,” beskryf die presidensie dié eer op hul webwerf.

Olckers het gesê hy het ingestem dat die persoon vir Roydon benoem, maar op voorwaarde dat hy God se naam daardeur kan verheerlik.

“As die proses my nie toegelaat het om God se naam te verheerlik, of om te sê ons is Christene nie, sou ek dit eerder gelos het. Ek glo God het ʼn groot deel uitgemaak hoekom Roydon besluit het om te doen wat hy gedoen het. As dit nie genoem mag word nie, wou ek dit eerder nie ondersteun nie,” het Olckers gesê.

“Hierdie ding gaan nie daaroor om Roydon se naam te verheerlik nie, dit is regtig nie waaroor dit vir ons gaan nie. Dit gaan oor God en hoe God sy karakter gebou het.”

Olckers het gesê hoewel hy trots is op Roydon se benoeming, dink hy nie al die krediet moet na hom gaan nie.

“My kind behoort nie aan my nie, elkeen se liggaam is ʼn geskenk van God af, of dit is hoe ek dit sien. Ons kinders is vir ons geleen, elke dag is geleen. Mense hou hulle besig met geldmaak, huise verf en karre koop, maar hoe meer ek in my godsdiens delf, hoe meer besef ek ons is net tydelik hier op aarde.

“Ek is bly Roydon het gedoen wat hy gedoen het. Hy het instinktief opgetree, dit is maar net die soort kind wat hy was. Ek is seker baie ander mense in dieselfde situasie, wat nie Christene is nie, sou ook so opgetree het, maar ek sal graag wil glo hy het dit gedoen omdat hy as Christenseun grootgemaak is – dit het ʼn groot deel uitgemaak van watter soort kind hy was,” het Olckers gesê.

Olckers het gesê Roydon was die soort kind wat altyd almal wou help.

“Hy was nie ʼn kind met een beste pel nie, hy was almal se pel. Hy het oral probeer om ʼn handjie by te sit, hy wóú mense help.”

Een maand is al verby sedert dié tragedie die Olckers-gesin se lewe onherroeplik verander het en Olckers erken dat dit steeds vir hulle swaar is.

“Dit is nog baie moeilik, ons vat dit dag vir dag en uur vir uur. Ek het kort ná Roydon se afsterwe gevoel of ek hom nie mis nie, want hy het nog so naby aan my gevoel. Maar dinge begin nou verander. Nou is die verlange sterk, ek verlang verskriklik na hom. Maar ek moet probeer positief bly hieroor; God verwag dit van my, ek kan nie ʼn negatiewe ding hiervan maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Naomi Berger ·

Sterkte weereens aan julle as gesin en die familie.
God is groot en so getrou. Mag julle berusting vind in die liefde en troos van Yeshua. Aan God al die eer en verheerliking.

Rika ·

Dit is so awesome om ten spyte van alles wat gebeur het, steeds jou geloof te hê, want op die einde van die dag, is dit die belangrikste. Ek glo dat God deur dit wat met jul as familie gebeur het, so baie mense se lewens aangeraak het. En ek kan net dink hoe vreeslik dankbaar daardie ander 2 kinders is om n 2de kans in die lewe te kry. Ek het beslis vir hom gaan stem. En as sy dade net 1 persoon se lewe verander het, net een persoon na God gelei het, glo ek dat hy dit so sou wou hê. Sterkte aan sy familie, julle kan so trots wees dat hy tot op sy laaste oomblik steeds aan sy medemens gedink het.

Martiens ·

Ek stem met vorige skrywers,vertrou u as familie nt op die Here en tot des ht hy u hulle gedra,dit mag nou donker in die tonnel wees,maar die lug gn weer sterk deurkom vir u-hulle,kleef aan u skepper,en sterkte vir u-hulle dis tragies wat gebeur ht

Gert J ·

Ek is verheug wanneer mense die Here so ken. Ons kan skatte op hierdie aarde bymekaar maak, en ryk word. Maar dis beter om ons skatte in die hemel te he waar gee dief is nie. Aarde is net die voorbereidings plek vir die ewigheid by God. Die Nuwe Jerusalem is ons finle blyplek. Berei nou voor. Wees gereed. Maranatha – Jesus kom spoedig

Nadi ·

Legens jy sal wel eendag sien dat jy tog verkeerd was. God is altyd Goed!!! en Sy Naam verdien om Groot gemaak te word en Hy verdien dit om geworship te word. as jy ‘n verhouding met Hom gehad het, sou jy dit verseker geweet he xox

Marie ·

Donovan…….dis nie negatief om te verlang nie…..dis menslik. Hy sal altyd onthou word.

ANA ·

??baie liefde en baie sterkte aan almal by hoërskool Driehoek?? VLIEG HOOG

??ALL GLORY UNTO HIM,jyt ñ Jesushart van goud gehad,Roydon?RIV

Lizette ·

Kan iemand my asb sê hoe stem n mens? Hierdie jongman is n ware held. ‘Geen groter liefde as om jou lewe v jou vriende af te lê’ soos d Woord sê. Hy het God se grootste gebod geleef. My dogter sê die drang om te leef is 1 vd sterkstes. Hy het dus heeltemal teen d natuur in d besluit gemaak om ander se lewe bo sy eie te stel. Glo hy gaan virseker n kroon in d hemel ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.